Categories: MeganisasiePublished On: 25th May 2017

Aartappelboer stem saam: Valtrac en Valtra knikker staantyd uit

By 4 min read
779 words
valtra

valtra mei 2

“Staantyd” is ’n baie lelike woord wat enige boer liefs nooit wil nodig hê om te gebruik nie. Ongelukkig kan gewone trekkers en gewone diens daardie nare woord soms ongevraagd op ’n boer afdwing. So het dit al by GC Boerdery naby Dendron gebeur dat van die gewone trekkers tot ’n maand lank buite aksie staan terwyl daar op onderdele gewag word.

Dit is een van die redes waarom Nicky Prinsloo van GC Boerdery na nuwe perdekrag en diens gesoek het. Hy het in ProAgri gelees dat die Finse Valtra-trekker al twee keer aangewys is as Trekker van die Jaar en het verlede jaar by NAMPO na die verskillende keuses gaan kyk. “Ons het besluit om net eers ’n kleiner trekker aan te koop wat ons vir ’n wye verskeidenheid take op die plaas kan gebruik,” sê Nicky.

’n Mooi rooi Valtra A95 van 74,5 kW het onlangs sy opwagting op die plaas gemaak en oortref tot dusver Nicky se stoutste verwagtinge: “Hy het nou so 500 uur gewerk en gebruik ’n derde minder diesel as ander trekkers in dieselfde klas.”

Die boerdery se hoofbedryf is aartappels en daar is ook ’n groot bees en wildvertakking, met gepaardgaande voerproduksie. Die A95 word ingespan vir enigiets van grondvoorbereiding tot aartappels uithaal en voermaak. Nicky sê die Valtra sleep en lig die 4-skaar, 560 mm-ploeg wat hulle gebruik met gemak. Die trekker word ook ingespan om te help aartappels uithaal.

Van Junie tot Desember word daar elke week tien hektaar aartappels geoes en die A95 het geen probleem om die aartappelwaens uit die land te sleep nie. Die trekker kan ook gebruik word vir skoffelwerk, want hy staan lekker hoog en Nicky-hulle het vir hom smal bande laat aansit (13.6 / 38) sodat hy in die lande kan werk sonder om die plante te beskadig.

Verder word die trekker gebruik om die tolsnyer en baler te sleep en ook sorghum vir voer te sny. Nicky sê dit is ’n heerlike middelslagtrekker wat orals op die plaas aangewend kan word. Oor Valtrac se legendariese diens kan Nicky ook nie uitgepraat raak nie. Hy sê die trekker is op die skip beskadig en kort nadat die A95 op die plaas afgelaai is, kon hulle agterkom daar is fout met die ratte.

“Daardie ouens van Parys lewer uitstekende diens. Hulle het vir ons ’n ander trekker gebring sodat die werk onverpoosd kan voortgaan en ons trekker perfek reggemaak. Daar was nog nie weer ’n probleem nie.”

Een van die groot bielies in die T-reeks is ook op die plaas getoets en sy brandstofverbruik was 14 liter per uur teenoor ’n vergelykbare gewone trekker se 25 liter.

Só lyk die A95

Die A-reeks van Valtra bied aan boere in Suid-Afrika betroubare, bewese krag saam met moderne kragoordragtegnologie. Nicky se trekker het 16 vorentoe- en 8 truratte wat ten volle gesinkroniseerd is en ideaal is vir sleepwerk. Daar is ook ’n rat-opsie van 12 vorentoe- en 12 truratte as jy meer nut het vir stadige kruiptrekwerk. Die trekker is vierwielaangedrewe met ’n turbo-aangejaagde AGCO Power-enjin met interverkoeling. Die A95 se enjin lewer 74,5 kW.

Nicky sê die trekker is maklik om te verstaan en gerieflik vir die operateur. Die plat vloer maak in- en uitklim maklik en daar is nie ’n kans dat jy jouself kan brand teen ’n warm enjin nie. Die hefbome is gerieflik onder jou regterhand en as jy wil kan jy jouself gemaklik met die elmboog op die modderskerm tuismaak vir ’n goeie dag se werk. Die geïntegreerde brandstoftenk beteken dat die trekker goeie grondvryhoogte het om ook in groentelande aangewend te word.

Die A95 het ’n tweespoed-kragaftakker en Nicky sê dit beteken jy hoef nie teen hoë enjinomwentelinge te werk nie. Die hidrouliese kragaftakker is sterk genoeg om selfs teen lae enjinomwentelinge masjinerie, soos die baler, aan te dryf, met die gevolg dat daar minder diesel gesluk word.

Die driepunt kan 3,2 ton optel en is dus veral nuttig vir swaardiens opligwerk. Die A95 kan ook toegerus word met ’n voorste kragaftakker en hyser. Een van die unieke eienskappe van Valtra is dat jy jou trekker se kleur kan kies. Nicky het ’n metaalrooi trekker….“Ag so bietjie sentiment, want die goeie ou Volvo-trekkers was mos rooi…”

Word deel van die Valtrac-familie en kry 110% diens. Kontak Attie de Villiers by 083-261-9863, 056-817-8006 of attiedev@valtrac.co.za. Besoek ook www.valtrac.co.za vir meer inligting.

Valtra

Nicky Prinsloo, bestuurder van die beesafdeling, en Neil Lyon, bestuurder van die aartappelafdeling, van GC Boerdery by Dendron, sê die Valtra A95 se werklus en die mense van Valtrac se legendariese diens maak die boer se lewe heelwat makliker.

Valtra

Let op die gerieflike plasing van die handkontroles en die ruim, plat vloer van die Valtra A95.

0
Views: 313Comments Off on Aartappelboer stem saam: Valtrac en Valtra knikker staantyd uit

Deel hierdie artikel.

0