Boere gewaarsku oor jag met honde en roof van vee

vrystaat-landbou-logo-275×275
Te midde van talle uitdagings wat druk op boere plaas, soos die droogte en veediefstal, staar landbougemeenskappe ook die bedreigings van onwettige jag met honde en in sommige gevalle die roof van vee in die gesig. Onwettige jagtogte met honde vind veral oor naweke plaas.
Sommige verdagtes gebruik ook honde om veediefstal te pleeg. Hulle sal van die honde gebruik om die beeste te storm, en terwyl die beeste die honde probeer afweer, steel die verdagtes kalwers. Die steel van kalwers is al weggesteek deur ystervarke bo in sakke te pak, sodat boere of die Polisie nie sakke verder moet deursoek nie.
Voorvalle van onwettige jag met honde op plase is besig om ernstig toe te neem in die Vrystaat, met ’n boer van Steynsrus wat al R220 000 se skade gelei het weens wild wat doodgebyt is. Die boer is raad-op, want hy sukkel elke naweek met onwettige hondejagte op sy plaas. Die afgelope naweek is verskeie voorvalle ook by Heilbron, Edenville en Arlington by die VKB/VL Veiligheidslessenaar aangemeld. Die Landelike Beveiligingsplan is Sondag, 16 Oktober 2016, in werking gestel toe verdagtes met sowat 30 honde op ’n plaas in Heilbron toegeslaan het. Boere het sewe verdagtes aangekeer wat saam met die honde in ’n boer se kamp met stoetbulle was, terwyl twee ander verdagtes besig was om ’n huis te plunder. Die polisie was vinnig op die toneel. ’n Volstruis en talle hase is doodgemaak.
Boere moes siviele arrestasies uitvoer en hulle moes die verdagtes aanhou terwyl die Polisie die honde en verdagtes stuk-stuk na die Polisiestasie aangery het. Tommie Esterhuyse, voorsitter van Vrystaat Landbou (VL) se Wet en Orde Komitee, spreek sy opregte dank uit vir alle boere wat aan die aksie deelgeneem het en ook vir die Polisie se spoedige reaksie.
In Edenville is een verdagte aangekeer en drie honde gekonfiskeer na ’n springbok op ’n boer se plaas doodgebyt is. Ander verdagtes en nog honde het van die toneel gevlug. Nog voorvalle het die naweek in dié omgewing voorgekom, maar die verdagtes het elke keer van die toneel gevlug wanneer die boere daar aangekom het. Nog ’n voorval het by Arlington voorgekom. Sedert die begin van Oktober is voorvalle ook by Bothaville en Hoopstad aangemeld.
Jag met honde is ’n misdaad
Die lessenaar wil dit graag beklemtoon dat jag met honde op boere se grond ’n misdaad is. Sodanige verdagtes maak hulle skuldig aan ’n misdaad en hulle oortree en minag die plaastoegang-protokol soos deur verskeie organisasies en die SAPD onderteken. Hulle ontken die boer se reg om sy eiendom teen wederregtelike betreding of beskadiging te beskerm.
Die SAPD het ’n provinsiale instruksie uitgestuur oor hoe die aangeleentheid deur polisielede op grondvlak hanteer moet word. Tommie moedig boere aan om die instruksie te bestudeer en aan polisiebeamptes te oorhandig om te verseker dat verdagtes korrek vervolg word.
Verder wil Tommie en die lessenaar boere graag aanmoedig om, wanneer hulle bewus word van sulke aktiwiteite op hulle grond, nie die verdagtes alleen te nader nie. Stel die plaaswag en polisie in kennis, sodat die veiligheidsplan geaktiveer kan word. Daar is al voorvalle waar boere verdagtes op hulle grond gekonfronteer het, waar hulle lewens bedreig is of hulle valslik van rig van ‘n vuurwapen of intimidasie aangekla is omdat hulle die verdagtes wat hulle grond betree, se honde gekonfiskeer het. Die verdagtes word as uiters arrogant beskryf en dit is beter om getuies teenwoordig te hê om hulle aktiwiteite stop te sit.
Die erns van die saak is al verskeie kere onder die aandag van die polisie gebring. Die lessenaar het ook al klagtes oor sommige polisiebeamptes se vermoedelike betrokkenheid of ander se onkunde oor die erns van sulke sake onder die topbestuur van die polisie se aandag gebring.
Roof van vee
Ondertussen waarsku die lessenaar en VL boere ook teen die roof van vee. Dit volg na ’n plaaswerker en sy vrou verlede week op die plaas Sambokfontein tussen Reitz en Tweeling deur rowers aangeval is. Die verdagtes het 12 kalwers, 24 koeie en 2 bulle tydens die voorval gesteel. Volgens inligting aan die lessenaar gerapporteer, is vyf verdagte mans laatmiddag op die plaas afgelaai. Die vermoede bestaan dat hulle die vee bymekaar gemaak het en daarna die egpaar aangeval en vasgebind het. Daarna is ’n vragmotor ontbied waarop die diere gelaai is en waarmee op die vlug geslaan is.
Tommie versoek boere om paraat te wees en hul plaaslike plaaswagstelsels in kennis te stel wanneer hulle verdagte persone op hulle plase of in hulle omgewings teëkom. Geen lewensverlies is tydens die voorval aangeteken nie en die verdagtes en vee word steeds gesoek.
Bron: VKB/VL Veiligheidslessenaar