Aartappelkweker van die jaar 2016

aartappelkweker-van-die-jaar-jp
By die Moerkwekersforum in Umhlanga, KwaZulu-Natal is die aartappelkweker van die jaar aangekondig. JP van den Berg van Noordwes het hierdie gesogte toekenning vir 2016 ontvang by die Bayer-gala-ete gedurende die Moerkwekersforum.
JP het by ontvangs van die prys gesê dat boerdery nie ‘n eenmanvertoning is nie, maar dat sy sukses te danke is aan ‘n hele span wat agter hom staan.
Die ander finaliste van die jaar was Frans Engelbrecht (Noordwes) en W & K Boerdery (Wes-Vrystaat). Al drie finaliste is Wesgrow-boere. Drie jaar se sertifikasiedata (vanaf registrasie tot beheerresultate) is gebruik om die wenner te bepaal.
Bayer en die Aartappelsertifiseringdiens streef daarna om voort te bou op gehalte as die hoeksteen vir die bedryf. Albei organisasies staan vir volhoubaarheid vir alle belanghebbendes in die aartappelbedryf.
Na ‘n moeilike jaar tydens die 2015/16 droogte, is dit baie duidelik dat volharding en betroubaarheid twee eienskappe is wat spelers in die aartappelbedryf sal ondersteun. Bayer, die hoofborg van die toekennings en verskaffer aan JP, streef daarna om toegang tot vernuwings te verskaf deur in navorsing te belê wat die boer help om homself teen probleme soos virusse te verdedig. So word volhoubare aartappelproduksie bevorder.
Bayer het tydens die geleentheid hulle belofte van “Committed to the Future” bekendgestel, waarvolgens hulle die uitdagings van die toekoms verantwoordelik wil bestuur.
Saam met die 18de toekenning aan die moerkweker van die jaar vier die Aartappelsertifiseringsdiens hulle 21ste bestaansjaar. Die diens het die afgelope 21 jaar ‘n leidende rol gespeel in die verskaffing van plantmateriaal van die hoogste gehalte aan die aartappelbedryf.
Bron: Orange Ink
Foto (Van links na regs): JP van den Berg en sy vrou, Linné, Sanette Thiart, besturende direkteur van Aartappelsertifiseringdiensn en Hennie van der Westhuizen, besigheidsbestuurder van Bayer.