Agrico leer pompe om self te dink

agrico 1
Waterbestuur was nog nooit so maklik nie, sê Justin Schietekat en Alfred Andrag van Agrico. Jy stuur ‛n bevel vanaf jou slimfoon of rekenaar via die toep na jou spilpuntbeheer om aan te skakel. Die stelsel bepaal dinamies hoeveel druk nodig is en die pompbeheerstelsel skakel self die pomp of pompe aan en wissel die spoed outomaties.
Die dae van met die bakkie afry pompstasie toe om die dag se besproeiing aan die gang te kry en om seker te maak dat elke spilpunt deur die dag (en nag) die water gee wat nodig is, is verby.
Met Agrico se pompbeheerstelsel wat by NAMPO vertoon is kan jy selfs van jou strandhuis af net loer of jou stelsel besig is om volgens jou beplanning spilpunte te beheer en dat jou pompe outomaties volgens die behoefte reageer.
Justin Schietekat, tegnologiebestuurder van Agrico, het boere by NAMPO gewys hoe maklik dit is om besproeiing ekonomies en doeltreffend van enige plek af te bestuur. Twee spilpunte se uitlate is gesimuleer; elkeen is op sy eie aan die internetbeheerstelsel gekoppel en kan afsonderlik aangeskakel word.
Elke spilpuntkraan het solenoïdebeheer en kan elektronies oopgemaak word. Die boodskap om aan te skakel gaan na die spilpuntbeheerkas en die pompbeheerstelsel, wat op sy beurt ook aan die wisselendespoedbeheereenheid (VSD) gekoppel is.
Die pompbeheerstelsel is ontwerp om die druk in ‛n totale besproeiingsnetwerk te beheer. ‛n Pompbeheerder beheer ‛n pompstel wat ‛n meesterpomp en tot agt bykomende pompe bevat. Die stelsel bepaal dinamies die optimale druk en kan outomaties beheer uitoefen deur pompe aan en af te skakel en spoed te wissel gegrond op die aanvraag.
Justin verduidelik dit so: “Gestel jy begin besproei. Die pompbeheerstelsel weet jy het 200 kPa by die spilpunt se middelpunt nodig. Die stelsel skakel die pomp aan en beheer dit deur die spoedbeheereenheid totdat die nodige druk bereik is. As jy dan ander spilpunte ook inskakel, sal hy die spoed van die meesterpomp aanpas, totdat dit nodig is om die volgende pomp of pompe aan te skakel sodat aan die waterdrukbehoefte op elke punt in die stelsel voldoen word.”
Hy sê jy het reeds die voordeel van wisselende spoedbeheer wat onder meer sagte aanskakeling en doeltreffende beskerming teen kragpieke bied, maar met die bykomende beheer bly jy altyd op die doeltreffendste kragbenutting.
“Ons wil krag bespaar, water bespaar en tyd bespaar. Dit beteken ons moet outomatiseer en ons stelsels deur ons slimfone en rekenaars bestuur,” sê Justin.
Nog ’n voordeel is dat Agrico op die stelsel ook toegang tot al die geskiedkundige en intydse inligting het en so probleme kan uitwys wat die tegnici kan help oplos.
Die beheerstelsel kan ook werk vir blokbesproeiing in boorde en wingerde; dit hoef nie net vir spilpunte te wees nie. Dit kan ook damvlakbeheer doen waar druksensors die inligting meer akkuraat kan deurgee as wat gewone vlotterskakelaars kan doen.
Justin sê: “Jy werk op ‛n persentasievlak vir die beheer. As jou besproeiing vol oop is en jou dam loop vinnig leeg tot op voorafgestelde hoogtes, dan kan die beheerstelsel tot vier pompe opeenvolgend aanskakel om die dam te vul.”
Hy sê ook afstand tussen pompe en damme is nie ‛n probleem nie, want daar is geen kabels wat gelê moet word nie. Die kommunikasie geskied deur die GSM-netwerk, wat dus wel beteken dat daar selfoonsein op die plaas moet wees. Agrico het ‛n wye reeks antennas en sal altyd eers die sein op die plaas toets voordat ‛n stelsel geïnstalleer word.
By NAMPO het die netjiese vraghouer waarin ‛n hele pompstasie en beheerstelsel pas, boere ook beïndruk. Alfred Andrag, operasionele direkteur van Agrico, sê: “Ons voer gereeld van die eenhede na lande verder noord in Afrika uit. Dit beteken ‛n boer hoef nie eers ‛n betonblad te gooi of ‛n pomphuis te bou nie en die diefstalgevaar is baie minder. Die pompe en elektromotore is vooraf korrek belyn wat betroubaarheid en veiligheid verhoog terwyl pypstres en installasietyd verminder word.”
Kontak Alfred Andrag by 082-824-1214, 021-950-4111 of Alfred.andrag@agrico.co.za om die wêreld van slim besproeiing te betree.

