Categories: Artikels, Vee en rassePublished On: 30th November 2021

Boerbokbedryf groei sterk en gesond

By 7 min read
1344 words

Boerbok1

Een van Gerrie Ferreira se puik boerbokramme. Sy bokke se genetika is wêreldwyd in aanvraag.

“Bokke bo!” is ՚n kreet wat sonder skroom aangewend kan word vir die boerbokbedryf van Suid-Afrika wat ՚n lewendige opbloei ondervind. Bokke wat in Suid-Afrika veredel is, word ook al gewilder in die buiteland.

Boerbokke sluit drie spesies in, naamlik die SA Boerbok, die SA Kalahari Red en die SA Savanna. Al drie is inheems aan Afrika. Telers in Suid-Afrika is die afgelope 47 jaar besig om die rasse verder te ontwikkel en vandag is Suid-Afrika se uitstaande genetika wêreldwyd in aanvraag.

Die uitstekende gehalte van hierdie bokke word onderskryf deur die SA Boerboktelersvereniging, wat op 4 Julie 1959 gestig is, die SA Savanna Boktelersgenootskap, wat op 21 November 1993 tot stand gekom het en die SA Kalahari Red wat in 1998 rasstatus verwerf het.

“Die bedryf gaan van krag tot krag, met uitstekende pryse wat vir ramme en ooie op veilings betaal word,” sê Michelle Kruger, rasdirekteur van die SA Boerboktelersgenootskap. Sy skryf die opbloei in die mark toe aan goeie produksiediere, ՚n aanbod van gehalte diere, en goeie bemarking.

Rasegte boerbokke uit Gerrie Ferreira se boerbokstoet.

Volgens Gerhard Lourens van die Inheemseveldbok-telersgenootskap, het die vraag na kleinvee tydens COVID-19 in die geheel gegroei. “Daar is ՚n wanpersepsie dat bokvleis glad nie gewild is nie omdat ՚n mens dit nêrens op winkelrakke aantref nie. Inteendeel, dit is juis die gewildheid van bokke wat veroorsaak dat daar nooit ՚n surplus is om in die kommersiële vleismark in te stoot nie,” het Gerhard tydens Saai se Bokboerdag op 11 November in Pretoria gesê.

“Daar is steeds baie uitdagings wat toekomstige boere verhoed om die bokmark te betree, maar ons werk daaraan om ons handelsmark uit te bou en om meer mense in te trek om die ongelooflike ras aan hulle bekend te stel,” sê Alida Dreyer van SA Kalahari Red-klub.

Boerbokke vir die buiteland

Gerrie Ferreira, die eienaar van Chandelier Volstruis- en Wildplaas sowat 10 km buite Oudtshoorn, is die grootste uitvoerder van top-boerbokgenetika in die land. Hy voer reeds 23 jaar lank boerbokke uit na 45 lande.

Gerrie is ՚n stoetteler van die Boerbok, Kalahari Red en Savanna en hy voer al drie spesies uit. Hy beaam die toenemende gewildheid van die bokke ook in die buiteland en skryf dit toe aan die gehardheid en aanpasbaarheid by uiterste omstandighede. Buiten die bokke voer hy ook Dorperskape uit.

Boerbokke is gehard en aanpasbaar by warm, droë toestande.

Buitelandse markte

Gerrie se uitvoerhandel het in 1996 begin toe hy 1 600 slaggereed volstruise gehad het, maar ՚n slagkwota vir net 95 gekry het en dringend na ander markte moes begin soek.

Op die spoor van die volstruise wat hy uitgevoer het, het het hy in 1998 die eerste boerbokke na Thailand uitgevoer. Mettertyd het hy naas boerbokke en volstruise ook verskillende soorte Persie- en Dorperskape, inheemse beeste en wild uitgevoer.

Teen 2015 het hy reeds vee en volstruise na 30 Arabiese, Oosterse, en Afrikalande, asook lande wat deel van die eertydse Oosblok was, uitgevoer. So het hy begin om van volstruiskuikens tot broeivoëls na onder meer Saoedi Arabië, Koeweit, die Verenigde Arabiese Emirate en Egipte uit te voer.

Pandemie

՚n Klompie stoetramme van besonderse gehalte.

Covid-19 het Gerrie se uitvoere skielik en ernstig aan bande gelê. “Die inperkings was ՚n bekommernis, maar dit het ons uitvoere versterk. Soos baie ander sakelui wêreldwyd het ons aanlyn na nuwe moontlikhede gaan soek.

“Ons moes uit die boks dink en het digitale bemarking begin doen. Ons het aan nuwe markte wat ons nooit voorheen nodig gehad het nie, begin aandag gee.”

Kort voor die pandemie in alle felheid toegeslaan het, het hy in samewerking met die Wes-Kaap Boerbokklub en BKB, wat sterk fokus op veeveilings, ՚n virtuele opleidingskursus vir voornemende kliënte aangebied. Dit het sy bemarking ՚n verdere hupstoot gegee.

՚n Mooi troppie Kalahari Reds op Chandelier, Gerrie Ferreira se plaas naby Oudtshoorn.

Die nuwe markte is merendeels in Afrika. “Ons het voorheen net na Senegal uitgevoer, maar daar is nou ook belangstelling uit ander Wes-Afrika-lande soos Niger, Mali, Benin en Ghana.”

Hy woon juis van 29 November tot 3 Desember Ghana se National Farmers Exhibition op uitnodiging van dié land se minister van Landbou by.

Vragvlugte

Covid-19 het groot uitdagings gebied, want weens die verbod op alle vlugte kon geen diere uitgevoer word nie. “Tonne vrag het op OR Tambo in Johannesburg bly staan. Selfs toe sommige rederye vlugte hervat, was die vliegtuie nie altyd groot genoeg nie, want vir uitvoer van diere in kratte is ՚n wye ruim nodig.

Hierdie Kalahari Red voldoen aan al die rasstandaarde.

“Die vlugte het ook aansienlik duurder geword — waar ons voor diepandemie $6 per kg op die Turkse Lugredery betaal het, is dit nou tot $35.” Dié redery is die enigste wat bokke na Oezbekistan vervoer.

“Covid-19 is nie die enigste probleem nie, want talle lande, soos die Midde-Ooste en Oos-Europa, is weens die uitbreek van bek-en-klouseer vir uitvoere vanuit Suid-Afrika gesluit.

“Daar is steeds bek-en-klouseer, maar gelukkig is die Wes-Kaap histories vry daarvan. Die lande is ook besorg oor bloutong, maar hier is dit redelik onder beheer. Hulle dring aan op vee uit die Wes-Kaap. Die Elsenburg Landbou-opleidingsinstituut doen wonderlike werk. Hulle deure staan oop vir voornemende uitvoerders.”

Buitelandse kopers verwelkom goeie genetika en vrugbaarheid.

Katar is een van die groot nuwe markte met ՚n aanvraag vir boerbokke en Dorperskape. “Ons werk tans aan ՚n groot besending. Hulle dring daarop aan dat die diere van Wes-Kaapse oorsprong moet wees en dat hulle van Kaapstad se lughawe af gestuur word. Met verloop van jare het ons in die Wes-Kaap ՚n goeie naam opgebou.”

Rooskleurige toekoms

Gerrie voorsien ՚n rooskleurige toekoms vir die uitvoer van Suid-Afrikaanse vee. “Buitelandse kopers koop hier vee om in hulle eie land mee te boer. Hulle koop gehalte diere, eerder as groot getalle. Hulle stel baie belang in ons teel- en kommersiële diere omdat ons die bewese genetika produseer wat hulle wil hê. Hulle is afhanklik van ons omdat ons ՚n groot genepoel het, terwyl hulle nog in hulle kinderskoene met bokboerdery is.”

Volgens hom voldoen die Suid-Afrikaanse vee wat uitgevoer word aan die rasstandaarde van die telersgenootskappe. ”Buitelandse kopers lê veral klem op beproefde genetika en dit is belangrik dat voornemende uitvoerders hiervan kennis neem.“

Die wit Savannas is ook baie gewild in die buiteland.

Ook Dorperskape voldoen aan die meeste lande se vereistes en Gerrie voorsien ook ՚n blink toekoms vir die uitvoer daarvan. “Dit is interessant dat die buitelanders nie eintlik belangstel in ons hoë gehalte Meatmasterskape nie. Dit is moeilik om hulle te oortuig dat ‘bont’ skape raseg kan wees – hulle soek net die rooies!”

Vertroue in uitvoerder

“Die buitelandse kliënte moet vertroue in die uitvoerder hê. Die kliënt koop in die eerste plek net by iemand wat hy weet hy kan vertrou, en in die tweede plek spesifieke diere. Voornemende kliënte moet gelei word om die regte keuses te maak. Jou besigheid sal slegs volhoubaar wees as jy ՚n uitstekende diens lewer.”

Gerrie Ferreira voer Dorperskape van die beste gehalte uit na verskeie lande regoor die wêreld.

Die diere word gekrat en per lugvrag vervoer. “Dit is belangrik om in gedagte te hou dat die vlugkoste bereken word op vol kratte en klein besendings is dus normaalweg baie duur.”

Die proses klink eenvoudiger as wat dit is. “Omdat elke land waarheen die vee uitgevoer word sy eie protokol het, is daar eindelose rompslomp. Elke land se vereistes, soos die kwarantyntydperke, verskil.”

Gerrie se soektog na ander markte het hom tot op hede na 61 lande wêreldwyd geneem. “Dis nie ՚n grap om ՚n nuwe mark te open nie en ek het al op snaakse plekke gebly,” vertel hy. “Ek wonder wat wag vir my in Ghana …”

Daar is ook ՚n buitelandse mark vir witkop-Dorpers.

Kontak Gerrie Ferreira by info@karooexports.com of 082-450-2110. Sy webblad is www.karooexports.com

Verwysings

  1. Bester, I. (11 November 2021) Bokboerdag gee blootstelling aan dié bedryf. Saai
  2. SA Boerboktelersvereniging https://www.boerboksa.co.za/
  3. Boerbokke: bedryf reik ál hoe hoër. KLK https://www.klk.co.za/af/boerbokke-bedryf-reik-al-hoehoer-2/

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0