Categories: Artikels, Vee en WildPublished On: 5th December 2025

Paul van Niekerk: Beesboer van die Jaar 2025 leef Bovelder-beleid uit

By 8 min read
1497 words

beesboer edited

Paul van Niekerk is onlangs aangewys as Voermol se Beesboer van die Jaar vir 2025. Paul is die vyfde geslag wat op die plaas Boshoek in die Memel distrik van die Noordoos-Vrystaat saam met sy vrou Liana, skoonseun Charl Theron en dogter Liana jr boer. Die familie boer onder die naam Anhali boerdery BK.

Die boerdery bestaan uit 5660 hektaar grond, wat alles aan mekaar lê. 93% van die grond is natuurlike weiding terwyl die res uit landerye met mielies, sojabone en saadaartappels , asook ‘n klein bietjie aangeplante weidings bestaan. Die grootste deel van die boerdery is die beesvertakking en hier is ook ‘n Suffolk stoet.

Anhali boerdery is by uitstek ‘n familie boerdery. Liana hanteer die boeke en administrasie, Charl die saaiboerdery asook die Suffolk-stoet, terwyl Liana Jnr haar Pa help met die beeste, al die verwerking en insameling van die syfers, en die bemarking van ons beeste

Toe Voermol Paul van Niekerk in 2025 as sy Beesboer van die Jaar bekroon, het dit nie net ’n individu vereer nie, maar die vrug van byna ’n halfeeu se toegewyde teling, bestuur en navorsingsgedrewe beginsels binne die Bovelder Studiegroep.

Boshoek Bovelders se ontstaan kom vanaf 1953 toe Connie van Niekerk Afrikaner koeie begin kruis het met Suid Devon en Sussex bulle tot in 1974. Kruisteling het ingewikkeld geraak. Kundige hulp is verkry vanaf Dr At Viljoen en Dr Herman Venter, 2 welbekende veekundiges om ’n strategie vir Boshoek se kudde te formuleer ten opsigte van bestuur teling en seleksie.

Bovelder

Die doelwitte daardie tyd  was om ‘n funksionele doeltreffende bees te teel.

Die Indicus Taurus verhouding is reggestel. Aanvullende parings is gedoen met Bovelder bulle. Enige ras wat ‘n bydrae tot die opgradering kon maak is gebruik om ‘n genepoel te vorm wat kan lei tot verhoogte produktiwiteit.

In 1986 is die Hoëveld Bees Studiegroep gestig en Boshoek Bovelders is bevoorreg om een van die stigterslede te wees en tot vandag toe lid te wees van die unieke groep telers. Connie en seuns was bevoorreg om vir 18 jaar saam te boer en ‘n bees te teel wat op wetenskaplike beginsels gegrond is. Vanaf 2005 is die bovelder kudde onder die bekwame leiding van Dr At Viljoen en die eienaars van Anhali Boerdery.

Boshoek Bovelders bly glo in die Bovelder Composite filosofie. Hierdie vertroue wat ons in die Bovelder het word bevestig deur die feit dat daar oor groot dele van ons land geboer word met die Bovelders, ‘n aangepaste en funksionele dier.

Doelgerigte teling word toegepas om op spesifieke doelwitte te fokus nl:

  • Vrugbaarheid
  • Produktiwiteit
  • Funsionaliteit
  • Aanpasbaarheid
  • Aanskoulikheid

Boshoek Bovelders voel sterk deur gebruik te maak van ‘n paar basiese beginsels wat teling, seleksie,bestuur en bemarking insluit in jou beeskudde, kan jy waarde toevoeg wat kan verseker dat dit nog volhoubaar is om met beeste te boer.

Die Hoëveld Bees Studiegroep,  is in 1986 verander na ‘n maatskappy wat toe verder bekend gestaan het as die Bovelder Bees Studiegroep. Die Studiegroep bestaan uit 70 boere wat hoofsaaklik in die Oos Vryataat die Hoëveld van Mpumalanga gesetel is. Enkele lede is ook in Limpopo, Noord Wes. Wes Kaap, Natal en die res van die Vrystaat.

Die hedendaagse Bovelder is ‘n rooi bees wat afhangend van die deel waarin geboer word bestaan uit 60% Taurus bloed en 40% Indicus bloed soos in Boshoek Bovelders se geval.

Die doel was om ’n funksionele “composite” te ontwikkel met:

  • optimale heterose,
  • hoë vrugbaarheid,
  • uitstekende veldaanpasbaarheid,
  • goeie vleisbou,
  • en ’n mediumraam, maklik hanteerbare, eenvormige rooi, aanskoulike dier wat ideaal aangepas is by die klimaat van die Noordoos-Vrystaat.

Funksioneel doeltreffende Bovelderkoeie met kalwers. Die teelseisoen vir koeie duur van begin September tot einde Desember. (Bron: Verskaf)

Om te meet is om te weet

Paul se suksesse is direk gekoppel aan die beginsel van meting, seleksie en funksionele doeltreffendheid.

Kuddes word voortdurend geklas om

  • die beste teeldiere te identifiseer en in drie verskillende groepe te klas nl A+ koeie, A- koeie en B koeie.
  • Die korrekte parings daarvoor te bepaal en die regte bulle by die regte groepe te sit.
  • funksioneel swak diere uit te skot,
  • Indicus/Taurus verhoudings reg te maak indien nodig.
  • Ekonomiese eienskappe te verbeter.

Prakties beteken dit dat verse en koeie sistematies op grond van vrugbaarheid en produktiwiteit, en deur te kyk na Prestasie data en vaderskap wat bepaal is met DNS, die koeie en verse individueel gepaar word om so te probeer die geskikte kalf te teel. Koeie met swakker TKP’s en te laat vir ons kudde kalf word uitgeskot.

Hulle drie-jaar gemiddelde TKP is 374 dae, die besettingsyfer is 97% en die speensyfer is 94% .

Met speen weeg koeie gemiddeld 527 kg en die kalwers 252 kg wat beteken die koeie speen 48% gemiddeld van hulle eie massa.

Die Bovelder is ‘n funksionele ras wat elke jaar ‘n swaar, rooi kalf gee waarvoor al die syfers en nageslag bestaan en wat goed by die omgewing aangepas is.

Alle bulle se DNS word getoets; vervangingsverse se DNS word ook die afgelope vier jaar getoets.

Die teelseisoen vir verse duur van begin Augustus tot einde Desember, en vir koeie vanaf begin September tot einde Desember.

Slegs verse wat in die eerste drie maande dragtig is, word behou; die res word op ‘n produksieveiling verkoop. Koeie wat in die laaste 45 dae van die tydperk kalf, word ook verkoop.

Drie veilings word per jaar gehou: 2 Bulveilings in Augustus, die eerste veiling is op Boshoek en die tweede veiling is in Vryburg. ’n Vroulikedier veiling word in Februarie gehou op die plaas Eksteen van Jaco Maritz. Daar word die afgelope 9 jaar saam veiling gehou met Maritz Bovelders ook van Memel. Daar word elke jaar drie tot vyf bulle by mede-telers gekoop. Semen van beproefde bulle word deur kunsmatige inseminasie bekom en Paul-hulle teel self ook bulle.

Siektebeheer deur teelbeleid

Dr Danie Odendaal, Direkteur van Veearts Netwerk, beklemtoon in sy ontleding dat die Bovelder Studiegroep se streng teelbeleid een van die belangrikste redes is waarom hulle bo die res uitstaan.

Sleutelpunte van die beleid berus op:

  • Een beperkte dekseisoen per jaar
  • Uitskot van alle nie-produktiewe vroulike diere
  • Klas van koeie slegs indien daar ’n lewendige speenkalf teenwoordig is
  • Veld- en prestasietoetsing van jong bulle
  • Streng beheer en toetsing vir Trichomoniase, Bovine Virale Diarree (BVD), Vibriose, Brusellose en TB
  • Geskeduleerde entings en bestuur onder toesig van die veearts

Voorts verseker baie streng biosekerheidmaatreëls dat die vee sover moontlik nie aan oordraagbare siektes soos bek-en-klouseer, wat tans in die land die rooivleisbedryf op sy kneë het blootgestel word nie.

Wat het Boshoek Bovelders se lidmaatskap by die Bovelder Bees Studiegroep vir hulle beteken ?

  • Boer met ‘n bees wat aangepas is in die strawwe suurveld toestande van die Oos Vrystaat
  • Vrugbaarheid op ‘n hoë standaard die afgelope 20 jaar. Meer as 95% kalfpersentasie.
  • Speen swaar speenkalwers die afgelope klompie jare bo 250 kg, voerkrale betaal ‘n premie vir ons kalwers.
  • Koeie kalf elke jaar, uitskot baie laag.
  • Doen gereeld kuddeklas.
  • Paring van verse en koeie word individueel gedoen met die regte bulle dmv KI en dan opvolg met eie bulle.
  • KI eerste rondte meer as 90% van koeie om die beste beproefde bulle te kan gebruik.
  • Opvolg bulle almal A bulle wat weer op veilings verkoop word.
  • Suksesvolle veilings word jaarliks gehou in samewerking met Maritz Bovelders.
  • Maak gebruik van DNA om vaderskap te bepaal op bulle en vroulike diere.
  • Goeie finansiele rekords van beesvertakking word gehou om jaar vir jaar te vergelyk.
  • Maak gebruik van BKB se DSS ontledings program wat hul kudde nog verder ekonomies ontleed.
  • Nasionale Beesboer van die jaar 2005 en 2025.

Die bul PVN22-189 is vir R525 000 aan John Faber en Walter Pretorius verkoop. (Bron: Verskaf)

Beesboer van die Jaar

Dit is dus glad nie ‘n verrassing dat Paul die 2025 Voermol Beesboer van die Jaar is nie. Die titel erken nie net sy bestuursvernuf nie, maar ook sy rol as voorbeeld van ‘n volhoubare, wetenskaplike beesboerdery.

Paul beliggaam alles waarvoor die Bovelder Studiegroep staan:

  • streng seleksie,
  • streng kuddebestuur,
  • hoë vrugbaarheid,
  • koste-effektiewe produksie,
  • uitstekende veldbenutting,
  • en ’n kudde wat deurentyd presteer sonder ingewikkelde bestuur.

Paul se bydrae tot die ras

  • Stabilisering van die moderne Bovelder-tipe
  • Jarelange leierskap
  • Genetiese beginsels kan winsgewendheid verhoog
  • Deurlopende betrokkenheid by studiegroepontwikkeling

Dragtige verse. Die teelseisoen vir verse duur van begin Augustus tot einde Desember. (Bron: Verskaf)

Paul se toekenning as Voermol se Beesboer van die Jaar 2025 is die kulminasie van 40 jaar se toegewyde teling binne ’n groep wat hullself baseer op die beginsels van die Bovelder Composite, versterk deur moderne genetika, en gedryf deur ’n passie vir funksionele, ekonomiese beesproduksie.

Anhali Boerdery se verhaal, hulle  passie, hulle afhanklikheid van Bo en hulle betrokkenheid by die Bovelder  Bees Studiegroep, dien vandag as ’n bloudruk vir doeltreffende, winsgewende en siektebestande vleisbeesboerdery in Suidelike Afrika.

Bronverwysings

Beeton, M. (2025). SA se 3 top-beesboere: Wie gaan Voermol se volgende kroon dra? Landbou.com. https://www.landbou.com/jongste-tydskrif/sa-se-3-top-beesboere-wie-gaan-voermol-se-volgende-kroon-dra-20251111-0559

Odendaal, D (dr) Myns insiens – Die regte teelbeleid verminder siektes. https://bovelder.co.za/Documents/Artikels/Teelbeleid%20beheer%20siektes.pdf

Suksesverhaal van Boshoek – en Maritz Bovelders. https://bovelder.co.za/Documents/Artikels/Boshoek%20en%20Maritz%20Bovelders%20se%20suksesverhaal%20pdf.pdf

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0