Agri SA soek dringend klaarheid oor die ANC se 50/50-grondplanne

grondfoto
Agri SA het na afloop van die ANC se pas afgelope Algemene Raadsvergadering gevra vir dringende opklaring oor die amptelike beleid oor die sogenaamde 50/50-plan, met ander woord om 50% van elke plaas aan werkers oor te dra.
Minister Nkwinti is na afloop van die vergadering in die media aangehaal as sou hy gesê het dat die 50/50-voorstel nou amptelik ANC-beleid is. “Hierdie is ‘n baie sensitiewe saak wat binne konteks gestel moet word,” het Ernest Pringle, voorsitter van Agri SA se Landbou-ontwikkelingskomitee gesê.
Minister Nkwinti se oorspronklike voorstel, wat neergekom het op ‘n rigiede, gedwonge verbeurdverklaring van 50% van elke plaas op ‘n vasgestelde formule vir oordrag aan werkers sonder direkte vergoeding aan grondeienaars, is deur Agri SA en talle ander rolspelers verwerp as onwerkbaar, skadelik vir die sektor en waarskynlik ongrondwetlik. Agri SA huldig steeds hierdie standpunt.
Minister Nkwinti het sedertdien met belanghebbendes gekonsulteer en ‘n uitdaging aan die georganiseerde landbou gerig om alternatiewe voorstelle op die tafel te plaas. Agri SA het hierop gereageer deur voorstelle wat na sy mening werkbaar is, voor te lê. Tydens sy begrotingsrede het Minister Nkwinti bevestig dat hy ‘n meer buigsame benadering gaan volg na aanleiding van die alternatiewe voorstelle wat hy ontvang het. Tydens ‘n vergadering met die georganiseerde landbou op 22 Mei 2015 het hy weer bevestig dat grondeienaars toegelaat sal word om hulle eie vennote te kies, dat daar nie ‘n enkele model nagevolg sal word nie en dat daar insentiewe sal wees om deelname aan te moedig.
Na aanleiding van hierdie versekerings het Agri SA deelgeneem aan ‘n werkgroep wat kriteria vir loodsprojekte moes ontwikkel, sodanige projekte moes identifiseer en vordering oor ‘n tydperk van vier jaar monitor. Ervaring hiermee opgedoen sal verdere beleidsontwikkeling bepaal. Die kriteria maak dit duidelik dat deelname aan die projekte vrywillig en op gesonde sakebeginsels geskoei moet wees. Verder moet ‘n buigsame benadering gevolg word wat die voorsiening maak vir die diversiteit van die sektor. In dié verband is vaardigheidsoordrag, ekonomiese- en omgewingsvolhoubaarheid asook volgehoue produksie belangrike oorwegings.
“Dit is steeds Agri SA se verwagting dat bovermelde die basis is waarop die loodsprojekte bedryf sal word. Hierdie siening is in ooreenstemming met ‘n voorlegging van ‘n ministeriële taakspan van so onlangs as 4 Oktober 2015. Agri SA sal derhalwe dringend opklaring wil kry oor die korrekte bewoording en interpretasie van die regerende party se beleidsbesluit oor hierdie aangeleentheid” sê Ernest.