Categories: NewsPublished On: 8th July 2010

Daar’s-harde-arbeid-op-’n-aarbeiplaas-en-Toyota-se-D2.5D-staan-sy-man!

By 3 min read

Beter as die beste. Dit is die Toyota Hilux D2.5D, wie se byna onmoontlike taak dit is om ’n waardige opvolger vir die gewilde ou kanniedoodstaatmaker, die Hilux 2,4D, te wees.

Ook by Echo Berry Ventures se groot aarbeiboerdery naby Brits het die direkteure, Willem Buscop, Phillip Cox en Willem Strauss, geglo daar kan niks beter wees as die ou 2,4D-bakkies wat hulle al die jare so getrou gedien het nie.

By dié boerdery werk ’n bakkie hard. Verskillende bestuurders ry met hom en dis heeldag stop en ry en draai en tru met en sonder vragte tussen die verskillende lande en plase en dorp toe en terug – alles dinge wat enige mindere voertuig se dood is.

Boonop is die plaaspaaie dikwels vol klippe en middelmannetjies en soms vol spoelslote, en die teerpaaie met hulle slaggate is nog erger.

Geen wonder dat die aarbei­boere geglo het niks kan die werk uit die betroubare ou 2,4D se bekwame hande neem nie.

Hulle eerste D2.5D het hulle maar met ’n redelike mate van ongeloof aangeskaf. “Toe ek voel hoe daardie eerste een se deur so sag en suutjies soos ’n motorkar s’n toemaak, het ek maar redelik min hoop gehad dat die D2.5D ’n ware, harde boerebakkie kan wees,” erken Phillip.

Maar vandag weet hy beter as om hom deur ’n mooi ui­terlike en ’n deur wat netjies pas te laat flous. Nadat hulle hom deeglik beproef het, weet hulle: Die D2.5D is volstrek nie ’n sissietjiebakkie nie en ’n waardige opvolger vir die 2,4D!

So sterk het die D2.5D hom en sy vennote oortuig, dat die boerdery vandag reeds 6 van dié bakkies het, almal tweewielaangedrewe met ewenaarslot.

En hulle moet erken: Die D2.5D ry darem vinniger as die tydsame oumeneer – hy haal en hou 150 km/h!

En ten spyte van sy krag en spoed is sy dieseldors ook kleiner: Met die 2,4D moes jy baie mooi ry om 10 km/l te behaal, maar enigeen kan die nuweling ry soos hy wil en selfs meer kilometer per liter kry.

Hy ry ook sagter as die 2,4D, miskien omdat hy ’n bietjie hoër is, maar hy laai lekker en dra dapper, erken Willem. En hy bestuur ook lekker.

En na al die grondpad en slaggatpad is daar nog geen teken van ’n geratel nie, voeg Phillip by. En die deure maak nog steeds sag en netjies toe.

Hulle gevolgtrekking: “Ons moes dit verwag het, want Toyota is trots op hulle produkte. Dis hoekom ons in Toyota glo. Trokke, bakkies, motorkarre en alle voertuie ingesluit het ons immers 22 Toyotas in ons boerdery.”

So, Toyota het die onmoontlike reggekry: ’n beter kanniedood werkbakkie as die 2,4D gemaak! En vir dié wat bekommerd was, smaak Echo Berry Ventures se aarbeie sommer soeter!

Gaan kyk maar self by jou naaste Toyota-handelaar.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0