D-Dag vir Suid-Afrikaanse soutregulasies

sout
Daar gaan voortaan minder sout in verwerkte voedsel in Suid-Afrika wees, want die regering het pas nuwe soutregulasies in werking gestel.
Die Heart en Stroke-stigting sê Suid-Afrikaners se eetgewoontes moet verander. “Die nuwe wetgewing om sout te verminder in verwerkte voedsel het op 30 Junie 2016 in werking getree.” Die stigting sê die regulasies bepaal byvoorbeeld dat twee snye brood se soutinhoud van 650 mg tot 400 mg moet verminder. ‘n Porsie ontbytgraan se soutinhoud moet van 500 tot 100 mg verminder.
Ander kos wat geraak is, is margarien, botter, southappies‚ aartappelskyfies‚ verwerkte vleis‚ wors‚ sop, souspoeiers en kitsnoedels.
Die wysiging aan die voedselregulasies is al in Maart 2013 in die Staatskoerant gepubliseer. ‘n Drie-jaar inwerkstellingsperiode is toegestaan om vervaardigers tyd te gee om te eksperimenteer met die herformulering en produsering van laer soutprodukte wat steeds aanvaarbaar is vir verbruikers.
Suid-Afrikaanse verbruikers sit gemiddeld vier gram sout in hulle kos wat hulle by die huis maak. Dit is naby aan die WHO(World health organization) se limiet van vyf gram per dag.
Baie voedsel is nie in die wetgewing ingesluit nie. Gesoute grondboontjiebotter bevat 800 keer meer sout as die ongesoute variëteit.
Te veel soutinname kan bloeddruk verhoog, wat na ‘n hartsiekte, beroertes en nierprobleme kan lei.
Die groot vraag is of organisasies hulle sperdatum bereik het en of die kos op ons rakke regtig ‘n laer soutinhoud het.
Sibonile Dube van Unilever SA sê: “Al ons produkte wat na Junie 2016 vervaardig word, sal 100% aan die soutregulasies voldoen. Daar sal steeds ouer voorraad wees, maar ons kan verbruikers verseker dat ons die teikens behaal het.”
Le-Anne Engelbrecht, handelsmerkbestuurder by SASKO brood, stem saam: “SASKO werk hard om aan te pas by die soutregulasies en is goed op dreef om hulle teikens te bereik.”
Bron: Health24 en foodstuffsa