Blossoms-noodwaterprojek by Oudtshoorn nader voltooiing

blossoms2 – Copy
Hier is 'n lugklep wat gebruik word om lug uit die pyp los te laat en so die pyp te beskerm.
deur Tisha Steyn
Die Blossoms-droogteprojek, wat in 2018/19 van stapel laat loop is, behoort teen Maart 2023 voltooi te wees.
Water uit drie boorgate van die Blossoms-diepwaterprojek sal na die dorp se reservoirs gepomp word om droogteverligting te bring vir Oudtshoorn en die landelike gebiede van De Rust, Dysselsdorp en Calitzdorp. Dit sal ook die Klein Karoo Landelike Waterskema help omdat dit die skema se boorgate, wat tans tot die maksimum benut word, meer kans sal gee vir herstel.
Blossoms-diepwaterprojek
“Ondersoeke na die Blossoms-diepwaterprojek het reeds in 2001 begin met die doel om water vanaf die plaas, Blossoms, 24 km buite Oudtshoorn, met ՚n pyplyn met die dorp se waternetwerk te verbind,” sê Chris Swart, senior bestuurder van water en riool by die Groter Oudtshoorn-munisipaliteit. Dié projek word ontwikkel soos wat geld beskikbaar is.
Toe die droogte in die Klein Karoo in 2019 op sy felste was, is besluit om water uit drie bestaande boorgate in die Blossoms-boorgatveld te begin gebruik vir droogte-noodverligting vir die landelike omgewing.
Die stap is genoodsaak omdat die water in die dorp se Mellville- en naasliggende Raubenheimerdam in die Swartberge, asook water uit boorgate in die Vermaaksrivier, wat in die Kamannassieberge ontspring, nie tydens droogtetye aan die totale waterbehoefte voldoen nie.

“Blossoms is die groter projek wat watersekerheid ten opsigte van drinkwater vir die groter Oudtshoorngebied sal verseker, terwyl die droogteprojek op die korttermyn in tye van droogte sal uithelp,” verduidelik Chris.
Hoekom Blossoms?
In 2001 is verkenningswerk begin om ՚n geskikte ondergrondse waterdraer te soek wat voldoende diepwater verskaf om aan die dorp se groeiende waterbehoeftes te voldoen. Diepwater is ondergrondse water wat nie gewoonlik deur middel van boorgate onttrek word nie.
Uiteindelik is teikengebied C1 op die plaas Blossoms, waar die Witklipplooirug met die Kliprivier kruis, geïdentifiseer. Hier is drie gate met ՚n lugdrukboor in die Skurwebergformasie geboor, voordat nog twee met ՚n diamantpuntboor in die Skiereiland-formasie geboor is. In 2008 is ՚n produksie-toetsgat van 600 m diep en met ՚n wye deursnit in die bron in die Skiereiland-formasie geboor.
Altesaam twaalf gate is geboor, waarvan drie nou vir die droogteprojek ontgin sal word.
Die gate is dertien jaar lank getoets. “Die Blossoms-boorgatveld word as ՚n groot en betroubare waterbron met baie potensiaal beskou,” sê Chris. “Die watergehalte is baie goed en amper geen suiwering buiten ontsmetting word benodig nie. Die hidrogeoloë se voorspelling is dat dit ՚n volhoubare bron van water is, mits dit goed bestuur word.”
Daarmee word bedoel dat die onttrekking en die watervlak deurgaans gemoniteer word om seker te maak die water word nie vinniger onttrek as wat dit deur reënwater aangevul word nie.
“Toetse wat in 2014 voltooi is, het getoon dat die ondergrondse water voldoende is om die Raubenheimerdam se ater aan te vul sonder ՚n noemenswaardige impak op die omgewing,” sê hy.

Die groter Blossomsprojek is oorspronklik beplan as medium- tot langtermyn grootmaat-ingryping. “Die voltooiing daarvan sal afhang van wanneer daar weer geld beskikbaar is. Die projek sal water beskikbaar maak vir ontwikkeling van die Klein Karoo.”
Droogteprojek
Weens die voortslependel droogte is besluit om die droogteprojek, wat drie van die bestaande boorgate by Blossoms benut, te ontwikkel.
Die befondsing vir die projek is die befondsing stuk-stuk goedgekeur. “Ons het in 2019 pype begin aankoop soos wat geld van die nasionale departement van water en sanitasie beskikbaar gestel is. In 2020/21 het ons weer geld gekry en die konstruksie kon begin. Die res van die geld wat ons vir die droogteprojek nodig gehad het, is in 2022 goedgekeur en ons kon die konstruksie hervat. Ons hoop om die droogteprojek wat ongeveer vyf megaliter water per dag sal lewer, volgende jaar af te handel.”
Pyplyn
Die pyplyn van sowat 24 km lank is ’n goedgekeurde projek van die departement, wat dit ook gefinansier het. Dit strek van die Blossoms- diepwaterboorgatveld na die Groter Oudtshoornwaternetwerk.
Die konstruksie van die pyplyn het in 2021 afgeskop, met die eerste vyf kilometer wat in Junie 2021 voltooi is. Met die laaste deel van die geld wat vanjaar beskikbaar gestel is, gaan die konstruksie voort met nog sowat vyf kilometer wat in Augustus voltooi sal wees en die res van die pyplyn teen Maart 2023.

Befondsing
Die koste van die droogteprojek is na raming R100-miljoen. Die departement het ՚n lisensie toegestaan vir die ontwikkeling van die boorgatveld en die konstruksie van die projek. Dit behels die installasie van boorgatpompe, ՚n pompstasie, die oprigting van ՚n reservoir halfpad tussen Blossoms en die dorp, die lê van pype en ՚n aansluitingspunt by die dorp se waternetwerk.
Die pyplyn bestaan uit 315 mm PVC- en GRP-pyp. Laasgenoemde word vervaardig van saamgestelde materiaal wat uit ՚n polimeermatriks en glasvesel bestaan en gevolglik baie sterk is.
Met R50-miljoen van die geld wat die departement vir die droogteprojek bewillig het, is die ontwerp van die pyplyn gedoen, die meeste van die materiaal vir die pype en pompe gekoop en die eerste ses kilometer daarvan in 2021 voltooi. Die departement se voorwaarde was dat die geld voor die einde van die 2021-boekjaar, wat einde Junie verstryk het, gebruik moes word.
Die jongste R47,15-miljoen is as noodverligtingstoelae toegeken na vertoë deur Wes-Kaap Rampbestuur en Anton Bredell, Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkeling. Die Oudtshoorn-munisipaliteit moet ongeveer R3-miljoen bygedra om die verskil op te maak.
Grondeienaars
Die pyplyn volg die loop van die Kliprivier langs die N9 en oor verskeie plase. Ooreenkomste om die pyplyn oor hulle grond te lê is met die eienaars aangegaan en hulle word markverwante vergoeding betaal vir die serwituutarea waarbinne die pyp gelê word. Die serwituut wissel tussen
vyf en tien meter wyd.
Tans het al die boere buiten een ՚n ooreenkoms met die Munisipaliteit gesluit en die werk op hulle plase kan voortgaan.
Die grondeienaar waarmee daar nog nie ooreengekom kon word nie beweer sy inkomste uit toerisme gaan geraak word tydens die konstruksiefase. Daar word tans onderhandel vir moontlike vergoeding vir verlies aan inkomste vir die tydperk wanneer daar op sy plaas gewerk word.
Kontak Chris Swart by 044-203-3132 of swartc@oudtmun.gov.za of besoek die webtuiste by www.oudtshoorn.gov.za vir meer inligting.
Verwysings
Kruger, J. (2022). Werk aan noodwaterskema vir Oudsthoorn vorder goed. Netwerk24 https://www.netwerk24.com/netwerk24/nuus/droogte/werk-aannoodwater-skema-vir-oudtshoornvorder-goed-20220620
Le Roux, L. (2022) Blossomsnoodpyplyn hopelik in Maart 2023 voltooi ná groen lig vir ooreenkoms met grondeienaars. Die Hoorn https://www.diehoorn.com/nuus/blossoms-noodpyplyn-hopelikin-maart-2023-voltooi-na-groenlig-vir-ooreenkoms-met-grondeienaars/?fbclid=IwAR1KYlNtkBhbvEiX3Cb-bkcXMRXWCZNXJDkl1CQyyZMPeNEuy1iyujqWy2c
Rieman, K., Blake, D. (2010) Groundwater reserve determination for current and potential wellfield development of TMG aquifers. https://www.wrc.org.za/wp-content/uploads/mdocs/KV%20236-10%20Groundwater.pdf