Agri SA reageer ook op plaasveiligheiddebat in die Parlement

Agri SA logo Kleur NUWE
“Agri SA verwelkom debatte oor plaasveiligheid soos die wat in die Parlement gevoer is, mits dit konstruktief sal bydra tot die oplossing van plaasgeweld. Die gesprekke het weer eens die fokus geplaas op die kwesbaarheid van die landbougemeenskap en die mate van geweld waaraan hulle blootgestel word. Agri SA verwerp egter met minagting sekere parlementariërs se uitsprake, soos in die media gerapporteer, dat boere lewendig begrawe moet word. Hierdie uitsprake dra geensins by tot nasiebou nie, maar lei tot polarisasie van gemeenskappe,” sê Kobus Breytenbach, voorsitter van Agri SA se Landelike Veiligheidskomitee.
Volgens Kobus is dit nou belangrik dat die Parlement binne sy parlementêre stelsel aandag sal gee aan die skep van ‘n klimaat van verdraagsaamheid en die skep van ‘n begrip by die breër publiek, dat almal wat by die primêre landbou betrokke is, as ‘n bate vir die land beskou moet word. Deur die boerderygemeenskap te beskerm sal stabiele voedselvoorsiening aan die bevolking verseker word, wat verder noodsaaklik is vir stabiliteit in die land.
Die polisie moet deur die Parlement ondersteun word met die toeken van voldoende hulpbronne aan plattelandse polisiestasies om hulle in staat te stel om die Landelike Beveiligingstrategie en Reservistestelsel volledig uit te rol. Hierdie strategieë is omvangryk en kan ‘n daadwerklike bydrae lewer om die boerderygemeenskap se bestaande beveiligingsmaatreëls aan te vul en landelike gebiede veiliger te maak. Dit is verder belangrik dat die polisie op stasievlak die beleid en prosedure doeltreffend bekragtig, waardeur sigbare polisiëring verhoog en die landelike gebied gestabiliseer kan word.
Daar moet daarop gelet word dat die regering hom reeds verbind het tot die prioritisering van die veiligheid van die landelike gebied, waarby ingesluit is die boerderygemeenskap.
Die Parlement het in sy debat ook verwys na die afgesonderdheid waarin die boeregemeenskap woon en werk en dat hulle ver verwyder is van dienssentrums soos polisiestasies en dat dit een van die redes is hoekom dié gemeenskap so kwesbaar is teen aanvalle. Hierdie situasie kan oorkom word indien verdere hulpbronne aan die polisie beskikbaar gemaak word om die Landelike Beveiligingstrategie te bekragtig.
Bron: Agri SA