Categories: Artikels, HulpbronbestuurPublished On: 24th July 2018

AfriSake KragDag: Die “Doen-jou-eie-ding!”-ekspo

By 4 min read
732 words
kragdag

kragdag 2

(Artikel verskaf)

Dit is amper weer tyd vir KragDag, die grootste alternatiewe energie- en selfstandigheidekspo in die land. KragDag het in 2007 ontstaan toe die energiekrisis in die land duidelik begin word het. Dit het tot die eerste KragDag-ekspo in 2008 gelei, gelyklopend met die eerste rondte van beurtkrag in Suid-Afrika.

Na meer as ’n dekade se herhaalde terugkeer van hierdie probleem, sal dit naïef en dwaas wees om nie die energierisiko ernstig op te neem nie. Die beleggingsbank, Goldman Sachs, het immers verlede jaar verklaar dat Eskom die grootste bedreiging vir Suid-Afrika se ekonomie is.

Aan die positiewe kant het die prentjie en potensiaal van alternatiewe energie die afgelope dekade geweldig verbeter, met tegnologiese vordering en ’n drastiese daling van pryse, wat in talle gevalle die waarde van Eskomkrag verbygesteek het – geen wonder dat die regering nou weer wetgewing en regulasies wil loods om mense se gebruik van alternatiewe energie te belemmer en te belas nie.

AfriSake KragDag 2018

Soos in 2008, fokus vanjaar se AfriSake KragDag-ekspo steeds prominent op die uitstal van alternatiewe energie-oplossings, maar nie in reaksie op die bedreiging van Eskom se mislukkings nie – dit is eerder ’n inisiatief om mense met oplossings toe te rus om selfstandig te raak – ook op energiegebied.

Dit is vanjaar die tiende KragDag-ekspo en oor die jare het dit gegroei tot waar dit vandag ook blootstelling gee aan selfstandigheidsoplossings op verskeie ander lewensterreine. Die doel met die ekspo is om tegnologie en mense se skeppingskrag en inisiatief te vier, en terselfdertyd met die leuse “Doen jou eie ding!”, mense aan te moedig om skeppend te bou aan ’n volhoubare selfstandige vryweeslewe, deur self verantwoordelikheid vir hulle lewe te neem.

Die KragDag-tema strek tans naas Energie oor verskeie terreine soos Opvoedkunde, Veiligheid, Tegnologie, Water, Voedselproduksie, Gesondheid, Konstruksie, Ontspanning, Vervoer, Ekonomie, Finansies, Doen-dit-self-planne, die bevordering van ’n Makersbeweging en Ondernemerskap en selfs ’n bietjie lewensbeskoulike Filosofie.

13 000 besoekers verlede jaar

Die tema van hierdie jaar se ekspo is Grondslag vir Selfstandigheid. Teen die agtergrond van die huidige aktualiteit van grond en grondonteiening, word erkenning en beskerming van eiendomsreg in alle vryheidsindekse regoor die wêreld beskou as een van die pilare van vryheid. Terselfdertyd is die self verantwoordelikheid neem vir jou en jou gesin se lewe, díe grondslag vir selfstandigheid.

KragDag bied ’n begeesterende, leersame dag in ’n karnavalatmosfeer. Alhoewel jy volop genot en vermaak by KragDag sal beleef, is KragDag uniek omdat jy nie net ’n vermaaklikheidstoeskouer is nie, maar ’n deelnemer aan interaksie met dinge wat ’n verskil in jou lewe kan maak. Die uitwerking van die vryweesfilosofie wat integraal deel is van KragDag en die uitstallings wat hiermee handel, kan nuwe deure in jou lewe oopmaak.

Waar, wanneer en kostes?

KragDag vind vanjaar plaas vanaf Donderdag 9 Augustus (openbare vakansiedag) tot 11 Augustus op die KragDagterrein te Diamantvallei Landgoed, sowat 20 km oos van Pretoria. (Tik net KragDag in op Google Maps vir roeteaanwysings.)

Een dag se bywoning is eintlik te min om by alles uit te kom en daarom word verskeie oornagplekke op KragDag se webtuiste aangedui, wat ’n kampterrein op die KragDag-perseel insluit. Daar is ook ’n landingstrook vir helikopters op die terrein en ’n vliegveld vir vliegtuie by die aanliggende Rhinopark.

Die KragDag-ekspo is ’n gesinsgeleentheid en toeganklikheid vir gesinne word verhoog deur gratis ingang vir kinders tot 18 jaar. Vir volwassenes is die hekgeld R80 per persoon. Gratis ingang is egter ook moontlik indien jy teen 7 Augustus op KragDag se webtuiste registreer. As jy vooraf geregistreer het of eenmaal deur die hek is, gee dit ook vir jou gratis toegang vir die ander twee dae.

Wat kan jy vanjaar te wagte wees?

  • Sowat 300 uitstallers, waarvan die belangrikste komponent uitstallers binne die selfstandigheidstema is
  • ’n Opvoedkunde sub-ekspo
  • ’n Snuffelmark
  • ’n Pretpark en helikopterritte
  • ’n Massiewe verskeidenheid verversings
  • Junior Entrepreneur-uitstalling en -kompetisie
  • Makerkompetisie
  • Bandomdop-wêreldrekordpoging
  • ’n 4×4 opleidingsbaan en bergroete

Gratis bywoning van lesings in die KragDag-raadsaal (20 sprekers oor drie dae) plus paneelbesprekings oor ekonomiese vooruitsigte (gelei deur die bekende ekonoom, Dawie Roodt), Veiligheid (gelei deur AfriForum en TLU SA) en Eksponensiële Tegnologie.

Diegene wat nie die Jolt, Suid-Afrika se eerste elektriese 4×4-bakkie, by NAMPO te siene gekry het nie, sal by KragDag die geleentheid kry. Tussen die ander elektriese voertuie en groot verskeidenheid uitstallings met interessante produkte, is dit een van die baie dinge om na uit te sien.

Vir meer besonderhede gaan loer op KragDag se webtuiste www.kragdag.co.za.

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0