Bewerk jou grond beter met Vitamech en Väderstad

vitamech 1
Die Väderstad TopDown 900 vergemaklik grondvoorbereiding deur vier prosesse doeltreffend te kombineer.
Die eise wat aan die boer gestel word, word al hoe hoër. Hy moet al hoe meer op dieselfde grond produseer om gelyk te breek. Daarom boer saaiboere al hoe meer wetenskaplik.
Presisietoerusting het oor die afgelope jare ’n reuse invloed op die bedryf gehad. Elke saadjie, elke kunsmiskorrel, elke druppel water word gemeet en so doeltreffend as moontlik aangewend. Grondvoorbereiding word met net soveel kundigheid en sorgsaamheid toegepas as die saaiery, bemesting en besproeiing.
Goeie nuus is dat Vitamech bankvas agter die boer staan met die Väderstad TopDown-grondbewerker wat hom in staat stel om sy grond perfek voor te berei sodat enige plant nie anders kan as om die beste op sy land te presteer nie. Boonop word hierdie indrukwekkende werktuig voortdurend verbeter met unieke aanpassings om die boer se werk makliker te maak.
Väderstad is een van Swede se top uitvoerprodukte. Die maatskappy is in 1962 gestig en is steeds in die oorspronklike familie se besit. Al hulle masjiene word behoorlik getoets en as deel van ’n masjien se ontwikkeling moet hy in ’n steengroef gaan werk. In daardie klipperige toestande word die masjien tot die uiterste beproef en enige swakplekke word daarna ver-sterk. Op die manier sorg hulle dat net die beste materiaal gebruik word in die vervaardiging van hulle werktuie.
Die Väderstad TopDown is in drie modelle beskikbaar in werkwydtes van 3, 6 en 9 meter. Elke model verrig vier take wat onafhanklik van mekaar kan funksioneer.
“Hierdie is die enigste werktuig van sy soort wat al sy prosesse hidroulies en onafhanklik van mekaar beheer. Jy kan kies om met slegs een, twee, drie of al vier prosesse gelyk te werk,” verduidelik Louis van der Merwe van Vitamech. Die prosesse kan aangewend word na gelang van die boer se omstandighede.

• Voor aan die TopDown is daar ’n ry skottels wat die plantreste sny en dit behoorlik met die grond meng. Die stel koniese skottels loop 12,5 cm van mekaar af op indiwiduele arms. Die aggressiwiteit van die skottels se werking kan vanuit die kajuit gestel word. Die skottels word van verharde Sweedse V-55-staal gemaak.
• Daarna volg die tande wat die saadbed losmaak. Die tande werk gemaklik op ’n diepte van 350 mm. Hulle is gespasieer teen 27 cm oor drie rye met 700 kg wegbreekkrag. Die skare kan geruil word, maar elke tand is as standaard toegerus met ’n MixIn-skeenplaat wat die grond ook vorentoe gooi in plaas van net boontoe, sodat dit twee keer deur dieselfde tand gelig en gemeng word. Die normale werksdiepte is 300 mm, maar dit kan verleng word tot 400 mm.
• Na die tande is ’n ry toekrap- en gelykmaakskottels wat met parallel-skakels vas is om gelykheid te behou vir ’n perfekte saadbed. Die werkhoogte van die skottels kan ook vanuit die kajuit verstel word.
• Die vierde proses is ’n roller wat die grond knus vastrap om vogverlies te bekamp en sorg vir goeie kontak tussen die grond en die saad. Die Topdown kan gestel word dat die volle gewig van die masjien na die rollers oorgedra word, of dit kan verdeel word tussen die rollers en wiele. Daar is ook penne tussen die rollers aangebring om te verhoed dat grond tussen die rollers saampak.
• Daar kan ook ’n planter vir fynsaad of groenbemesting aan die masjien gemonteer word.

Om die negemetermodel doeltreffend te gebruik, het die boer ’n trekker van sowat 450 kW nodig. Die skottels en rollers werk die beste teen 10 km/u. Die driemetermodel vra net 112 kW om doeltreffend te werk. Behalwe vir nodige krag moet die trekker ook ’n driepuntkoppelstelsel en vier hidrouliese koppelpunte hê.
Boerdery gebruik sy TopDown 900 só: Net na oestyd span hy die werktuie in. Die oesreste word dan in die grond ingewerk sodat die ontbindings-proses kan begin. Op hierdie manier herstel die grond se vrugbaarheid vir die volgende plantseisoen. Net voor die volgende planttyd word die proses herhaal. Só skep Christo nie net ’n uitstekende saadbed nie, maar dit is ook ’n goeie manier om onkruid meganies te bekamp.

Christo het sy eerste TopDown omtrent ’n jaar gelede aangeskaf en al sowat 5 000 hektaar daarmee bewerk. “Ek het besluit om hierdie werktuie te koop omdat ons die lande in die winter bewerk wanneer die grond baie hard is,” verduidelik Christo. “Al wat ek moes vervang, was die tande se punte. Geen skottels of laers moes vervang word nie,” sê Christo.
Wat die naverkopediens betref, is Christo heeltemal tevrede. Meyer Mentz van Agri Benodighede in Vrede is altyd op sy pos en hou ’n goeie voorraad onderdele aan. Daarom hoef ’n boer nooit lank te wag om weer aan die werk te kom nie. “Toe ek die punte wou vervang, was Meyer binne 24 uur op die plaas met die nuwe punte,” vertel Christo.

Nog iets wat Christo beïndruk, is die tweejaarwaarborg wat die hele werktuig met al sy onderdele dek. Alle Väderstad-produkte is so gewaarborg.
Die veelsydigheid van die Väderstad TopDown 900 laat die boer toe om grondbewerking vinniger en meer ekonomies klaar te kry. Christo vertel dat hy nou met ’n hele paar oortollige vorige werktuie sit aangesien hierdie een werktuig hulle almal se take oorneem, en dit boonop meer doel-treffend doen. “As ’n mens dit in ag neem, saam met die voordele wat die werktuig vir jou oes beteken, betaal die TopDown homself binne drie jaar af. As ek tien jaar gelede so ’n masjien kon gekry het, sou ek nooit iets anders gekoop het nie en baie geld bespaar het,” sê Christo.
Vitamech is vanaf 2015 die trotse verspreider van Väderstad-produkte in Suid-Afrika. Kontak Louis van der Merwe by 072-626-8409 of Jurie Swart by 083-375-8840. Stuur ’n e-pos aan jurie@vitamech.co.za en besoek hulle webblad by www.vitamech.co.za vir meer inligting, ook oor al die ander wenwerktuie waarmee Vitamech die boer se taak makliker maak.