Categories: Artikels, HulpbronbestuurPublished On: 13th July 2026

Die belangrikheid en voordele van die gebruik van hommeltuie in makadamiaboorde: Beter waarmemings lei tot beter besluite

By 12 min read
2258 words

Hommeltuig2

Bron: Justin Hawley

“Hommeltuie interesseer my omdat dit vir boere ’n nuwe, gevorderde vlak van sigbaarheid bied. ’n Hommeltuig vervang nie die boer, landboukundige, konsultant of die persoon wat deur die boord stap nie. Dit help hulle egter om die plaas uit ’n ander perspektief te sien,” sê Ken Treloar, ’n wêreldkenner op die gebied van plantkunde, plaasbestuur en tegnologie.

Ken het ’n MBA-graad in besigheidsadministrasie en ’n BTech-graad in landskaptegnologie en tuinbou. Hierdie sterk akademiese grondslag het hom uiteindelik na die landboutegnologiese (AgTech) sektor gelei, en meer spesifiek na hommeltuiggebaseerde boordmonitering.

Hy is tans verbonde aan HolmStone (deel van die RusselStone-groep), waar sy werk hoofsaaklik fokus op hernubare energie, infrastruktuur en langtermynweerbaarheid vir landbou- en nywerheidsondernemings. “Boere het beter data, meer doeltreffende energiestelsels, doeltreffender waterbenutting, verbeterde logistiek en beter besluitneming nodig. Al hierdie aspekte vorm deel van die bou van sterker, meer volhoubare boerderyondernemings deur middel van landbou-tegnologiese innovasie,” sê Ken.

Hommeltuigtegnologie in makadamiaboorde

“Makadamias is uiters geskik vir die toepassing van hommeltuigtegnologie. Nie omdat hommeltuie tans gewild is nie. Nie omdat spuitwerk, opnames of kaarte indrukwekkend lyk nie. En beslis nie omdat boere nóg ‘n digitale verslag of beheerpaneel nodig het nie.

“Die kombinasie van hommeltuigkartering en makadamiaboorde is feitlik ideaal én uiters prakties. Makadamiabome is langtermyn-, hoëwaardebates wat kundige bestuur vereis. Kortliks: Elke boom maak saak.”

Volgens Ken kan ’n swak boom, ’n ontbrekende boom, swak dreinering, ’n verstopte besproeiingslyn, ongelyke kroonontwikkeling, herhalende plaagdruk of aanhoudende chlorose alles oor verskeie opeenvolgende seisoene ’n finansiële impak hê. “Selfs geringe verskille in boomprestasie kan uiteindelik groot verskille in neut-in-dop-opbrengs veroorsaak. As alle ander faktore dieselfde bly, is ’n hoë pitherwinningspersentasie en uitstekende pitgehalte van die belangrikste maatstawwe.”

Hommeltuigkartering

Ken sê al die tyd, moeite en hulpbronne wat aan reaktiewe regstellings bestee word, knaag uiteindelik aan winsmarges. Dit is juis waar hommeltuie hul praktiese waarde toon. Dit bied ’n nuwe vlak van sigbaarheid deur middel van kartering, asook meer doeltreffende maniere om gewasse te bespuit, lokaas toe te dien of dekgewasse te saai. “Ons sien tendense en patrone. Ons identifiseer variasies, waarskuwingstekens en uitskieters. Ons sien waar boorde eenvormig presteer, waar dit nie die geval is nie en waar daar ondergemiddelde prestasie voorkom.”

’n Mooi kaart is nie genoeg nie

Volgens Ken moet boere egter nie fokus verloor nie. “Die kern is nie die hommeltuig nie, maar die besluite wat daarop volg. ’n Mooi kaart is nie genoeg nie. Een van die grootste foute wat boere met hommeltuigdata kan maak, is om net op die kaart te fokus.”

Volgens hom kan ’n kleurvolle genormaliseerde- verskil-plantegroei-indeks(NDVI), genormaliseerde-verskil-rooirand-indeks (NDRE) en ’n RGB- (rooi, groen en blou) of termiese kaart baie nuttig lyk, maar die belangrikste vraag bly altyd: Wat nou? Dieselfde geld vir spuittoedienings. Waarom nie kolbespuiting of veranderlike toedieningstempo’s (VRA’s) toepas waar dit sin maak nie?

“Watter blok verg aandag? Watter bome is uitskieters? Watter sone moet eerste ondersoek word? Waar behoort blaar- en grondmonsters geneem te word? Watter besproeiingslyne moet nagegaan word? Waar moet opbrengs, kultivarprestasie, grondtipe, plaagdruk of snoeipraktyke vergelyk word?” vra Ken.

Volgens hom lei die vergelykende benutting van objektiewe brondata tot ingeligte besluite en doelgerigte opvolgstappe. Dit is ’n waardevolle benadering en juis waar hommeltuigdata ’n tasbare opbrengs op belegging vir produksiespanne begin lewer.

Van die grond af sien ons individuele bome, sigbare simptome en die
onmiddellike omgewing. Met hommeltuigkartering – waar ons die
boord vanuit die lug beskou – kry ons egter ’n heel ander perspektief.

Bron: Monique Heydenrych

Wat hommeltuie boere in makadamiaboorde kan wys

1. Inventaris van bome

Ken sê ’n hommeltuigopname bepaal hoeveel bome in ’n boord voorkom, waar bome ontbreek en waar leemtes ontstaan het. “Dit gaan nie bloot daaroor om bome te tel nie. Ontbrekende bome beteken verlore produksievermoë. In jong boorde help hierdie inligting met herplantingsbeplanning, die bepaling van oorlewingsyfers en die beplanning van bestellings by kwekerye. In draende boorde help dit boere om realisties te bepaal wat die produksiepotensiaal van ’n blok is.”

2. Kroongrootte en variasie in kroonontwikkeling

Die boomkroon vertel ’n verhaal. Ongelyke kroonontwikkeling kan dui op variasies in grondtoestande, dreineringsprobleme, die voorkoms van Phytophthora (genus van plantbeskadigende oömisete [waterswamme]), verskille in besproeiingsdruk, voedingswanbalanse, brandpunte van plaagdruk, windblootstelling en rypsakke.

“Al hierdie faktore kan op die een of ander manier in maatstawwe van die kroon se toestand weerspieël word, veral wanneer dit saam met ander hommeltuigdata ontleed word. Historiese bestuurspraktyke en kultivarspesifieke groeipatrone kan ook met opeenvolgende hommeltuigopnames oor tyd heen gemonitor word.”

Volgens Ken gee ’n hommeltuig nie die finale diagnose nie, maar dit wys wel waar die diagnoseproses moet begin. Dit is veral waardevol binne geïntegreerde boordbestuur. “’n Produktiewe makadamiaboord gaan nie net oor opbrengs in een seisoen nie. Dit gaan daaroor om die blok so lank moontlik in ’n produktiewe stadium te hou. Dit is uiteindelik ’n ‘volhoubaarheidspel’.

“Wanneer boomkrone te dig raak, verminder die lig tussen die boomrye, wortels kan blootgelê word, die indringing van spuitmiddels verswak en produksie kan begin afneem. Hommeltuiggebaseerde maatstawwe van die
boomkroon stel boere en bestuurders in staat om die toestand van boorde – en veranderinge daarin – vroegtydig en objektief te monitor.”

’n Hommeltuig vlieg oor makadamiaboorde (Bron: Verskaf)

3. Monitering van plantgesondheid en groeikragtigheid

Multispektrale data, insluitend indekse soos NDRE en NDVI, toon verskille in die toestand van boomkrone. Volgens Ken moet hierdie indekse egter met omsigtigheid geïnterpreteer word.

“’n Lae waarde dui nie noodwendig op ’n spesifieke siekte, voedingstekort of fout in die besproeiingstelsel nie. Dit identifiseer wel bome of sones wat anders as die res van die blok presteer. “Dit is uitskieters. Waarskuwingstekens.
Gebiede wat verdere ondersoek verg. Deur uitskieters te identifiseer, beweeg ons weg van algemene waarnemings na doelgerigte inspeksies.”

4. Insigte oor besproeiing en waterstres

Termiese data kan help om aan te toon waar transpirasiepatrone binne ’n boord van mekaar verskil. In die praktyk dui hierdie patrone dikwels op waterstres, oorbesproeiing, verstopte druppers of drukverskille in die besproeiingstelsel. Swak dreinering, vlak gronde of probleme in die wortelsone is ook moontlike oorsake. Makadamiabome is in ’n groot mate afhanklik van ’n gesonde, aktiewe wortelsone. Fyn wortels, grondvog, grondstruktuur, pH, organiese materiaal, dreinering en grondbedekking beïnvloed alles hoe doeltreffend ’n boom water en voedingstowwe kan opneem.

“Hommeltuigdata wys wat bogronds gebeur. Grondmonsters, besproeiingsrekords, grondkaarte en veldinspeksies help om die ondergrondse oorsake te verklaar. Daarom moet hommeltuigdata nooit in isolasie geïnterpreteer word nie.”

Fenologie is belangrik

Volgens Ken is tydsberekening van deurslaggewende belang in makadamiaproduksie. Hommeltuigopnames tydens blom, vrugset, vrugval, dopverharding, olieopbou of oes kan elk ’n ander verhaal vertel. “Dieselfde blok kan heeltemal anders lyk, afhangend van die kultivar, seisoen, oeslading, onlangse reënval, hittestres, snoei, besproeiingskedule en groeistadium. Daarom moet boere en bestuurders nie net vra: ‘Wat wys hierdie kaart?’ nie. Hulle moet ook vra: ‘Wat wys hierdie kaart op hierdie stadium van die seisoen?’ Tydsberekening is van kardinale belang.

“’n Swakker sone tydens blom kan byvoorbeeld vrugset beïnvloed. ’n Strespatroon tydens dopverharding of olie-opbou kan weer ander vrae laat ontstaan oor waterbestuur, voeding en oeslading. ’n Kroonkaart vóór snoei kan waardevolle inligting verskaf ten opsigte van onderhandelinge met kontrakteurs, besluite oor toegang tussen boomrye, die bestuur van grondbedekking, beplanning van toegangsroetes en die verbetering van spuitmiddelindringing. “Die werklike waarde van hommeltuigdata neem aansienlik toe wanneer dit strategies binne die makadamiaproduksie-kalender benut word.”

Doelgerigte monsterneming, boordinspeksies en plaagmonitering

Volgens Ken is makadamiaboorde selde eenvormig. Sommige bome groei sterker, ander swakker. Party boom
rye staan op effens ander grondtipes, sekere gedeeltes ontvang meer water, terwyl ander vinniger uitdroog. Sommige
sones is meer aan wind blootgestel, en verskille tussen kultivars kan blomtyd, vrugset, vrugval en oestyd beïnvloed.
Wanneer hierdie variasie nie tydens monsterneming in ag geneem word nie, kan die resultate misleidend wees.

“Hommeltuigdata maak doelgerigte monsterneming moontlik deur verteenwoordigende, swakker en sterker sones te identifiseer. Dit is waardevol vir blaarontledings, grondondersoeke, plaagmonitering, neuttellings, opbrengsberamings en die vergelyking van blokke. Dit verbeter ook boordinspeksies.

Volgens Ken is dit veral waardevol wanneer plae soos die makadamiaviltdopluis, stinkbesies, blaaspootjies of ander boordprobleme in plaaslike brandpunte begin ontwikkel. Hommeltuie vervang nie behoorlike plaagmonitering nie, maar help boere om hul aandag op die regte areas te fokus.

Opbrengs, gehalte en rekordhouding

Ken sê makadamiaboere dink in terme van neut-in-dop (NID), droë neut-indop (DND), verkoopbare pitherwinning (VPH), gehalte, kraakuitkoms (crackout) en die langtermynprestasie van blokke. Juis hier, meen hy, word die
potensiaal van hommeltuigdata nog nie ten volle benut nie.

’“’n Blok wat van die pad af goed lyk, is nie noodwendig die blok wat die beste presteer nie. ’n Groot boomkroon beteken ook nie outomaties ’n winsgewende boom nie. ’n Boom wat sterk lyk, kan swak dra, terwyl ’n kleiner
boom baie doeltreffend kan produseer. Die werklike waarde lê daarin om hommeltuigdata met opbrengsrekords, kultivar, boomouderdom, grondtipe, besproeiingsontwerp, snoeigeskiedenis en terugvoer van die verwerker te vergelyk.”

Volgens hom bied een opname slegs ’n moment-opname (wat die toestand op ’n spesifieke tydstip weergee), terwyl verskeie opnames oor tyd die rigting waarin ’n boord ontwikkel, aantoon. Ken beklemtoon dat die regte vrae gevra moet word.

“Is die swakker sone besig om uit te brei? Haal die jong bome die ouer bome in? Het die ingryping die gewenste resultaat gelewer? Sluit die boomkrone te vinnig? Verdwyn die grondbedekking tussen die skaduryke boomrye?
Onderpresteer dieselfde gebied elke seisoen? Dit is waar data werklik waardevol word.”

Van monitering tot doelgerigte toediening

Volgens Ken word hommeltuigdata werklik waardevol wanneer dit gebruik word om toedieningsbesluite te ondersteun. “Samevattend kan ’n hommeltuigopname swakker sones, sterker sones, gebiede wat onder stres verkeer, variasies in kroonontwikkeling, ontbrekende bome en moontlike besproeiingsverwante patrone identifiseer. Hierdie inligting ondersteun VTA’s, hetsy deur grondgebaseerde toerusting of, waar toepaslik en wetlik toelaatbaar, met
spuithommeltuie.

“In die praktyk kan bespuitings kolbespuiting, doelgerigte blaartoedienings, mikro-elementprogramme, plaag- of siektebeheer, of spesifieke boordtoedienings soos produkte vir sonbrandbeskerming insluit.” Ken sê die regte benadering hang af van die produk-etiket, die gewas se behoefte, die struktuur van die boomkroon, die tydsberekening, terreintoestand, die vereiste spuitbedekking en die vermoë van die operateur.

“Ek beskou spuithommeltuie nie as ’n algemene plaasvervanger vir konvensionele spuite of misblasers nie. Ek sien egter ’n duidelike rol vir hulle in presisietoedienings. Dit geld veral waar toegang moeilik is, grondtoestande uitdagend is, die terrein ongelyk is of waar slegs spesifieke gedeeltes van ’n boord behandeling benodig.

“Dieselfde beginsel geld vir saaihommeltuie. In jonger makadamiaboorde met oop ruimtes tussen die
boomrye kan hommeltuie ’n waardevolle rol speel in die vestiging van dekgewasse, veral waar toegang beperk is, tydsberekening krities is of nat grondtoestande die gebruik van konvensionele toerusting bemoeilik.

“Dekgewasse en lewende grondbedekking verbeter die grondstruktuur, beperk erosie, bevorder gesonder boordvloertoestande en dra by tot die biologiese funksionering van die produksiestelsel.

Van die grond af sien ons individuele bome, sigbare simptome en die onmiddellike omgewing. Met hommeltuigkartering – waar ons die boord vanuit die lug beskou – kry ons egter ’n heel ander perspektief.

Hommeltuigopnames vir data-ontleding (Bron: Monique Heydenrych)

Tegnologie moet die boer dien

“Kan dit my help om swakker bome te identifiseer? Kan dit my help om besproeiingsprobleme vroeër op te spoor? Kan dit monsterneming verbeter? Kan dit my span help om boordinspeksies beter te prioritiseer? Kan
dit snoeibesluite ondersteun? Kan dit vermorsing verminder? Kan dit opbrengs, gehalte of winsmarges beskerm?”

Volgens Ken neem ’n boer vandag besluite waarvan die volle uitwerking eers jare later sigbaar kan wees. Dit geld veral vir meerjarige gewasse soos makadamias. ’n Swak besluit oor aanplanting, besproeiing, snoei, dreinering,
voeding of plaagbeheer kan die boord se prestasie vir baie seisoene beïnvloed, terwyl ’n goeie besluit oor dekades heen waarde kan skep.

“Dit is waarom ek soveel respek vir die landbou het. Dit gaan nie net oor produksie nie. Dit gaan oor rentmeesterskap. Dit gaan oor besigheid. Dit gaan oor risikobestuur. Dit gaan oor wetenskap. En dan die belangrikste aspek: dit gaan oor mense.”

Moenie by die hommeltuig begin nie: begin by die probleem.

“Waar is my swakker bome?” is ’n beter vraag as “Kan ek ’n hommeltuigopname kry?” Net so is “Wat veroorsaak die
variasie in hierdie blok?” veel nuttiger as “Kan ek nog ’n kaart kry?”

Ek glo nie elke makadamiaprodusent hoef ’n hommeltuigdeskundige te word nie. Maar elke boer moet gemaklik wees om beter vrae aan tegnologie te stel.

“Goeie boerdery het nog altyd op deeglike waarneming berus. Hommeltuigtegnologie gee ons bloot nog ’n manier om waar te neem – ’n ander perspektief. En in makadamiaboorde, waar elke boom ’n langtermynbelegging is, lei beter waarnemings tot beter besluite.”

“Hommeltuie is nie ’n toweroplossing nie. Hulle snoei nie bome nie, herstel nie besproeiingstelsels nie, verbeter nie grondtoestande nie, beheer nie plae nie, verhoog nie pitherwinning nie en neem ook nie bestuursbesluite nie. Hulle wys bloot waar aandag eerste gevestig moet word,” sê Ken.

Ken Treloar is ’n skrywer, konsultant, spreker en strateeg wat op presisielandbou vir meerjarige gewasse fokus. Hy help boere en agri-besigheidspanne om hommeltuigdata korrek te interpreteer en die insigte daaruit doelgerig in die praktyk toe te pas. Sy werk is al op aanlyn platforms, in bedryfspublikasies en tydens konferensies en ander aanbiedings gepubliseer.

Ken Treloar.

As AgTechkonsultant spesialiseer hy in die implementering en interpretasie van hommeltuigdata, die evaluering van resultate, volhoubare produksiepraktyke en landbousakebestuur. Ken se eerste boek, Drone Data Metrics for Orchard Farming, help boere en bedryfsrolspelers om hommeltuiggebaseerde data op ’n praktiese manier te verstaan en te benut. Hy werk tans aan sy tweede boek, wat spesifiek op die gebruik van hommeltuie in makadamiaboord bestuur fokus. Nes sy eerste boek is dit daarop gemik om toeganklik, prakties en maklik toepasbaar te wees.

Stuur ’n e-pos aan Ken by agtech@kentreloar.com vir meer inligting oor die gebruik van hommeltuie in makadamiaboorde en oor vooraf-eksemplare van sy nuwe boek.

2

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

2