Agbiz en Agri SA reageer op die staatsrede

jacob zuma
President Jacob Zuma het weer, soos verlede jaar, te midde van chaos, met lede van die EFF wat onder meer uitgegooi is, sy staatsrede gelewer.
Johannes Moller, president van Agri SA, sê: “Te midde van moeilike omstandighede het president Zuma homself goed gedra terwyl hy die staatsrede gelewer het.” Hy voeg by dat die verrigtinge wat plaasgevind het beslis nie ‘n land weerspieël waar mense probeer om die welsyn van alle burgers op ‘n ordelike en gedissiplineerde manier te verbeter nie.
Mnr Moller sê dat Agri SA vooraf gevra het vir staatsmanskap in die hantering van die vele ekonomiese en maatskaplike euwels van die land. “President Zuma het ‘n paar kwessies in ‘n visioenêre wyse hanteer en die beginsels oor transformasie wat deur hom uitgedruk is, kan in my oogpunt, veral op ‘n koöperatiewe basis, tussen die regering en die privaatsektor in werking gestel word.”
Agbiz sê dat die uitsprake voor die staatsrede oor die onteiening van 70% van Suid-Afrika se grond (die regering het alreeds min of meer 25%) tesame met uitsprake oor radikale ekonomiese transformasie onsekerheid in die landbousakesektor geskep het.
Dr John Purchase, besturende direkteur van Agbiz, gee sy mening oor Zuma se staatsrede: “Deur radikale sosio-ekonomiese transformasie beter te defninieer en dat dit grootliks deur die bestaande wetlike raamwerk gedryf word, is ‘n goeie beginpunt vir verdere betrokkenheid. Dat grondhervorming uitgevoer sal word binne die Grondwet, is ook ‘n goeie vertrekpunt. Die voorgestelde wysiging aan die Mededingingswet waarna Zuma verwys het om sogenaamde konsentrasie in eienaarskap aan te spreek is ook ‘n interessante byvoeging tot die debat.
“Die staatsrede sê te min om die nodige strukturele verandering in die ekonomie te kry om binne die volgende paar jaar ’n groeikoers van 4% tot 6% te kry. Hoe meer die regering ingryp en in die ekonomie ‘speel’, soos in die staatsrede gesê is, hoe meer sku gaan belegging van die private sektor word en na alternatiewe geleenthede soek.”
Hy voeg by dat Agbiz volhoubare transformasie ondersteun, maar daar is ook ‘n algemene bekommernis dat die regering se plan om “tot die maksimum die strategiese hefbome van die staat gaan benut” sal lei tot oorregulasie in die bedryf wat die privaatseketor negatief sal beïnvloed en voedselsekuriteit in gevaar sal stel.
Mnr Moller van Agri SA voeg by en sê: “President Zuma het melding gemaak van lofwaardige grondhervormingsinisiatiewe wat deur boere in samewerking met plaaswerkers gelei is. Hy het ook die belangrikheid van die Nasionale Ontwikkelingsplan en die Grondwet beklemtoon. Dit is die baie raamwerke wat Agri SA ook gebruik om werkbare grondhervormingsvoorstelle aan die regering aan te bied.”
Hy sê ook dat Agri SA soos in die verlede sal voldoen aan die versoek van die president om saam met die SAPD te werk om veiliger gemeenskappe te verseker.
President Zuma het genoem dat R2,50-miljard gegee is vir droogtehulp, maar Agri SA bevraagteken hierdie bedrag. Volgens Agri SA is baie min ondersteuning aan boere gegee. “Ons sal wel met die Departement van Landbou betrokke raak om te hoor hoe hierdie bedrag uitgewerk is.”
Agbiz meen dat die staatsrede vir 2017 nie werklik inspirerend was nie en daar is kommer oor of daar ’n sterk, samehangende en omvattende ekonomiese strategie bestaan om die probleme van Suid-Afrika op te los.
Bron: Agbiz en Agri SA