Bulle wat die toekoms bou: Die belangrikheid van bulseleksie by Buckridge Bonsmaras

BF 21 233
BF 21-233.
Die keuse van die regte bul is een van die belangrikste besluite wat ’n Bonsmara-boer kan neem. By Buckridge Bonsmaras is bulseleksie nie sommer net ’n taak nie, dit is ’n doelgerigte kuns. Met ’n sterk fokus op genetiese uitnemendheid, funksionele aanpasbaarheid en langtermynproduktiwiteit, speel elke bul ’n deurslaggewende rol in die bou van ’n beter kudde en die versekering van volhoubare winsgewendheid.
Die bul se impak oor generasies
Bulle beïnvloed die kudde veel meer as wat baie mense besef. Terwyl ’n koei jaarliks net een kalf produseer, kan ’n bul tussen 35 en 50 kalwers per jaar lewer. Dit beteken dat die genetiese invloed van ’n enkele bul wyd en langdurend voelbaar is, ’n faktor wat die toekomstige prestasie en genetiese samestelling van jou kudde bepaal.
Frans Seevinck, eienaar van Buckridge Bonsmaras verduidelik: “Wanneer ’n bul aangekoop word, kan dit maklik meer as drie jaar duur voordat sy volle bydrae aan die kudde gesien word. Eerstens word die kalwers ná ’n jaar geëvalueer. Daarna begin die vroulike nageslag reproduseer, en eers wanneer daardie kalwers gespeen is na sewe maande, kan ons die impak van die bul ten volle meet.” Geduld is die sleutel, hierdie resultate kan nie gejaag word nie.
Genetika en teelwaardes
Die suksesvolle keuse van ’n bul begin by genetika. “Bloedlyne en stambome is van kardinale belang om te verseker dat die bul die gewenste eienskappe aan sy nageslag sal oordra,” sê Frans. By Buckridge word teelwaardes noukeurig geanaliseer om die kudde se groei- en vrugbaarheidsdoelwitte te ondersteun. Dit gaan nie net oor die bul van vandag nie, maar oor die gesondheid en produktiwiteit van die kudde vir jare vorentoe.
Sleuteleienskappe van Buckridge-bulle
Buckridge Bonsmaras kies bulle wat funksioneel doeltreffend is. In die Kalahari, waar beweeglikheid ’n vereiste is, moet bulle gemaklik kan beweeg sonder om stres op die kudde te plaas. Ander prioriteite sluit in karkasgehalte, vleisdraende eienskappe, goeie konformasie, gesondheid en temperament.
“Ons het ’n bulbestuursprogram saam met ons veearts ontwikkel. Bulle word gereeld ingeënt, ontvang prikkelvoeding, en nuwe bloedlyne word strategies ingebring deur genomiese toetse en beplande parings,” sê Frans.
Evaluering en sertifisering
Elke bul wat op ’n veiling aangebied word, ondergaan ’n streng keuringsproses. Data, kraalverslae en genetiese evaluering help om sterk- en swakpunte te identifiseer. Prestasietoetsing en sertifisering, insluitend vrugbaarheidstoetse deur veeartse, is nie opsioneel nie, elke bul moet ’n geldige vrugbaarheidsertifikaat hê.
Bulle om te merk op die komende produksieveiling
SFM 23-13

SFM 23-13 kom uit die SYF Molopo- embrio-program. ’n Vroegryp bul met uitstekende balans, breedte, diepte en kapasiteit met ’n baie goeie middelstuk, veral goeie sprong van rib. Hy het goed gebalanseerde seleksiewaardes – rondom 100 met ’n uitstekende groeiwaarde van 120. Sy ma was ’n uitstekende “golden oldie”-koei uit die Syferfontein-kudde. Sy vaar is die bekende SYF 17-256 wat reeds diep spore in verskeie kuddes getrap het, onder meer Buckridge.
SFM 23-12

SFM 23-12 is die volbroer van SFM 23-13 uit ons embrio-program. Hy is ’n bul met besonderse kapasiteit, diepte en balans – asook goed gebalanseerde seleksiewaardes.
BF 23-201

BF 23-201 is ’n donkerrooi bul met goeie balans, mooi toplyn en ook stertwortel-aanhegting. Hy is ’n funksioneel korrekte bul met goeie skede en testes. Hierdie myostatin- normale bul het ’n kalwingsgemak van 121, wat hom uiters geskik maak om verse mee te dek. Sy pa is die staatmaker SYF 17-256 en sy ma BF 14-416, ’n besonderse vrugbare koei met ’n tussenkalfperiode (TKP) van 370, oor agt kalwers.
BF 23-17

BF 23-17 is een van die heel mooiste SYF 17-256-seuns wat ons nog geteel het uit die Buckridge-kudde. Hy is ’n vroegryp-bul met uitstekende balans, diepte en kapasiteit. Sy ma, BF 20-196, is ’n dogter van V 15-338 geteel deur Hannes van den Berg – V 15-338 het ook ’n groot impak op die Buckridge-kudde gemaak.
Hierdie vier bulle is almal seuns van SYF 17-256. SFM 23-13 en SFM 23-12 is volbroers uit die SYF Molopo- embrio-program.
Kliëntediens en toekomsvisie
Buckridge Bonsmaras glo dat die aankoop van ’n bul net die begin is. Hulle ondersteun kliënte deur persoonlike navrae en plaasbesoeke. “Bulle speel ’n kritieke rol in die genetiese verbetering van kuddes. Ons doel is om bulle te teel wat funksioneel doeltreffend is, met hoë karkas- en vleiswaardes. Volgehoue verbetering en ekonomiese volhoubaarheid vir ons kliënte bly altyd sentraal,” deel Frans.
Raad aan beesboere
“Die regte bulkeuse lê die grondslag vir ’n suksesvolle en volhoubare boerdery. Kies ’n bul wat by jou kudde se behoeftes pas, en jy sal oor generasies gesonde groei en verbeterde kuddeprestasie sien,” sluit Frans af.