Categories: Artikels, MeganisasiePublished On: 6th September 2022

Boer jy groot of boer jy klein: ETG Logistics het die meganisasieantwoord net vir jou

By 4 min read
862 words

DSC_0458

VST lewer kompakte trekkers vir kleiner takies op klein of groot plase.

Of jy van horison tot horison ploeg en plant of net ՚n lappie groenvoer of kuilvoermielies vir jou vee plant, alle boere het een ding gemeen: elkeen benodig betroubare werktuie wat aan sy unieke behoeftes voldoen.

ETG Logistics (ETGL) bied verskeie werktuie om juis hierin te voorsien. In hulle versameling handelsname sal jy vir seker ՚n werktuig presies vir jou boerdery vind.

Hierdie verspreider van plaaswerktuie het ՚n groot voetspoor, wat net aanhou groei, in Afrika. Net in die drie maande na NAMPO Bothaville is daar reeds ՚n magdom verwikkelinge tussen die sewe handelsname wat deel van die groter groep vorm.

KragDag en ander skoue verbind hulpmiddels met die boer

“Ons hou van dit waarvoor KragDag staan: selfstandigheid. Doen ՚n ding vir jouself; moenie net sit en wag vir ander nie. Dit is ՚n tema wat ook deur die produkreekse van ETGL trek,” verklaar Francois van Eeden, bemarkingshoof vir ETGL. “Of dit nou ՚n baie groot trekker is vir ՚n kommersiële boerdery of ՚n klein kragdis vir jou kleinhoewe, ons het albei en nog meer. Daar is tot bromponies vir op die plaas rondbeweeg.” Die verspreiders is ՚n eenstop-winkel vir jou plaas se meganisasiebehoeftes.

ETGL se kundiges is tot jou diens: Hulle is Manhav Jadhu, Morne Tewitz, Francois van Eeden, Hans Greyling, Diyaksha Sebejan, Bray Hyland en Brian Mumford.

By hulle uitstalling op die KragDagterrein het verskeie werktuie gepronk: Groot trekkers van Belarus, klein, kompakte trekkertjies van VST, werktuie van Shaktiman, vierwielfietse van TGB en gewone motorfietse van TVS. Selfs ՚n aangepaste toek-toek van TVS met goeie dravermoëns vir kort afstande verteenwoordig die Falcon Gas-handelsnaam — nog ՚n lid van die ETG-groep.

“Dit gaan vir ons daaroor om hulpmiddels te bied wat jou help selfstandig wees. Dit is hoekom ons hier by KragDag wil wees,” verduidelik Francois.

Buiten KragDag 2022 het hulle reeds ՚n hele paar skoue agter die rug vir die jaar. Daar was gedurende Julie die Chobe-skou in Botwana, en ՚n ander skou in Zambië. Aan die einde van Augustus was hulle weer in Botswana in Gabarone en in September kan jy hulle in Zimbabwe besigtig.

“Vanjaar is die kompakte trekkers meer gewild. Die Shaktiman-baler wat ons hier het, is teen ՚n spesiale prys van R170 000 BTW ingesluit beskikbaar. Ons het ook baie bestellings vir motorfietse gekry.”

ETGL verseker dat daar altyd kundiges by die skoue is om al jou vrae te antwoord. “Boere wil vrae vra, daarom het ek die onderskeie handelsmerkhoofde hier tydens die skou. Ons het respek vir ons mark — ons boere — en ons verseker dat ons hulle raad kan bied van die mense wat die produkte die beste ken,” sê Francois.

“Ons erken ՚n boer as ՚n landbousakeman. Hy is ՚n ekonoom, ՚n strateeg, ՚n finansierder; hy is ՚n slim, praktiese denker; hy is ՚n doener. Dit is wie jy by ՚n skou moet kan akkommodeer.”

Van NAMPO tot nou

Sedert NAMPO in Mei het verskeie handelaars by die groep aangesluit. “Ons netwerk het regoor Suidelike Afrika gegroei. Ons het ՚n tak oopgemaak in Zambië, ons is besig om ՚n tak oop te maak in Botswana en ons het handelaars aangestel in Zimbabwe. Ons is ook besig om gesprekke te voer met mense in Mosambiek,” sê Francois.

Die geel TVS King Kargo is spesiaal ontwerp vir die suster-handelsnaam, Falcon Gas.

“Ons is deel van die Export Trading Group (ETG) wat reeds sedert 1967 bestaan. Ons het werksaamhede in 49 lande en ons het ons ontstaan in die landbou, onder meer met dinge soos kunsmisproduksie en -verspreiding. Kynoch-kunsmismaatskappy is ook in die ETG-stal. Deur ons kunsmisverspreidingtakke, byvoorbeeld in Zambië, kan die agri-insettakke ook die meganisasie inbring om ՚n volledige aanbieding te lewer.”

Volgens Francois is een van die dinge wat mense na die ETGL se handelsname lok die diverse aanbiedings waarbinne jy jou risiko kan verskans: “Jy plaas nie al jou eiers in een mandjie nie. Jy het verskillende werktuie van betroubare vervaardigers wat vir jóú werk.”

Handelaars wat graag agri-handelaars wil wees, kan enigiets van ՚n ploeg,
regdeur tot ՚n trekker, verkoop. Jy kan dit dan aanvul met vierwielmotorfietse as ՚n bykomende inkomstestroom.

Op die horison vir ETGL

ETGL het onlangs ook hulle gesprekke met Ashok Leyland suksesvol voltooi. Die Indiese vervaardiger het met ETG oorgeengekom om hulle verspreider in ses Afrikalande te wees. Die eerste eenhede is verskeep en het reeds vroeg in Augustus in Suid-Afrika aangeland.

“Bakkies, trokke en busse sal binnekort aan die publiek bekendgestel word. Die bakkie is enig in sy soort, met ՚n dravermoë van twee ton! Die meeste ander bakkies kan nie daardie vrag dra nie. Hy bly binne die bruto voertuigmassagrens van onder 3,5 ton, wat beteken dat jy nie ’n swaarvoertuig-bestuurslisensie benodig nie.” sê Francois. Dit is boonop nuwegenerasie-dieseltegnologie met ՚n drie-silinder aangejaagde enjin. “Dit is nog nie voorheen gesien nie! Boere wat in hierdie bakkies belê, kan opsionele diensplanne ook bykoop.”

Daar is ook trokke met dravermoë van tussen 4 en 20 ton wat op die horison vir ETGL wag.

Om meer uit te vind oor ETG se klein, kragtige en kompakte werktuie, asook die wye verskeidenheid produkte wat hulle bied, besoek hulle webblad by www.etgldistribution.com. Kontak hulle by (+27)-65-138-
4567 of stuur ՚n e-pos na info@etgldistribution.com.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0