Brande word ‘n warm probleem
Foto: BBC News – In pictures: Australia’s ferocious bushfires |
Klimaatsverandering kan aanleiding gee tot groter en meer veldbrande as wat tot dusver gesien is, veral in Afrika.
Die toename in brande is een van die onderwerpe wat by die Wildfire 2011-konferensie bespreek gaan word. Die konferensie word van 9 – 13 Mei by Sun City gehou. Die tema is: “Leef met vuur – die hantering van klimaatsverandering deur geïntegreerde brandbestuur.”
‘n Kanadese navorser, Mike Flannigan, gaan die resultate van navorsing oor die verband tussen brande en klimaatsverandering bespreek, asook die voorspellings vir verskillende kontinente en lande.
Daar word wêreldwyd ‘n toename in die aantal brande en grootte van brande verwag, maar dit sal verskil van streek tot streek. Lande soos Duitsland en Frankryk sal byvoorbeeld na verwagting minder brande hê.
Navorsers meen dat wêreldwye vroeë waarskuwingstelsels sal kan help om te voorspel waar en wanneer brande kan ontstaan. Die meeste brande word egter deur mense veroorsaak en die navorsers sê baie meer inligting is nodig oor die rol van regeringsbeleid en die gedrag van mense met betrekking tot brande.
Die konferensie word deur AfriFireNet gereël, met ondersteuning deur die Suid-Afrikaanse regering en die Verenigde Nasies. Besoek www.wildfire2011.org vir meer inligting.