Categories: SafetyPublished On: 31st January 2018

Bly paraat!

By 4 min read

paraat geweer

Die verandering in die ANC-leierskap het by sommige mense die hoop laat opvlam dat wet en orde weer  in Suid-Afrika ’n voet in die deur sal kry. Ongelukkig voorspel die reekse gewelddadige optogte en optredes in verskillende dorpe van die land dat buitebande en huise ’n beter kans het om op te vlam as hoop. Dit beteken dat boere (en stedelinge) hulle waaksaamheid nie ’n oomblik mag verslap nie.

Adjudant-offisier Wynand van der Merwe, SAPD Boschkop, het onlangs aan lesers van die tydskrif, Die Bronberger, die volgende praktiese veiligheidswenke gegee. Ons deel dit met toestemming ook graag met ons lesers:

Wenke

Vermy slaapkamers met buitevensters en maak seker dat alle vensters, deure en hekke gesluit is en dat die alarm en elektriese heining aangeskakel is. Sorg dat jou alarmbattery deur die nag kan hou. Dink aan ’n OKT (ononderbroke kragtoevoer of ‘UPS’ in Engels) of ander kragbron om bystand te verleng en koppel ook ’n baie luide sirene en flitsende noodlig of twee hieraan. Koppel ’n paar buiteligte aan ’n groot 12-volt trekkerbattery vir noodgevalle.

Brand

Moet geen brandstof in buitegeboue bêre nie, tensy dit goed toegesluit is. Koppel ’n tuinslang aan ’n binnekraan en hou brandblussers reg om vuur in die huis te kan blus.

Maak seker dat alle selfone in die huis volgelaai is en genoeg lugtyd het en dat alle noodnommers en bure se nommers op alle selfone is. Alle tweerigtingradios se batterye moet ook volgelaai wees.

Moet om geen rede uit jou huis gelok word nie, selfs al gaan jou krag af en die kragboks is buite; al roep iemand skynbaar om hulp of al word ’n vuur buite aangesteek. Maak ’n alternatiewe reëling met jou werkers – in noodgevalle kan hulle jou bel.

Moet geen vreemdes by jou huis toelaat nie. Moet ook nie goedsmoeds vir die ‘polisie’ oopmaak nie. Bel jou naaste polisiestasie en bevestig eers alle besonderhede.

Versterk

Beveilig jou huis met versterkte binnehekke en deure, veral waar jy slaap of skuil. Vervang jou badkamerdeur (of die deur van ’n ander veilige vertrek) met ’n sterk staaldeur, koeëlvas en met ordentlike skuifslotte binne.

Versterk die vensters met glas wat indringerbestand is en installeer diefwering. Bring ook sifdiefwering aan – dit bemoeilik petrolbomaanvalle. Hou een of twee nooduitgange waardeur julle, indien nodig, kan ontsnap. Moenie helder ligte binne die huis laat brand nie. Maak seker dat gordyne goed toegetrek is.

Neem selfoonfoto’s van verdagte voetgangers en voertuie. Hou ’n pen en notaboek byderhand om registrasienommers en beskrywings van voetgangers aan te teken. Deel dié inligting met jou bure.

Tekens

Kyk vir ‘tekens’ by hekke, heinings en paaie. Kyk daagliks vir vreemde voertuig- en voetspore. Vee jou werfpaaie voor julle die huis verlaat, dan kan jy wanneer jy terugkeer sien of daar intussen beweging was. Kyk uit vir voertuigspore, voetspore, sigaretpakkies, stom-pies, takkies, gras en urineerplekke.

Kyk of jou honde jou kom verwelkom en kyk na hulle gedrag. Waai hulle sterte? Is hulle bang? As alles veilig lyk en jy ry die erf binne, bly in die voertuig en toets eers met jou afstandbeheer of die alarm dalk afgegaan het voordat jy die enjin afskakel.

Bel jou bure, plotwag of plaaswag as jy iets vreemds gewaar. Jou beste hulp bly reg langs jou.

Alarm

Oorweeg ’n ordentlike alarmstelsel met infrarooistrale of -ogies buite in die tuin, by vensters en deure. Die stelsel moet vir monitering aan ’n veiligheidsmaatskappy met gewapende reaksie gekoppel wees of aan ’n instansie soos plaaswag en jou bure.

Laat slaap jou honde in die huis en hou ganse buite aan om te help alarm maak. As jou buitehonde in die nag blaf, gaan stel elke keer die volgende dag ondersoek in. As jy tekens of sitplekke sien, gaan sit daar en kyk terug na jou huis. Heel moontlik gaan jy ’n swak plek in jou beveiliging sien.

Vermy dit om produkte op jou eiendom te verkoop. Moenie jou werkers op die perseel lone betaal nie. Betaal hulle opgemaakte lone binne-in die bank waar jy geld getrek het of betaal dit elektronies in hulle eie rekeninge in. Wanneer jou werkers wil geld leen, moenie dit dadelik gee nie. Sê vir hulle jy het nie geld op die plaas nie; sodra jy terugkom van die dorp af sal jy kan help.

Wapen

Leef en slaap met jou vuurwapen byderhand. Maak seker jy is vertroud met jou wapen en het genoeg magasyne en ammunisie. Laat die hele gesin met alle wapens skiet. Leer die kinders vooraf van ’n noodsituasie en beplan strategie.

Onthou dat jy in noodgevalle 10111 vanaf ’n landlyn kan skakel of 112 vanaf ’n selfoon as jy nie jou plaaslike strukture in die hande kan kry nie.

 

 

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0