Bek-en-klouseer … dit is nie net ’n boere-probleem nie

WhatsApp Image 2026-02-20 at 13.39.07dd
Meningstuk deur Natasha Pretorius

Ek het op die platteland grootgeword. Ons was myn-mense, maar my vriende het op plase gewoon. As kind het ek by die skool van bek-en-klouseer geleer, maar die gedagte daaraan het my nooit regtig gepla nie. Ons was mos nie boere nie – so dit sou my tog nie raak nie.
My tyd by ProAgri het egter my oë laat oopgaan. In die afgelope paar jaar het ek verlief geraak op die landboubedryf en die mense wat dit dra.
Toe die eerste uitbreking in 2025 aangekondig is, was dit soos enige ander brekende nuus: skokkend, maar twee dae later het die meeste mense eenvoudig aangegaan met hul lewens. Ons span het die storie egter van nader gevolg.
My eerste werklike besef van die omvang van die probleem was die dag toe ek by ’n voerkraal aankom en eers moes stort voordat ek ander klere kon aantrek. Ná my tweede stort vir die dag is ek toegelaat om die voerkraal te betree – en dit sou nie my laaste stort vir die dag wees nie. Ek het aanvanklik gedink die mense is oordrewe deeglik, en ek het selfs ’n bietjie simpel gevoel in my waterskoene (gumboots) wat blase op my voete veroorsaak het. Maar van daar af het sulke biosekuriteitsmaatreëls al hoe meer deel van ons plaasbesoeke geword.
Kort daarna het boere veilings begin kanselleer. ’n Mengsel van woede en hartseer het in die lug gehang. Die regering het stadig gereageer, terwyl boere swaar gekry het. Die stigting van ’n selfmoordhulplyn het vir ons die erns van die situasie bevestig. Dit was egter eers toe die president die woorde “nasionale ramp” gebruik het dat diegene buite die landboubedryf begin besef het wat aangaan.
Skielik het die plaaslike en nasionale media, en selfs tannie Marie in die winkel, oor bek-en-klouseer gepraat. In my klein plattelandse myndorpie het die gemeenskap selfs begin aandring op ’n biosekuriteitspadblokkade om die boere in die omgewing te beskerm. Dit het die enigste gesprekstema geword.
Op sosiale media het die harde realiteit sigbaar geword: boere wat huil omdat hulle hul beeste moet afmaak; diere wat in pyn leef en nie kan eet of drink nie; duisende liters melk wat weggegooi word omdat dit onbruikbaar is. Stories het al meer algemeen geraak – van boere wat nie maatreëls nakom nie, tot dié wat alles reg doen en tog verloor. Stoete wat oor generasies opgebou is, word in ’n oogwink uitgewis.
Ons het gehoor hoe die siekte deur hadidas versprei word, deur wilde varke wat tussen plase beweeg, deur water, plaaswerkers en selfs die wind. Nêrens was boere veilig nie. .. En toe begin diegene in die stad en dorp die gevolge in hul kruideniersware sien. Skielik word vleis ’n luuksheid en koffie word swart gedrink – melk is eenvoudig te duur. Jou oggendboodskap aan jou vriendin verander van “Hoe gaan dit met julle?” na “Hoe gaan dit met die diere?” En wanneer sy antwoord dat hulle genadiglik nog nie geraak is nie, voel jy die verligting.
Dan besef jy: die siekte waaroor jy in standerd 2 geleer het, raak jou tog. Dit is nie net boere se probleem nie. Dit is nie net hul verantwoordelikheid om bek-en-klouseer te bekamp nie.
So, wanneer jy die naweek jou vleis braai of jou Saterdagoggend koffie op die stoep drink, dink aan die boere wat veg om oorlewing en die behoud van familieplase, boere wat wonder hoe hulle die rekeninge gaan betaal weens ’n gebrek aan inkomste en die beperking van vee-verkope. En as jy op ’n plaas kom, volg die maatreëls – al beteken dit jy stort ses keer in een dag, al beteken dit jy moet in en uit jou voertuig klim om jou voete te ontsmet.
Vanaand sal die boere en hul diere weer heel bo-aan my gebedslys wees. Want al boer ek nie self nie, is bid op my knieë een van die min maniere waarop ek kan help.