Agri SA sê NEE vir grondbesettings

agri-sa-logo-kleur-nuwe
“Daar was onlangs heelwat politieke retoriek oor grondbesettings wat ons voel baie onverantwoordelik is”, sê Johannes Moller, president van Agri SA. Hy sê dit is noodsaaklik dat die impak van die uitsprake en die uitwerking daarvan op voedselsekerheid en die algehele stabiliteit van die sektor verstaan word. Die stellings is strydig met die bepalings van die Grondwet wat voorsiening maak vir ordelike grondhervorming.
“In Zimbabwe het ons die verwoesting gesien wat gepaardgaan met grondbesettings en waar dit nie net enorme onsekerheid vanuit ‘n beleggingsperspektief veroorsaak nie maar ook diegene wat ‘n lewe uit die grond maak in ‘n armoede-situasie laat beland waar hulle hulself nie kan voed of ‘n bestaan kan maak nie,” sê Ernest Pringle, voorsitter van Agri SA se Beleidskomitee oor Landbou-ontwikkeling.
Hy sê: “Die waardeketting as geheel begin met die boere en maak nagenoeg 3% van die land se BNP uit. Waar die produksiebasis verkrummel, word duisende werksgeleenthede bedreig. Daar is ‘n nou skakeling tussen finansiële stelsels, landbou-veiligheid en belegging. Waar die primêre stukkie van hierdie legkaart beïnvloed word, ly die res,” sê Ernest.
“Ons moet hierdie aangeleenthede op ‘n baie verantwoordelike en volwasse wyse benader,” sê Johannes. “Ons is bereid om met enige party te praat ten einde oplossings te vind vir die transformasie van die sektor en die vestiging van suksesvolle nuwe kommersiële boere. Ons werk nou saam met die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye en die Departement van Landelike-ontwikkeling en Grondhervorming om projekte te loods en het reeds verskeie suksesse in hierdie verband behaal.
Grond as sodanig beteken nie veel sonder die nodige kapitaal en vaardighede om ‘n onderneming te ontwikkel wat winsgewend sowel as volhoubaar is nie. Daarom is ons die enigste land in sub-Sahara-Afrika wat voedselsekerheid geniet en ons kan nie waag om met ons suksesvolle formule te torring nie,” aldus Ernest.
Uitgereik deur Agri SA