Die El Niño-weerverskynsel begin draai

reen
Volgens die Droogteverslag van Solidariteit word daar wyd erken dat die El Niño-weerverskynsel ‘n sleutelrol in die droogte speel.
Die verskynsel lei daartoe dat die temperatuur van die Stille Oseaan se oppervlakwater naby die ewenaar begin styg. Dit kom elke twee tot sewe jaar voor en volgens die Verenigde Nasies (VN) se noodlenigingsliggaam, die Kantoor vir die Koördinering van Humanitêre Sake, gaan “miljoene wêreldwyd geraak word”.
Die verskynsel het sedert Maart 2015 in krag toegeneem en groot verwoesting gesaai met droogtes in Afrika en vloede in die Noordelike Halfrond wat boere erg geraak het.
El Niño word gewoonlik verbind met ondergemiddelde reënval en bogemiddelde temperature tydens die middelsomertydperk van Desember tot Februarie in Suid-Afrika.
Omri van Zyl, uitvoerende direkteur van Agri SA, het die erns en uniekheid van die droogte in ‘n onderhoud op Litnet as volg opgesom: “Die droogtetoestand is soortgelyk aan die 1984-droogte wat skaal en omvang betref. In 1992 was daar ook ‘n redelik groot droogte wat die staat destyds R3 miljard gekos het. Kenners sê dit gebeur om en by elke 22 jaar.”
Die El Niño-weerverskynsel het heel moontlik sy hoogtepunt van 2015/2016 bereik sê die Amerikaanse Nasionale Lugvaart-en Ruimte-administrasie (Nasa).
Die warm water in die Stille Oseaan, wat die El Niño-weerverskynsel veroorsaak, begin nou afkoel.
“Warmer-as-gemiddelde waters in die oostelike tropiese Stille Oseaan behoort nou af te koel en weswaarts beweeg. Teen die Noordelike Halfrond se somer kan die tropiese Stille Oseaan weer in ‘n neutrale staat, of La Niña-verkoeling wees, soos dit gedoen het ná groot El Niño’s van die verlede,” het Landbou.com berig.
Volgens Nasa is daar steeds geen waarborge nie.
“Cobus Olivier, navorser by die SA Weerdiens, voeg by dat dit wil voorkom asof El Niño reeds in Desember sy piek bereik het. Dit kan glo nog vyf tot ses maande duur voordat dit neutraal word. Daar word derhalwe verwag dat ondergemiddelde reënval in die somerreëngebiede en bogemiddelde temperature steeds ondervind sal word.
“Daar is ook ‘n redelike moontlikheid dat die huidige El Niño later in die jaar gevolg kan word deur ‘n La Niña, wat met bogemiddelde reënval in die somerreëngebied gepaardgaan,” berig die Droogteverslag.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens voorspel dat die warm en droë toestande nog ten minste twee maande gaan voortduur voordat die herfsweer koel verligting gaan bring.
Die Droogteverslag bevat ook ‘n opsomming van die weerkenner, prof Peet Pienaar se reënverwagtinge vir die volgende paar maande:
Reën van: 10 tot 11 Februarie / 9 tot 12 Maart / 6 tot 8 April / 5 tot 6 Mei / 5 tot 8 Junie.
Besoek gerus Nasa se webtuiste vir meer inligting oor die El Niño-weerverskynsel: http://earthobservatory.nasa.gov/IOTD/view.php?id=87374&src=eoa-iotd
Bronne: landbou.com en Solidariteit se Droogteverslag