Delmas lewer die Graanboer van die Jaar

graan-sa-graanboer-van-jaar-2016
Jozua du Plessis van die plaas Middelbult by Delmas is aangewys as Graan SA se Graanprodusent van die Jaar. Die toekenning is op ‘n spoggeleentheid by Kyalami in Midrand oorhandig.
Jozua en sy vrou, Sonja, en twee van hulle seuns, Jozua junior en Chandré, boer met Bt-vrye mielies, sojabone, koring en aartappels. Saadvermeerdering van verskeie sojakultivars word ook onder besproeiing gedoen.
Met ontvangs van die toekenning het Jozua gesê al die boere van Suid-Afrika hoort saam met hom op die verhoog, omdat hulle deurdruk ten spyte van uitdagings soos die droogte en ekonomiese toestand.
Die toekenning is deur Antonie Delport, besturende direkteur van Syngenta Suid-Afrika, en Jaco Minnaar, voorsitter van Graan SA oorhandig. Syngenta is die hoofborg van die geleentheid.
In sy toespraak het Antonie gesê, “Ons staan voor buitengewone uitdagings, maar gelukkig het ons buitengewone boere.”
Die Nuwe Era Kommersiële Boer van die Jaar is ook aangewys. Hy is Frans Mokoena van Ladybrand. Hy verbou mielies en sonneblom op 2 200 hektaar.
Prof Sakkie Pretorius van die Vrystaatse Universiteit het die Inspirasietoekenning gewen vir sy volgehoue navorsing oor roes op koring en teling vir weerstand. Hy het gesê hy het al erkenning van ander instansies ontvang, maar om ‘n toekenning uit die bedryf te ontvang, is die beste.
