Boere in Nood red duisende dierelewens

boere in nood 7
‘n Skitterende voorbeeld van saamstaan, wat reeds die lewe van duisende plaasdiere tydens die knellende droogte gered het, is die organisasie, Boere in Nood. Boere in Nood monster die hulp van die publiek en boere wat nie so swaar onder die droogte ly nie, om voer te verskaf aan boere wat regtig swaarkry.
Die manne agter hierdie grootse en durende weldaad is NC Schoombee, sakeman van NJS Agri en veeboer, en Nico Gerber, ‘n boer van Hoekville. Hulle het die Boere in Nood Facebook-groep op 3 November 2015 gestig met die doel om werklik die lyding wat boere en hulle diere as gevolg van die droogte ondervind, te verlig.
NC vertel: “Ek het eendag deur die Vrystaat gery en gesien hoe droog dit is. Daar het drie skape doodgelê in die veld en die ander skape het rondgeskarrel van die een boom tot die ander een omdat hulle honger was en daar nie genoeg kos was nie.”Dit het hom laat besef dat hy iets moet doen. Hy en Nico Gerber het besluit om boere te help, want Nico het reeds ’n vrag voer beskikbaar gehad om te skenk.
“Altesaam het ons sover R1,6 miljoen ingesamel en 400 boere gehelp,” sê NC.
Daar is tans 41 500 lede op die Facebook-groep, wat bewys hoe baie boere en ander mense bereid is om saam te staan in die droogtetyd. Onder lêers op die Facebook-blad is daar ’n vorm wat die boere kan invul en aan Boere in Nood kan e-pos om hulp. “Die vorm gee vir ons ’n idee waar die nood die hoogste is,” sê NC.
Die doel van Boere in Nood is dat mense voer-, vervoer- en kontantskenkings aan boere kan maak, “enigiets om hulle deur die droogtetyd te help”.
“Vervoer is op die oomblik waar die grootste nood lê, want die voer moet oor lang afstande na die boere vervoer word. Ons beplan ook om vorentoe ’n konvooi bymekaar te sit van 200 trokke wat die voer kan aflaai,” sê NC.
Die publiek is deeglik bewus van Boere in Nood aangesien hulle al baie in die nuus was en mense mekaar op Facebook uitnooi om daarby aan te sluit.
Daar is ’n paar mense wat Boere in Nood bestuur, want daar is ‘n administratiewe werk en ingewikkelde koördinasie wat gedoen moet word.
Carina Swartz staan aan die hoof van al hierdie koördinasie en administrasie en sy werk byna dag en nag om boere te help. Sy sê dit is vir haar verskriklik erg om te hoor hoe sleg dit met die boere gaan. Sy help sodat daar deeglik boekgehou word oor die aflewering van die voer dat dit by die regte boere uitkom.
Volgens haar is die Vrystaat, Noord-Kaap en Noordwes gelyk gehelp in die droogtetyd en geen streek is bevoordeel nie.
Boere wat geen voer vir hulle diere het nie, maar ook almal wat voer, vervoer of geld kan skenk, kan gerus by Boere in Nood se bakkiesblad aansluit en sommer daar al die inligting oor Boere in Nood kry: https://www.facebook.com/profile.php?id=925517180818254&ref=ts&fref=ts
NC sê elke sent wat Boere in Nood ontvang word gebruik om boere van voer te voorsien – daar is absoluut geen winsbejag nie.
Een van die boere wat gehelp is in die droogtetyd is Dave Henderson van Fauresmith. “Hulle het my baie vinnig gehelp en vir my voer geskenk, want ek was regtig in ’n krisis,” sê Henderson. Hy raai ander mense aan om na hulle toe te gaan indien hulle ’n krisis beleef.
Nog ’n boer wat Boere in Nood uit ’n krisis gehelp het deur voer aan hom te skenk is Fanie Schoeman van Marquard in die Vrystaat. Fanie sê 15 jaar gelede het hulle ook ander boere gehelp en hy het nooit besef wat dit vir die boere beteken nie. “Ek haal my hoed vir hulle af, want boere het geen ander hulp van enige instansie aan die begin van die droogte ontvang nie en die winter is op pad. Mense besef nie die erns van die saak nie. Die voer wat hulle gegee het, het my baie gehelp.” Dit het darem al by hom gereën, dit help vir die skape, maar gaan nie die beeste help nie.