Bestuur van ooie tydens laat dragtigheid en vroeë laktasie
Die volgende stuk kosbare inligting wat elke skaapboer moet deurlees is deur die NWKV uitgereik.
Die mikpunt van enige wolskaapboer is om soveel wol en vleis per hektaar as moontlik te produseer. Een van die hoekstene waarop hierdie strewe rus, is dat elke ooi gereeld moet lam en ‘n gesonde lam moet grootmaak.
Verskeie strategieë en stelsels is beskikbaar om die voortplanting van ooie te verhoog, maar die mate waarin dit gebruik word of toegepas word, hang baie af van die bestuursvermoeë van die boer en sy beskikbare infrastruktuur. Ongeag die stelsels en infrastruktuur wat gebruik word, sal die maksimum potensiaal van ‘n ooi slegs behaal word indien die skaapboer toesien dat:
• daar aan die voedingsbehoeftes van laat dragtige en lakterende ooie voldoen word;
• die besetting van ooie deur doeltreffende ram- en ooibestuur geoptimaliseer word;
• fetus en lamoorlewing geoptimaliseer word deur doeltreffende bestuur tydens laat dragtigheid en lamtyd.
Belangrike faktore waarna gekyk moet word tydens dragtigheid;
• Om afsterwing van embrio’s te voorkom, moet spanning tydens paring en die eerste maand van dragtigheid vermy word. Hantering moet dus gedurende hierdie tydperk uitgeskakel word.
• Dragtigheidsondersoeke kan 42 dae nadat ramme verwyder is, gedoen word. Dit is belangrik om meerlinge van eenlinge te skei en die meerlingooie meer voer te gee.
• Massaverlies moet verhoed word deur toe te sien die ooie genoeg kos kry. Dit kan aangevul word met ‘n lek. Navorsing toon dat, indien ooie vir die volle dragtigheidstydperk bestendig op kondisiepunt drie gehou word, die produktiwiteit van die kudde verhoog word.
• Verseker voldoende skaduwee vir ooie in warm dele van land, veral by temperature bo 35 grade Celsius.
• Die hormoon estriool wat deur die plasenta afgeskei word, stimuleer uier-ontwikkeling en verhoog bies- en melkproduksie. ’n Lek wat ryk is aan deurvloeiproteïen stimuleer hierdie hormoonafskeiding.
• Kyk weekliks wat die ooie se kondisiepunt is. Die ideaal is dat ooie gedurende laat dragtigheid 15% tot 18% in liggaamsmassa moet toeneem.
• Die voorsiening van deurvloeiproteïen aan meerlingooie en eerstelamooie ses tot agt weke voor lam, lewer positiewe resultate.
• Mikskeer ooie minstens vier weke voor lam. Dit maak dit vir die lam makliker om die spene te vind.
• Doseer ooie met Vitamiene A en minerale.
Punte van belang gedurende lamtyd by sogende ooie
• Waar moontlik, laat lam ooie in kleiner kampies met ooi-troppe van 50 of kleiner. Dit kan lamvrektes met tot 7,5% verminder.
• Sogende ooie met eenlinge moet nie meer as 25 tot 50 g gewig per dag verloor nie.
• Sogende ooie met meerlinge moet nie meer as 60 tot 100g per dag verloor nie.
• Laat lam verkieslik een- en meerlingooie apart van mekaar en hou ook jong ooitjies eenkant.
• Sodra die ooi gelam het, raak die voeding van die lam belangrik. Om oormatige massaverlies by sogende ooie te voorkom, moet kruipvoer aan lammers voorsien word, veral meerlinglammers. Kruipvoer verseker dat lammers vroeër gespeen kan word sodat ooie hulle toestand kan verbeter. Die besettingspersensie vir die daaropvolgende lamseisoen word sodoende verhoog.
• Ooie se melkproduksie piek op 42 dae na lam en neem dan vinnig af. Dan moet die lam reeds sterk vreet. Dit is derhalwe ‘n goeie praktyk om diere in daardie stadium na ‘n nuwe kamp te skuif.
• Met behulp van die soog- en droogmetode moet ooie wat misluk om ‘n lam te speen, asook ooie wat swak en ligte lammers speen, geïdentifiseer word. Hierdie swak moeders moet verkieslik bemark word.
• Los boepenslammers by ooie dat die moeders geïdentifiseer kan word en dan geprul kan word. Verkoop verkieslik hierdie lammers saam met die ooie.
Ander belangrike faktore wat ook in ag geneem moet word:
• Gesonde diere lewer beter produksie en gee gesonder lammers. Verseker dat jou inenting- en doseerprogram op datum is en dat jou kudde parasietvry is.
• ‘n Doeltreffende siektevoorkomende gesondheidsprogram moet gevolg word.
• Bestuur jou roofdiere voor jou lamseisoen begin deur lamkampe se heinings na te gaan en te verseker daar is nie ongediertes in jou kampe nie.
Opsomming:
Om ’n bevredigende hoeveelheid vleis en wol per hektaar te produseer, moet soveel as moontlik van bogenoemde stelsels en strategieë gekombineer en toegepas word. Optimum voeding gedurende die verskillende fisiologiese stadiums van die teelooi is noodsaaklik vir ‘n hoë voortplanttempo, hoë lamoorlewing en vinnige lamgroei om te verseker dat die genetiese potensiaal van jou skaapkudde bereik kan word.
Wins word hoofsaaklik deur doeltreffendheid bepaal en nie soseer deur die wol- en vleisprys nie.
Vir verdere inligting, kontak vir Juan Venter, NWKV-produksieadviseur in Middelburg, Oos-Kaap, by 079-693-1953.