Akwaponika: Leer by die kundiges

20160922_113449
‘n Tweedag-werkswinkel oor akwaponika word eersdaags by die Universiteit van Stellenbosch aangebied. Die hoofspreker is dr James Rakocy van Amerika, wat bekend staan as die “Vader van Akwaponika”.
Akwaponika is die samevoeging van visse en plante in ‘n geslote natuurlike produksiestelsel.
Dr Rakocy het sy doktorsgraad in akwakultuur in 1980 behaal en doen al vir 39 jaar lank navorsing oor akwaponika. By die University of the Virgin Islands (UVI) het hy die UVI-akwaponiese stelsel ontwikkel. Die stelsel vorm die grondslag vir die meeste kommersiële akwaponiese stelsels wêreldwyd.
Hy het ‘n opleidingsprogram by UVI begin en reis die wêreld vol om belangstellendes toe te spreek oor dié tegnologies gevorderde en biologies vriendelike manier van boer.
Hoewel hy amptelik afgetree het, bied hy steeds werkswinkels aan en word gereeld genader om as konsultant op te tree.
Drie plaaslike sprekers gaan ook ‘n Suid-Afrikaanse perspektief gee, naamlik Henk Stander van die Universiteit van Stellenbosch, Leslie ter Morshuizen, ‘n bekende viskundige van Grahamstown en ‘n akwaponikaboer van Pretoria, Colin Bremner.
Kursusgangers sal inligting ontvang oor die beginsels van akwaponika, hidroponiese komponente, die UVI-stelsel, viskeuses, watergehaltebestuur, visproduksiebestuur, plantkeuses, plantstelsels, ekonomiese oorwegings en lesse uit die praktyk.
Die kursus word van 3 tot 4 Julie aangebied en kos R5 000. Kliek hier vir meer inligting of skakel 078-594-3665.


