Categories: Artikels, MeganisasiePublished On: 25th May 2026

Agri Afrika beïndruk by NAMPO met die nuwe Legend-reeks

By 4 min read
803 words

NAM05748

Agri Afrika se standplaas by NAMPO is altyd vol nuwe en interessante implemente om boere se lewens te vergemaklik, en hierdie jaar was dit geensins anders nie. Die maatskappy het met groot trots hul nuwe Legend Silo Bagger en Legend Cross Till by die skou bekend gestel.

Agri Afrika se nuwe Legend Silo Bagger.

Die Legend Silo Bagger

Hierdie masjien word gebruik om produkte soos mielies, soja, sonneblom en koring in ’n lang “worsvorm” te berg. Die Silo Bagger het ’n slim sakmeganisme waarmee jy die sak aan die agterkant ophys. Die graan word van bo af ingevoer en die invoergeut het ’n gerieflike skuinste  sodat jou tapkar die gewasse maklik kan uitlaai.

Die hysmeganisme sak tot op die grond sodat jy die sak tot heel bo kan optel. Die voermeganisme is teen ’n hoek geïnstalleer om te sorg dat enige reënwater dadelik wegdreineer.

Die agterkant van die nuwe Legend Silo Bagger. Hier kan 3 m-sakke opgehys word om volgemaak te word.

Die nuwe Legend Silo Bagger se invoergeut is teen ’n skuinste sodat reënwater kan afloop.

Agri Afrika is ook een van die enigste vervaardigers wat ’n dromremstelsel op die as gebruik. Hierdie stelsel word hidroulies beheer om die drukking in die sak presies te reguleer. Dit is ’n eenvoudige handhidrouliese stelsel wat opgepomp word om die vereiste druk te verkry voordat jy dit met ’n kraan afsluit.

Die Silo Bagger is toegerus met 717 mm-bande – van die grootste op die mark – om addisionele remvermoë te bied en die maksimum kompressie in die sak te verseker.

Nog ’n unieke eienskap is die hidrouliese silinder wat help om die werkposisie korrek in te stel. Wanneer jy die masjien wil skuif, maak jy bloot die silinder korter; dit lig die hele masjien op sodat jy hom maklik kan rondskuif.

Die masjien gebruik 3 m-sakke (9 voet), spog met ’n uitlaaikapasiteit van 500 ton per uur en benodig ’n 45 kW-trekker om hom te sleep.

Agri Afrika se nuwe Legend Cross Till-grondbewerker.

Die Legend Cross Till

Nog ’n opwindende nuweling is die Legend Cross Till-grondbewerker. Die masjien is ontwerp nadat kliënte aangedui het dat hulle ’n werktuig soek wat vertikale, minimum én konvensionele bewerkings kan hanteer.

Die naam verklap presies wat hy doen: hy beweeg oorkruis tussen vertikale en konvensionele bewerkings.

Die Legend Cross Till het ’n vlakwyser om die masjien so parallel as moontlik in te stel.

Die Cross Till het ’n vlakwyser (level indicator) om die masjien so parallel as moontlik in te stel. Die snydiepte kan gerieflik hidroulies vanuit die trekkerkajuit vorentoe en agtertoe verstel word.

Een van die opwindendste kenmerke is die 56 cm-skottels (22 duim) gekromde skottels, oftewel “razor”-skottels. Die masjien het ’n werkdiepte van 0 mm tot 225 mm.

Deur die grade van die masjien te verander, wissel jy moeiteloos tussen konvensionele minimum-till en no-till-bewerkings.

Die skottels van die nuwe Legend Cross Till het ’n kurwe en die grade waarteen die skottels gestel word bepaal of hy as ’n konvensionele, minimum till- of geen till-masjien gebruik kan word.

Wanneer die skottelhoek byvoorbeeld op nul grade gestel is, sny die masjien die oesreste en laat dit bo-op die grond lê. Vir ’n meer vertikale bewerking kan die hoek na drie grade aangepas word, wat die reste in die grond vaspen en ’n egalige saadbed voorberei. Met konvensionele bewerking kan jy ook onkruid doeltreffend verwyder.

Die skottels word volgens die verlangde bewerking gestel: tussen nul en drie grade vir vertikale bewerking, tussen drie en ses grade vir minimum bewerking, en vanaf ses grade en meer vir konvensionele bewerking.

Die Cross Till kan direk agter die stroper aanloop om materiaal in te werk, en is ook ideaal vir kalkregstellings. Agri Afrika het hiermee ’n unieke, veelsydige 3-in-1-werktuig ontwikkel wat in elke boer se behoeftes voorsien.

Omdat dit ’n hoëspoedmasjien is, is die skottels doelbewus ver uit mekaar geplaas. Dit laat toe dat die eerste snit gedoen word en die materiaal gaan lê voordat die tweede sny-aksie volg.

Agri Afrika se nuwe Legend Cross Till het harke wat die grond meng en die reste bo-op die grond plaas.

Die Legend Cross Till het ook harke wat die grond meng en die reste bo-op die grond plaas. Aan die agterkant is daar silinders wat op ’n dubbelrollerstelsel gekoppel is sodat jy die gronddruk kan aanpas.

Die rollers op die nuwe Legend Cross Till kan oplig indien hy in sagte gronde gebruik word waar kompaksie nie nodig is nie.

Dit beteken jy kan die grond agterna konsolideer, of die rollers hidroulies uittel as jy in baie sanderige grond werk en nie die rollers wil gebruik nie. Jy het ook altyd die keuse om met ’n enkel- of dubbelroller te werk.

Om meer te leer oor hierdie opwindende nuwe produkte, of om na Agri Afrika se reeds bestaande staatmakers te loer, besoek hul webtuiste by www.agriafrika.co.za

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0