Brandstofpryse sal verder in Februarie styg

brandstof
Deur Fanie Brink, Onafhanklike Landbou-Ekonoom
Brandstofpryse sal verder in Februarie styg volgens die jongste inligting van die Departement van Energie wat vandag bekend gemaak is. Hiervolgens kan die prys van petrol 93 (ULP & LRP) in Gauteng op Woensdag, 1 Februarie moontlik met 31,3c per liter en die prys van diesel met ‘n 0,005% swaelinhoud met 24,0c per liter styg.
Die redes vir hierdie prysstygings kan nog hoofsaaklik aan die heelwat hoër internasionale ru-olieprys toegeskryf word nadat die lede van die Organisasie vir Petroleumuitvoerlande (OPUL), asook die 11 lande wat nie lede van die organisasie is, op 10 Desember 2016 uiteindelik ‘n ooreenkoms bereik het om hulle produksie van ru-olie met 1,8 miljoen vate per dag te verminder. Die ooreenkoms het op 1 Januarie 2017 vir 6 maande lank in werking getree.
Die olieprodusente het Sondag na ‘n vergadering in Wenen, Oostenryk bevestig dat die ooreenkoms baie goed nagekom word en dat die betrokke olielande alreeds 1,5 miljoen vate per dag of meer as 80% van hulle gesamentlike teiken uit die mark verwyder het.
Die verdere styging in die prys van Brent ru-olie tot $58 per vat en die gevolglike hoër internasionale pryse van petroleumprodukte hierdie maand het sover stygings van bykans 42,1c per liter in die plaalike petrolprys en 34,6c per liter in die dieselprys veroorsaak. Die versterking van die R/$-wisselkoers oor die afgelope maand het ‘n verlaging in die plaaslike petrolprys van 10,8c per liter en 10,6c per liter in die dieselprys gehad.