Categories: Artikels, MeganisasiePublished On: 18th September 2018

Almaz: Saadskoonmaak is eintlik eenvoudig en goedkoop

By 3 min read
639 words

ALMAZ1 reg

Almaz se saadskoonmaker en -skeier, die ondersteunende stellasie, dak, bakkieshyser en uitvoerluike pas mooi knus tussen Alzu se ander silo’s.

’n Eenvoudige, goedkoop masjien wat meer doeltreffend as sy ingewikkelde, duur mededingers werk, sal altyd met ope arms op ’n plaas verwelkom word. Almaz is ’n maatskappy in die Oekraine en hulle saadskoonmaker en -skeier bespaar Alzu se voermeule baie geld, moeite en arbeid, sê Paul du Toit, ’n direkteur van Alzu.

Die beginsel waarop die saadskeier werk is eenvoudig. Die vuil saad word bo ingegooi en met ’n lugstroom vorentoe geblaas. Onderaan is daar ’n ry luike. Die swaarder items soos klippe en stokke val deur die eerste luik en die swaarder tot ligter saad in die opvolgende luike. Aan die einde word die stof en sifsels deur die laaste luik geblaas.

Arno Pieterse, onderhoudsbestuurder by Alzu se voermeule, wys hoe maklik Almaz se skeier werk.

“Vir ons is Almaz se skeier deur en deur die moeite werd,” sê Paul, wat vir die voermeule en saaddepots verantwoordelik is. Hy sê: “Ons het ’n manier gesoek om kankerroos uit die mielies wat van die lande af kom te haal. Daar is baie min saadskoonmakers wat dit kan regkry. Almaz se skeier haal dit sommer saam met ander bakteriegifstowwe, gebreekte pitte, sifsels en stof uit om vir ons suiwer, heel en skoon mieliepitte te lewer.”

Varke en kuikens is baie sensitief vir vreemde stowwe en materiaal in hulle voer en daarom moet Alzu skoon mielies vir hulle vark- en kuikenvoer gebruik. Hulle verkoop ook heel mielies en vandag kan hulle dit as 98% skoon bemark. Alzu ondersoek ook die moontlikheid om die sifsels vir beesvoer te gebruik.

Alzu se mielies uit die lande het heelwat skoonmaakwerk nodig. Almaz se saadskoonmaker en -skeier het hierdie probleem woertswarts opgelos.

Arno Pieterse is die onderhoudsbestuurder by Alzu se voermeule en hy moes vroëer vanjaar ’n plan maak om die mielies skoon te kry. “Ek het gaan google en navraag by vyf verskaffers gedoen. Net Almaz het op ons navrae gereageer.”

Arno het sy huiswerk deeglik gedoen. Hy het eers ander kliënte van Almaz gebel. ’n Voerfabriek wat hy gekontak het, het baie goeie resultate behaal toe hulle sorghum en hawer van mekaar geskei het. “Die volgende dag het Allen Mackay en sy span van Almaz die masjien vir ons kom opstel en ’n demonstrasie vir al ons direkteure gedoen. Hulle was baie in hulle skik,” sê Arno.

Die skeier en sy ondersteuende konstruksie en toebehore is begin Junie opgerig en begin Julie het hy begin werk. “Ons jaag nou so 65 tot 70 ton per uur deur die skeier,” sê Arno.

Die mielies wat uit Almaz se saadskoonmaker en -skeier kom is silwerskoon en gereed om verkoop te word, sê Arno Pieterse.

Volgens Arno moet Almaz se mededingers drie masjiene inspan om dieselfde resultaat te lewer. “Hulle het een masjien om die kankerroos, klein, giftige sade, stof en fyn sifsels uit te haal. Dan het jy ’n masjien met siwwe nodig om die saad te skei en derdens moet jy ’n sikloon insit. Almaz bespaar dus vir ons krag, arbeid en onderhoud. Die ander masjiene gebruik siwwe wat jy kort-kort moet uithaal en skoonmaak. Almaz se skeier hoef jy net een keer elke maand of selfs elke tweede maand oop te maak en skoon te blaas en daar gaan jy,” sê Arno. “Ons is tans besig om die masjien te outomatiseer sodat dit nog makliker kan werk en minder arbeid gebruik.

Almaz sien om na hulle kliënte. “Allen bel my gereeld om te hoor of sy masjien reg loop. In die begin het hy my gewys hoe om die regte blaassterkte te stel en toe kom ek maklik reg. Jy kan die masjien sommer so met die oog stel tot dit reg is,” sê Arno.

Kontak gerus die Almaz-span by 087-897-5153 of 078-298-4114 of e-pos info@almazsa.co.za vir meer inligting. Besoek ook hulle webwerf by www.almazsa.co.za.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0