Categories: Artikels, NuusPublished On: 19th July 2024

Bek- en Klouseer: Wes-Kaap

By 2 min read
426 words

awk-logo

Die Wes-Kaap Bek- en Klouseer Werkgroep* onder voorsitterskap van Mnr Jaco van den Berg, RPOWK Voorsitter, het vandag hul tweede vergadering gehad. Die Werkgroep is bymekaar geroep om die stand van Bek- en Klouseer fyn dop te hou en die nodige voorsorg te tref om die Wes-Kaap so veilig moontlik teen Bek- en Klouseer te hou.

Ons wil verseker dat elke produsent die erns van hierdie situasie verstaan en bewus is van die noodsaaklikheid om pro-aktief op te tree.

Die Werkgroep is in gereelde kommunikasie met mekaar om die stand van sake voortdurend te monitor. Hul werk saam om te verseker dat die nodige stappe geneem word om die verspreiding na die Wes-Kaap te voorkom.

Die Werkgroep ondersteun verantwoordelike provinsiale grensbeheer en waardeer Minister Ivan Meyer van Departement Landbou, Wes-Kaap se ondersteuning.

Dit is van kardinale belang dat die publiek bewus moet bly van die gevaar en saam moet werk om ons provinsie veilig te hou. “Daar sal ‘n verhoogde fokus wees op die vervoer van diere tussen die Oos-/Wes-Kaap grens en die verkeersbeamptes alle voertuie wat diere vervoer sal aftrek” Des Paton, Streek Bestuurder, Departement Mobiliteit. Daar word versoek dat daar verhoogde monitering van die vervoer van lewende hawe op die N2, R62 en die N9 asook die nege weegbrûe in die provinsie gedoen word.

Voorkomingsversoeke:

  • Elke plaas se biosekuriteit verskil en daarom is dit belangrik om met jou buurman te kommunikeer oor wat elkeen doen om jul omgewing te beveilig.
  • Behalwe trokke wat plase betree, moet produsente ook die bakkies wat op die plaas rondry ontsmet word.
  • Dit is belangrik dat die arbeiders van die plaas ook ingelig en opgelei word oor die moontlike verspreiding van die siekte.
  • Dit is belangrik dat daar gereelde kommunikasie is met die Departementele veeartsenydienste in jou omgewing sowel as private veeartse.

Ons beklemtoon dat produsente moet seker maak dat alle inligting, boodskappe en verklarings rakende Bek-en Klouseer vanaf die regte en geverifieerde bronne en platforms af kom. Daarom doen die Werkgroep ʼn beroep op alle produsente om betrokke te wees by georganiseerde landbou en hul bedryfsorganisasies sodat hul ingelig bly oor die stand van Bek- en Klouseer. U betrokkenheid maak ons hand sterker en ons praat uit een mond.

Die Werkgroep vergader weer op 1 Augustus 2024.

*Die Werkgroep bestaan uit alle rolspelers in die rooivleisindustrie, onder andere die Departement van Landbou, Wes-Kaap se Veeartsenydienste (“die Departement”), Rooivleis Produsente Organisasie, Wes-Kaap (RPOWK), Agri Wes-Kaap (AWK), Nasionale Wol Kwekers Vereniging (NWKV), Melk Produsente Organisasie (MPO), Landbou Produkte Agente Raad (APAC), Suid-Afrikaanse Vereniging vir Lewendehawe Afslaers (SAFLA) en die Abattoir Vereniging.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0