Categories: NewsPublished On: 1st June 2017

Beweerde onreëlmatige, verkwistende en korrupte praktyke in verband met droogtehulpfondse wat toegeken is

By 3 min read
539 words

Agri SA logo Kleur NUWE

In 2016 het Suid-Afrika die gevolge van die ergste droogte in dekades in die gesig gestaar. Ses provinsies is as rampgebiede verklaar, naamlik KwaZulu-Natal, Vrystaat, Mpumalanga, Limpopo, Noordwes en die Noord-Kaap, terwyl slegs sekere distriksmunisipaliteite in twee provinsies (Wes-Kaap en Oos-Kaap) as rampgebiede verklaar is.

Die droogte het aanleiding gegee tot ernstige graantekorte, geforseerde veeverkope en veevrektes, met ‘n negatiewe impak op die finansiële stabiliteit van boere oor die geaffekteerde gebiede heen.

Gedurende die 2016-droogte het Agri SA, as ‘n verantwoordelike lede-gebaseerde organisasie, proaktief opgetree en ‘n taakspan aangestel om te kyk na die erge gevolge van die droogte en, tesame met die bedryfsrolspelers, vorendag gekom met oplossings en versagtende maatreëls.

‘n Droogtetaakspan (DTT) is gestig bestaande uit Agri SA, die Land Bank, Agbiz, African Farmers’ Association of SA (Afasa), Transvaalse Landbou-unie SA (TLU SA); die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye (DAFF), Nasionale rampbestuursentrum (NDMC), SA Grain Milling, Nywerheidontwikkelingskorporasie (IDC); Bankevereniging SA (BASA), Graan SA en ander kommersiële banke.

Die DTT het verskeie kere vergader, onder andere tussen November 2015 en Maart 2016.  Die DTT het ook die SA Droogte-mediakonferensie op 22 Februarie 2016 in Kaapstad aangebied en ‘n verdere mediakonferensie tesame met die Suid-Afrikaanse Konfederasie van Landbou-unies (SACAU) op 1 Maart 2016 waar daar gefokus is op die droogtesituasie binne SADC.

Lede van die DTT het verskeie privaat vergaderings gehou met die Direkteur-Generaal van DAFF asook die minister van Landbou, Bosbou en Visserye (2016/01/12; 2016/02/10; 2016/07/18; 2016/10/06; 2016/11/08; 2016/11/15) om die dringendheid van finansiële hulp te bespreek. DTT-lede was ook teenwoordig by minister Zokwana se mediavergadering in Januarie 2016 waar hy belanghebbendes ingelig het oor die droogtemaatreëls. Agri SA het ook deelgeneem aan DAFF se Nasionale Droogte-indaba in September 2016 waar ons weer die erns van die droogte en die behoefte aan finansiële hulp beklemtoon het.

Agri SA, in sy eie hoedanigheid, het verskeie formele en informele versoeke aan die minister van Landbou, Bosbou en Visserye, die minister van Finansies, asook die DG van DAFF gerig, sonder sukses.

Ten spyte van dringende versoeke wat die DTT gerig het aan die regering om ‘n vennootskap aan te gaan ten einde droogteverligting-voorrade en humanitêre hulp op die mees effektiewe en doeltreffende wyse by geaffekteerde landbougemeenskappe oor die land heen te kry, het die regering hierdie versoeke ignoreer.

Dit het gelei tot vele uitdagings soos gelys in die konsep 2016/17 Droogteskema-verslag wat onlangs deur DAFF vrygestel is. Dit sluit in die aanstelling van diensverskaffers sonder rekords van vorige dienslewering; diensverskaffers wat geskors is weens swak prestasie; diensverskaffers wat hulle diensleweringsplan verander sonder vooraf konsultasie met DAFF of PDA; beperkte praktiese hulpverlening deur provinsies; baie stadige vordering weens gebrek aan gereedheid deur diensverskaffers, onbeskikbaarheid en veranderende bergingsfasiliteite, grootskaalse diefstal van sakke voerpille, ondoeltreffende en foutiewe afleweringsvoertuie, oor- of onderlewering van veevoer in sekere distrikte, geen hulp aan kommersiële en kleinskaalse boere in sommige provinsies, aflewering van die verkeerde voer, gebrek aan toereikende kommunikasie gedurende implementering, asook onopgedateerde boereregisters.

Agri SA het ondersoek ingestel na hoe droogtehulpfondse op provinsiale vlak bestee word. ‘n Skokkende prentjie is geskilder van blatante gebrek aan goeie beheer- en bestuursbeginsels wat enige regeringsprojek behoort te rig.

Die Openbare Beskermer, Ouditeur-Generaal en SCOPA is gevra om die droogtehulpproses as geheel te ondersoek ten einde onreëlmatige, verkwistende en korrupte praktyke te identifiseer.

Uitgereik deur Agri SA

0
Views: 252Comments Off on Beweerde onreëlmatige, verkwistende en korrupte praktyke in verband met droogtehulpfondse wat toegeken is

Deel hierdie artikel.

0