Categories: Artikels, Vee en WildPublished On: 20th December 2023

Biosekerheid kan boere maak of breek

By 9 min read
1654 words

nature-animals_1122-1995

Verskeie dieresiektes, insluitend bek-en-klouseer onder beeste, Afrika-varkpes en voëlgriep onder hoenders, het vanjaar in Suid-Afrika voorgekom.

Indien behoorlike biosekerheids-maatreëls in plek was, die nodige entstof beskikbaar was en die landsgrense minder deurlaatbaar was, sou die verspreiding van die siektes waarskynlik voorkom of minstens beperk kon word.

Hierdie uitbrekings het ernstige nadelige gevolge vir landbou en gepaardgaande werksgeleenthede, voedselsekerheid en die ekonomie van die land omdat produksie afneem, die siek diere van kant gemaak moet word en uitvoere nie kan plaasvind om buitelandse valuta te verdien nie.

Volgens die opgedateerde bek-en-klouseer-verslag deur die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling se direktoraat van Dieregesondheid, versprei deur die Nasionale Dieregesondheidsforum (NDGF), is daar tans 172 uitbrekings by die Internasionale Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (WOAH) aangemeld, terwyl 42 uitbrekings as afgehandel beskou word.

Die eerste uitbreking het in Mei 2021 in KwaZulu-Natal en in beperkte mate in die Vrystaat plaasgevind. Die tweede uitbreking het in Maart 2022 in Limpopo en Gauteng voorgekom, terwyl die derde uitbreking ook in Maart 2022 in Noordwes, Gauteng, Mpumalanga en die Vrystaat voorgekom het. Dit was die eerste keer dat die siekte so wyd verspreid voorgekom het, en die nasionale en provinsiale Departemente van Dieregesondheid doen alles in hulle vermoë om die uitbreekvoorval af te sluit by die WOAH.

Op 4 November 2023 het nog ՚n moontlike uitbreking in Noordwes langs die Botswanagrens voorgekom. Die indeksplaas, die oorspronklike plaas waar dit vermoedelik voorgekom het, en ՚n buurplaas is in kwarantyn geplaas en die voorkoms word ondersoek.

Invloed van uitbrekings op boerdery

Die invloed van hierdie uitbrekings raak die bees-, skaap-, vark- en hoenderboere se inkomste.

BEESVLEIS: Die beesvleisbedryf maak ՚n aansienlik deel uit van die land se landbou-ekonomie en het die vermoë om nuwelinge tot die landbou te laat toetree. In 2022 het dit 1% van landbou-uitvoere ter waarde van US$151-miljoen beloop, selfs nadat die uitvoer van beesvleis met 12% afgeneem het.

SKAPE: Die wolbedryf is ook geraak omdat Sjina, die grootste mark (70%) vir Suid-Afrikaanse wol, die invoer van wol vir vyf maande lank verbied het. Dit het gelei tot ՚n 21%-afname met ՚n verlies van US$337-miljoen in die uitvoer van wol. Desnieteenstaande het die uitvoer van wol steeds 3% van die land se totale uitvoerwaarde van US$12,8-miljard beloop.

VARKE: In Januarie 2023 het Afrika-varkpes op ՚n plaas in Gauteng uitgebreek. Die plaas en ՚n naburige plaas is in kwarantyn geplaas en die Provinsiale Veeartsenykundige Dienste het probeer naspeur waar die besmetting vandaan kon kom. Uiteindelik is plase in Gauteng, Noordwes en die Vrystaat ook in voorlopige kwarantyn geplaas. Tot dusver is die bron van besmetting steeds nie opgespoor nie. Dit is kommerwekkend dat die siekte op ՚n plaas met goeie biosekerheidsmaatreëls in ՚n gebied wat voorheen vry van die siekte was, voorgekom het.

HOENDERBEDRYF: Meer as 100 kommersiële hoenderplase is vanjaar deur ՚n uitbreking van twee tipes voëlgriep geraak. Braaikuikens sowel as lê-henne word geraak en al het dit tot dusver nie gelei tot ՚n ernstige tekort aan vleis of eiers nie, het laasgenoemde se prys opgeskiet – ՚n onkoste wat vuisvoos verbruikers nouliks verwelkom.

Meer as ‘n 100 kommersiële hoenderplase is vanjaar deur ‘n uitbreking van tweetipes voëlgriep geraak en hoenderboere moet streng biosekerheidsmaatreëls toepas om die verspreiding te keer.(Bron: Pixabay)

Wie se verantwoordelikheid is biosekerheid?

Op nasionale vlak is die staat verantwoordelik vir die beheer van biosekerheid in die land. Daar moet beheer wees oor die invoer en uitvoer van alle lewende diere. Die staat moet verseker dat ingevoerde diere gesond en vry van siektes en besmettings is.

Beheerde siektes, soos hondsdolheid, slenkdalkoors, brusellose en tuberkulose, word deur die staat beheer. Hierdie siektes kan van diere na die mens oorgedra word en word soönoses genoem. Bek-en-klouseer hou nie ՚n gevaar vir mense in nie. “Bek-en-klou-seer is ‘n beheerde siekte wat slegs deur die departement aangemeld kan word. Ons help slegs om die amptelike kommunikasie uit te stuur na die rolspelers,” verduidelik Marzanne Roets van die NDGF.

Die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling is verantwoordelik daarvoor dat wetgewing gemaak en toegepas word. Indien biosekerheid nie opgeskerp word nie, gaan dit boere – en die staat– duur te staan kom, en veral klein- en opkomende of ontwikkelende boere wat dit die minste kan bekostig gaan die spit afbyt. Opkomende boere is verantwoordelik vir 18% van die produksie van wol, 13% van die sybokhaar, en 34% van die beesvleis.

Dit is ook noodsaaklik dat die regering sorg dat entstof vervaardig word en/of die private sektor toelaat om dit te doen.

Daar is ook ՚n dringende tekort aan veeartse en dieregesondheidstegnici.

Dit is die regering se verantwoordelikheid om te sorg dat die land se grense onderhou word om te voorkom dat besmette vee en wild nie vanuit buurlande kan inkom nie.

“Die private sektor verstaan as die staat moontlike tekorte aan kapasiteit en bronne ondervind en daarom is hulle besig om op nasionale, sowel as provinsiale vlak die Direktoraat van Dieregesondheid by te staan,” sê Marzanne.

“Die NDGF is tans saam met hulle lede en ander rolspelers, en saam met die Departement, besig om die huidige stand van siekte-uitbrekings onder beheer te bring en sal in die komende jaar ՚n groter bydrae lewer.”

Dit is die boer se verantwoordelikheid om seker te maak dat die diere op sy plaas gesond bly deur voorkomend teen siektes op te tree. (Bron: Pixabay)

Boere se verantwoordelikheid

Op die plaas is dit die eienaar se plig en verantwoordelikheid om biosekerheid toe te pas. Kry ՚n program in plek wat vir die volgende aspekte voorsiening maak:

  • Daar is entstowwe beskikbaar teen siektes soos onder meer knopvel-siekte, bloutong en Afrika-perdesiekte wat die eienaar self volgens ՚n inentingsprogram kan toedien. As die diere in goeie kondisie is en teen siektes ingeënt is, sal hulle spesifieke immuniteit teen daardie siektes opbou.
  • Sorg vir ՚n behoorlike voedingsprogram, want gesonde diere het meer weerstand teen siektes. Sorg vir skoon water, bied beskerming teen die elemente, en beheer interne en eksterne parasiete.
  • Diere ervaar baie spanning wanneer dit baie droog of te nat is, of in kalf- of lamtyd of wanneer die diere gespeen word. Voldoende voeding en skuiling kan help om die spanning te verminder. Verminder die vee wanneer dit droog is om te verseker dat ՚n kernkudde kan voortbestaan.
  • Inspekteer jou diere sodat jy dadelik opmerk as een siek lyk. Isoleer siek diere en behandel so gou as moontlik. As jy nie seker is nie, raadpleeg ՚n veearts.
  • Maak seker dat die diere gesond is voordat jy vee aankoop. Kry ՚n verslag van die veearts in die gebied waar jy die vee koop, asook in die gebied waarheen jy die diere neem.
  • Maak seker jy skuif nie besmette diere na ՚n nuwe kamp nie, of skuif nie gesonde diere na ՚n besmette kamp nie.
  • Hou nuwe diere vir drie weke afgesonder sodat enige onderliggende siektetoestand na vore kan kom voordat jy die nuwe diere by die kudde voeg.
  • Dooie diere moet begrawe of verbrand word, want karkasse in die veld kan die siekte verder versprei.

‘n Gebrek aan entstof teen Afrika-perdesiekte hou ‘n ernstige bedreiging in en dit is die regering se verantwoordelikheid dat entstof vervaardig word, of dat die private sektor toegelaat word om dit te doen. (Bron: Pixabay)

Gevolge van gebrekkige biosekerheid

  • Gebrek aan voldoende biosekerheidsmaatreëls lei tot verliese, nie net van vee nie, maar ook finansieel.
  • Die uitbreek van siektes ruk jou sak weens verlies aan inkomste uit die vee, en opskorting van handelsooreenkomste en beperkende maatreëls op die beweging en uitvoer van vee en veeprodukte.
  • Hoër produksiekoste weens bykomende biosekerheidsinfrastruktuur en maatreëls, die koste van ՚n veearts en medikasie, asook die vernietiging van siek diere volgens protokol, lei tot laer winsgewendheid vir die boer.
  • Voedselsekerheid weens laer of geen produktiwiteit lei tot tekorte wat hoër pryse tot gevolg het.
  • Langtermyn volhoubaarheid word gestriem omdat dit al moeiliker raak om ՚n siekte onder beheer te bring as gevolg van weerstandigheid teen entstof en medikasie.
  • Biosekerheid kan nie in afsondering werk nie – dit is ՚n spanpoging van alle boere, die staat, dieregesondheidsdienste en die private sektor.

Daar is tans 172 uitbrekings van bek-en-klou-seer in Suid-Afrika by die Internasionale Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (WOAH) aangemeld, terwyl 42 uitbrekings as afgehandel beskou word. (Bron: Pixabay)

Kyk nou uit vir die volgende siektes

Volgens Marzanne moet boere nou oplet na die volgende siektes wat in die reënseisoen voorkom en waarvoor almal in Augustus tot Oktober moes geënt het: bloutong, Afrika-perdesiekte, slenkdalkoors, knopvelsiete, driedae-stywesiekte en die voorkoms van parasiete.

Afrika-varkpes bedreig nie net kommersiële varkboere nie, maar veral ook kleinboere wat nie die nodige biosekerheidsmaatreëls in plek het nie. (Bron: Pixabay)

Kontakbesonderhede: Vir meer inligting, kontak Marzanne Roets van die Nasionale Dieregesondheids-forum (NDGF) by admin@nhaf.co.za.

Verwysingsbronne

Agriculture, Land Reform and Rural Development announces new outbreak of African Swine Fever in Gauteng (2023) https://www.gov.za/speeches/african-swine-fever-27-jan-2023-0000

Biosecurity measures can reduce the risk of avian influenza in  farmer flocks (2021) Bizcommunity https://www.bizcommunity.com/Article/196/650/215856.html

Du Preez, J.H. (2009) Biosekuriteit in die veebedryf Geskryf op 24 Februarie 2009. https://www.landbou.com/landbou/Kundiges/vra-vir-faffa/Biosekuriteit-in-die-veebedryf-20180418

Foot and Mouth Disease outbreak report 2021-2023. NAHF https://nahf.co.za/wp-content/uploads/2023/11/2023-11-03.FMD-full-report.pdf

Masiwa, D. (2022) Breaking: China unbans SA wool imports. Food for Mzansi. https://www.foodformzansi.co.za/breaking-china-un-bans-sa-wool-imports/#:%7E:text=China%20has%20lifted%20its%205,foot%2Dand%2Dmouth%20disease%20outbreaks&text=After%20five%20anxious%20months%20of,industry%20can%20finally%20breathe%20again.

Njau, E.P., Machuka, E.M., Cleaveland, S., Shirima, G.M., Kusiluka, L.J., Okoth, E.A., Pelle, R. (2021) African Swine Fever Virus (ASFV): Biology, Genomics and Genotypes Circulating in Sub-Saharan Africa. National Library of Medicine. Bas B. Oude Munnink, Academic Editor, Marietjie Venter, Academic Editor, and Luisa Barzon, Academic Editor Viruses. 2021 Nov; 13 (11): 2285. Published online 2021 Nov 15. doi: 10.3390/v13112285 https://www.ncbi.nlm.nih.gov/pmc/articles/PMC8623397/

Sihlobo, W. (2023) Diseases on farms in South Africa: Recent outbreaks point to weaknesses in the system. Agribusiness https://www.bizcommunity.com/Article/196/741/243743.html

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0