Categories: NewsPublished On: 5th October 2015

Agrinet sorg nie net vir die hamer en die graaf op jou plaas nie.

By 7 min read
1356 words

Die belangrike rol wat die landbougroothandelaar en verspreider, Agrinet, in die boer se lewe speel, is onlangs tydens hulle jaarlikse handelskou bevestig. As jy meer as 30 000 produkitems onder jou skuur se dak het wat kieskeurig uitgesoek is om elke boer te laat aanhou boer, moet ‘n mens so nou en dan jou kleinhandelaarkliënte wys wie en wat jy is en aanbied.

Agrinet is die grootste verspreider van landbouhardeware en -toerusting in Suid-Afrika, waar hulle sake goed onder beheer is. Hulle voetspoor in Suider-Afrika is ook baie sterk en die volgende stap is om die reuse mark in die res van Afrika te ontgin.

“Afrika is ruwe mark wat jy moet verstaan,” sê Sean Bradshaw, HUB van Agrinet. “Gelukkig kan ons ons kennis van ons ontwikkeling in Suider-Afrika goed gebruik, want dit verskil nie veel van die res van Afrika nie. Hierdie is ’n natuurlike uitbreidingsproses waardeur Agrinet moet gaan en ons is baie goed op dreef. Ons kliënte is baie positief oor die manier waarop ons die mark bedien en ons het ’n sterk netwerk. Ons vind dat baie van die Suid-Afrikaanse koöperasies wat ook stewig in Suider-Afrika is, in Afrika inbeweeg en ons beweeg as’t ware saam met hulle in Zambië en ander noordelike lande in. Hulle ken ons reekse en dienste reeds vanuit Suid-Afrika.”

Brenda Herholdt, bemarkingskoördineerder van Agrinet, en Sean Bradshaw, HUB van Agrinet, is baie trots op hierdie raakvatmaatskappy wat sorg dat boere nooit hande in die hare oor plaastoerusting hoef te wees nie.

Daar is ’n baie sterk besproeiingsbehoeftes in Afrika. Agrinet gebruik nou die besproeiingskennis wat hulle reeds ingewin het en daar is ook wederkerige kennis in die maatskappy wat hulle nou gebruik om die maatskappy uit te brei.
 
Maar dit is nie net maanskyn en rose nie. Die rand word steeds as deel van die wêreldekonomie deur die dollar beïnvloed en wispelturige brandstofpryse het ’n reuse invloed op Agrinet se werksaamhede. Deur volume na te streef en hulle verskaffersketting so doeltreffend as moontlik te hou, kan hulle hulle pryse ook onder beheer hou. Soos hulle die omstandighede begin verstaan en beter vennootskappe bou, raak die taak gelukkiger makliker.

“In Afrika is volume nie ’n probleem nie. Ons is steeds in die beginstadium en alhoewel ons nie groot massaverspreiding doen nie, kan ons reeds behoueringskratte volmaak. Ons konsolideer nog bestellings of konsolideer dit met vervoermaatskappy se ander bestellings. Later sal ons die bestellings op ons eie trokke sit,” vertel Sean.
 
Die boere in Suid-Afrika se behoeftes verskil nie drasties van die wat in Zambië is nie. “Ons vind dat die produkte wat veral Zambië toe gaan dieselfde is wat ons plaaslik verkoop, want dit is meestal Suid-Afrikaanse boere wat daar gaan werk of ’n maatskappy van hier wat daar gaan vestig. Hulle ken ons produkte reeds en gebruik dit met groot sukses aan daardie kant,” sê hy.

Agrinet het twee handelsmerkkanale wat hulle vertroetel. Eerstens versprei hulle bekende plaaslike en internasionale handelsmerke aan koöperasies. Dan het hulle ook hulle eie handelsmerke wat hulle opbou deur hoëgehalte produkte wêreldwyd aan te koop om dit onder hulle eie naam te versprei, soos die nuwe Nexus-reeks wat alles rondom elektrisiteit behels. Kaufmann is ‘n ander bekende reeks wat elke boer al in ’n koöperasie gesien het. “Die rede is dat ons beheer oor ons produkte wil hê, sodat ons steeds gehalte kan waarborg as pryse daal. ’n Agrinet-produk moet steeds goeie waarde vir geld bly,” sê Sean.
 
Sean is lank in die land van groothandel. Hy het sy loopbaan by Spar, Builders/Massmart Shoprite geslyp en het begin deur rakke te pak en later voorraad aan te koop. Oor die snaakse behoeftes wat boere so nou en dan mag hê, gee hy die versekering dat Agrinet steeds verbruikersgedrewe is en altyd maniere sal soek om ’n boer te help.


KSB Pompe is in die 1900’s in Duitsland gestig en is vandag ’n wêreldmaatskappy. Hulle het in die 1950’s na Suid-Afrika gekom en hulle Germiston-tak se jaarlikse omset is ongeveer ’n miljard rand. “Ons bou pompe met ’n uitlaatdeursnee van 32 mm tot pompe waarin mens in die dryfrat kan loop waarmee seewater verplaas word,” sê Dwight Nortman. Links van hom staan Gideon Rocher en Anett Kriel.


Irrigation Projects is een van die Agrinet se gefokusde verskaffingsafdelings. “Ons verskaf items van die waterbron af tot by die spilpunt. Ons tegniese verteenwoordigers in die veld doen die verkope en dan kry ons die voorraadlyste en reik die aangevraagde items uit,” sê Carien Senekal. Regs van haar staan Xander Pieterse van ProAgri.


Flight is die handseepnaam wat boere ken om harnekkige ghries tussen hulle vingers uit te kry sodat hulle Sondag respektabel in die kerk kan lyk. Hulle is ’n trots Suid-Afrikaanse onderneming in Benoni en het hulle eerste seep in 1959 verkoop. Buiten Flight handskoonmaker, het hulle die M7-swaardiensontghrieser wat al 40 jaar op die mark is vir mense wat ratkaste en enjins in hulle werkswinkels skoonmaak. Flight het ook ’n spuitreiniger wat al 25 jaar oud is. Dit is ’n veeldoelige seep wat jy vir enigiets kan gebruik en is by die SABS en NRC as ’n antibakteriese skoonmaker wat 99% kieme doodmaak geregistreer. Jonathan Brauteseth is die trotse werknemer wat Flight se stalletjie beman.


Deon Jonker van Tip Top vertel dat die lap- en gomonderneming in 1929 in Duitsland gestig is en ontwikkel het tot Tip Top internasionaal wat vandag uit ’n klomp afdelings bestaan wat verskeie rubberprodukte soos vervoerbande en bandomruiltoerusting vervaardig. “Ek verkoop steeds baie lappe aan koöperasies, maar deesdae het koöperasies hulle eie bandwerkswinkels en groot boere rig hulle eie werkswinkels op die plase op en daarom verkoop ons nou ook bandomruilterusting aan hulle,” sê hy.

DSC_6194

Lydon Wade en Jerome Supra van GUD beman die bekende filtermaatskappy se stalletjie. GUD-filters is sedert 1948 in Suid-Afrika en Agrinet is een van hulle oudste verspreiders. “Die filtermark in Suid-Afrika raak beperk en daarom het die maatskappy Indy Oil twee jaar gelede ook deel van GUD geword, sodat daar uitgebrei kan word. Ons vervaardig nog filters vir voertuie en trekkers van so ver terug as 1970. Vir ouer voertuie raak dit nie meer lonend nie. Vir 99 persent van vandag se voertuie in Suid-Afrika het ons filters,” sê Jerome.

DSC_6198

GHS Health and Safety versprei al 20 jaar veiligheidsklere en toerusting. “Met die nuwe arbeidswette in landbou verkoop ons heelwat meer plaaswerkersbeskerming. Die stof- en gesigsmaskers is ons belangrikste produkte by Agrinet. Shaun Fritz verduidelik dat kodes op die filters: “P staan vir deeltjies, A organiese gasse, B vir anorganiese gasse, E vir Ammoniak en K vir militêre toepassings.”

DSC_6201

Lourens Boshoff is ’n bestuurder by Agrinet se meganisasie- en voertuie-afdeling wat daarop konsentreer om motoronderdele aan koöperasies te verskaf. Hierdie afdeling se produkte is veral gewild in dorpies waar daar nie motoronderdelehandelaars is nie. Die meganisasiegedeelte verskaf weer gefokuste boerderyonderdele soos ploegskare, harktande, beitelpunte, aftakkeraste en ratkaste. Die trekker waarby hy staan is by die boer, Jozua du Plessis, van Delmas geleen.

DSC_6202

Plusnet/Geotex is al 30 jaar in die mark en 90% van hulle mark is boere. Hulle kan van ’n 20% tot 90% skadunet verskaf. Hulle het ook spanne wat uitgaan om skadunette vir boere op te rig. Mark Delport en David de Beer beman die stalletjie.

DSC_6208

Pieter Nieuwenhuizen is die bekende Kaufmann-handelsmerkbestuurder. Kaufmann was eers sinoniem met gereedskap, maar Agrinet wil nou hulle buitelewereeks ook die treffende naam gee. “Ons het die handelsmerk verander deur ’n ander skriftipe en agtergrondkleur te kies, wat ’n beter gehaltepersepsie gee,” sê Pieter. Langs hom staan Hercules Oosthuizen, aankoper van OVK.

DSC_6211

Lasher was eers die South-African Shovel Company wat in 1928 in Germiston gestig is, maar het later ook pikke, tuinvurke en ander tuingereedskap begin maak. Hulle het nou al so ver ontwikkel dat hulle ’n selfoontoepassing bekendgestel het wat onder andere inligting rakende tuinbou, doen-dit-self, die weer en hulle produkreeks met spesifikasies bevat. Glen Hendry en Monique Latten is in beheer van die Lasher-stalletjie.

DSC_6218

Poltek is ‘n plastiekvervaardiger in Germiston wat fokus op pluimveeprodukte. Agrinet versprei ’n kwart van hulle produkte en hulle verskaf produkte aan kleinskaal- tot groot kommersiële hoenderboere. Farouk Ebrahim is verkoopsbestuurder van die maatskappy.

 

 

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0