Categories: Crop productionPublished On: 9th March 2016

CLAAS groei oor goeie diens

By 3 min read
611 words

CLAAS

“CLAAS het nuut hier ingekom en hulle doen dinge net anders. Hulle buig agteroor om ‘n ou tegemoet te kom en uiteindelik gaan dit oor dienslewering,” gesels Japie Bornman van Bultfontein in die Vrystaat. Hy is een van die groep boere wat op ‘n spoggerige geleentheid in die CLAAS-handelaar op Bultfontein, Mega Agri, se opgetooide werkswinkel sy splinternuwe stroper in ontvangs geneem het.

Die hele dorp het letterlik gebewe van opwinding toe die reuse Lexion-, Lexion Terratrac- en Tucanostropers oor die hoofstraat gebrul het om netjies in gelid voor Mega Agri se moderne nuwe kantoor aan te tree vir die okkasie. Geen moeite is ontsien om die geleentheid spesiaal te maak nie met kunstig opgemaakte tafels kreunend onder eetgoed, tuisgebroude “stroper”-bier, ‘n laaigraaf vol koue koeldrank en die hele CLAAS-familie uit die kontrei om die nuwe CLAAS-eienaars te verwelkom.

Geen moeite is ontsien om die oorhandigingsgeleentheid by Mega Agri se kantoor op Bultfontein spesiaal te maak nie.

Geen moeite is ontsien om die oorhandigingsgeleentheid by Mega Agri se kantoor op Bultfontein spesiaal te maak nie.

Michael Howell, verkoopsbestuurder van CLAAS, het al die pad van Oos-Londen af gekom om die geleentheid by te woon. Hy het die manne van die Mega Agri-groep, Dirk Pretorius en sy pa, Willie, en Chris Botha, geluk gewens met die prestasie om binne een jaar CLAAS se grootste handelaar in die land te word. Oom Willie was ontroer toe hy vertel het dat daar ‘n jaar gelede nog niks was waar alles nou gebeur nie. Chris Botha sê met die droogte in die streek is dit net genade dat hulle die boere kon help om by hulle ooreenkomste vir die aankoop van die stropers te hou. Dirk Pretorius het die boere bedank vir hulle ondersteuning en hulle verseker dat hulle nou eienaars is van die beste stropers op die mark. Gerrie Oosthuizen is ‘n boer in die omgewing wat al ‘n paar jaar gelede sy oë in die CLAAS-koers gedraai het.

ProAgri het by hom op die plaas gaan uitvind waarom. “Dis maklik,” sê hy. “Daar is niks op die mark wat met die nuwe CLAAS-stropers vergelyk wat kapasiteit, brandstofbesparing, werkspoed, skoonstroop, netjiese hantering van enige graan en veelsydigheid betref nie. Ek kan teen 14 kmu stroop en die siwwe kan dit hanteer.” Hy sê ook daar is voordele soos die gerief om enige verstelling vanuit die kajuit te doen; selfs om tussen mielies en koring te wissel, want met goukoppel- tegnologie onthou die stroper al sy vorige verstellings. “Die grootste voordeel is egter die uitstekende dienslewering van Chrishulle by CLAAS. Ek kan nege-uur die aand bel en weet hulle sal my help. Daar is nie so iets soos ‘n CLAAS-trekker wat bly staan nie. As daar ‘n probleem is bring hulle ‘n ander een sodat my werk kan voortgaan,” vertel Gerrie.

Amanda en Japie Bornman neem solank ‘n tafelweergawe van hulle nuwe Tucano 480 in ontvangs. Die Mega Agri-manne in blou is Dirk Pretorius, Willem Jonker en Chris Botha.

Amanda en Japie Bornman neem solank ‘n tafelweergawe van hulle nuwe Tucano 480 in ontvangs. Die Mega Agri-manne in blou is Dirk Pretorius, Willem Jonker en Chris Botha.

Voor: Theuns Bouwer, Willem du Plessis, Willem Milne, AC van Wyk Middel: Piet van Rensburg Agter: Michael Howell (CLAAS), Jan Earle, Ben Bamberger (CLAAS), Japie Bornman, Jan en Christoff du Toit en Marc Carter (CLAAS Duitsland).

Voor: Theuns Bouwer, Willem du Plessis, Willem Milne, AC van Wyk
Middel: Piet van Rensburg
Agter: Michael Howell (CLAAS), Jan Earle, Ben Bamberger (CLAAS), Japie Bornman, Jan en Christoff du Toit en Marc Carter (CLAAS Duitsland).

Dis mos lekker! Willem du Plessis is nie bietjie trots op sy nuwe Lexion 750 nie.

Dis mos lekker! Willem du Plessis is nie bietjie trots op sy nuwe Lexion 750 nie.

Gerrie Oosthuizen van Bultfontein sê met die beste stroper en die beste ondersteuningspan van Mega Agri, CLAAS se handelaar in die omgewing, agter hom, kan hy net vorentoe boer.

Gerrie Oosthuizen van Bultfontein sê met die beste stroper en die beste ondersteuningspan van Mega Agri, CLAAS se handelaar in die omgewing, agter hom, kan hy net vorentoe boer.

Om deel te word van die groeiende CLAAS-familie in die streek, skakel Chris Botha by 082-801-5484, 051-853-1025 of stuur ‘n e-pos na chriswhappa@yahoo.com. Skakel Kempston Agri by 043-703-3100, of stuur ‘n e-pos na michael.howell@kagri.co.za of etienne.vanwyk@kagri.co.za vir meer inligting oor al Claas se produkte.

0
Tags:

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0