A-Kandidaat: Mercedes se nuwe buksie propvol verrassings

Mercedes-Benz-A-Class-2019-1280-3e
Die A-Klas het al ‘n ver pad gery sedert die internasionale bekendstelling van die eerste model nagenoeg 21 jaar gelede. Toentertyd se ontwerp het soos ‘n wigkoek gelyk met ’n hoë regaf agterkant wat skerp na ‘n plat neus voor geëindig het, en het soos eier in die gesig van Stuttgardt se ringkoppe ontplof toe ‘n joernalis die buksie op ‘n renbaan tydens die mediabekendstelling omgerol het. Mercedes het egter die internasionale verleentheid in ‘n geleentheid omskep, deur met etlike baanbreker vernuwings in die verbeterde model na vore te tree.
Verskeie kosmetiese veranderings het oor die jare gevolg totdat die derde generasie in 2012 verskyn het. Weg was die wigvormige-winkeltrollie-oumakarretjie-voorkoms en die nuwe sportiewe moderne ontwerp het die grondslag gelê vir die A-Klas se suksesverhaal sedert dan met wȇreldwye verkope van bykans 6 miljoen eenhede. Die ferm veerstelsel en effe harde rit het egter kritiek ontlok, maar hantering en voorkoms het die verkope onder ‘n jonger generasie, wie die status van ‘n Duitse luukse handelsnaam voorop stel, laat opvlam.
Met die 2019 model het Mercedes opnuut vernuwing en ‘n moderne ontwerp nagejaag. Die jongste A-Klas ry ook nou met nuwe geslag enjins en is propvol tegnologie gelaai. En ja, die nuweling ry strate beter danksy verbeterde en verstelbare vering.
Wat voorkoms betref vertoon die 2019 A-Klas veel meer modern as die uitgaande model. Die ontwerpers se stileringsfilosofie van “sensuele suiwerheid” kan gesien word in die vloeiende lyne en ronder hoeke. Die neus neig steeds skuins grond toe, maar die sierrooster is nou regop geplaas vir ‘n varser moderne voorkoms. Die groot drie-punt stér in die middel van ‘n nuwe sierroosterontwerp vertoon meer statig, terwyl die nuwe hooflig ontwerp wat skrefies oop na agter swiep bydra tot die nuweling se visuele trefkrag.
Die sportiewe voorkoms van die nuwe A-Klas word beklemtoon met die voorvenster en daklyn wat skuins na agter val asook die groter uitgeboude wielboë om die tot 19” wiele te kan akkommodeer. Die resultaat is ‘n segmentleidende sleursyfer van 0,25 wat laer is as die van ‘n fietsryer en sy fiets!
Stuttgart het dit egter reggekry om die nuweling ook groter (120 mm langer, 16 mm hoër en 6 mm wyer), maar tog 20 kg ligter as sy voorganger te maak. Die gevolg is meer beenruimte vir die insittendes asook 29 liter meer pakplek in die bagasieruim. Van agter beskou is die ontwerp myns insiens minder treffend, selfs met die nuwe 2-deel agterligontwerp.

Die verrassing is egter binne in die kajuit. Mercedes het dit reggekry om ‘n mengsel van weelde, sportiwiteit en ‘n moderne voorkoms te vermeng tot ‘n klasleidende eindproduk wat myns insiens baie kopers sal geval. Veral die knoppiebelaaide stuurwiel wat net so uit die vlagskip S-klas na die A-Klas oorgedra is bied baie waarde. Ook die R10 000 opsionele ekstra breë raakskerm wat, soos by die veel duurder S- en E- klas modelle, van die middel van die voorpaneel soomloos strek tot agter die stuurwiel waar dit ook die toereteller spoedmeter en ander instrumentasie inkorporeer.
Mercedes se nuwe MBUX – multimediastelsel wat standaard in die A-Klas is, kom met ‘n vernuwende gebruikersvriendelike, maklik aanpasbare stemaktivering wat die nuweling bo sy mededingers laat uitstyg. Hierdie stelsel, danksy die hulp en spoed van 4G, laat jou toe om op ‘n natuurlike manier met die rekenaar te praat waarna die opdragte (wel, ek moet erken daar was ‘n probleem toe ek probeer het om die stelsel sover te kry om “boeremusiek” te speel) onmiddellik uitgevoer word.
Die lugversorging, sondak, tipe musiek, roetes, ens, kan met hierdie stelsel beheer word en hierdie “kunsmatige intelligensie” leer jou stem en uitspraak al beter ken hoe meer jy dit gebruik. Die stelsel bou ook ‘n geheue op van jou voorkeure met musiek, padroetes, telefoonkontakte, ens. Verbasend is ook dat die stelsel selfs voorstelle kan maak, soos byvoorbeeld as jy nie na jou gewone stasie luister nie, sal die stelsel vra of jy nie dalk wil oorskakel na gereelde sender nie. Of die tipe musiek, of selfs jou gunsteling restaurant of koffiewinkel! Uiteraard sal die stelsel via Mercedes eers jou toestemming vra om jou persoonlike inligting en data te mag gebruik.

Byvoorbeeld :
Ekke : “Hey Mercedes”
Stelsel : “What can i do for you?”
My opdrag : “Open the sunroof?”
Stelsel : En daar skuif die sondak oop
Ekke : “Hey Mercedes”
Stelsel : “What can i do for you?”
My opdrag : “ I am getting cold”
Stelsel : Die stelsel het dadelik die temperatuur met 2 grade warmer verstel
Ekke : “Hey Mercedes”
Stelsel : “What can i do for you”
My opdrag : “Please play some classical music”
Stelsel : Die stelsel het dadelik van radio oorgegaan na klassieke musiek
Die MBUX stelsel bied ook vernuwende navigasie funksies wat onder meer noodremming insluit asook wat Mercedes noem, “On-Street Prediction”, “ Real-Time Information” en “Off-Street Information” wat die naaste en maklikste parkeeropsies uitwys. Die stelsel bied ook Mercedes se “real-time parking” en die vermoë om half outonoom te bestuur sonder bestuurder insette in sekere situasies. Dit word gedoen met die hulp van verbeterde aanboord kameras asook ‘n radarstelsel wat tot 500 meter vooruit in die pad kan “sien” wat met die verkeer aangaan! Dit sluit ook Mercedes se verbeterde Aktiewe remhulp (ABA) as deel van elke nuwe A-Klas se standaard toerusting. Hierdie stelsel verminder impak sou ‘n botsing agter in stadige verkeer, voertuie wat hard en/of skielik rem of selfs stilstaande verkeer, onvermydelik wees. Die stelsel reageer selfs om botsings met voetgangers of fietsryers te vermy.
Tydens die mediabekendstelling in Kaapstad was slegs twee modelle beskikbaar. Die A200 wat nou met ‘n nuwe generasie 1,33 liter turboaangedrewe viersilinder petrolenjin aangedryf word en A250 Sport wat toegerus is met ‘n nuwe 2.0 liter viersilinder turbopetrol kragbron. ‘n Dieselmodel sal in die eerste kwartaal aanstaande jaar plaaslik tot die modelreeks gevoeg word. Vir diegene wat steeds hou van ‘n ratkierie gooi is daar slegte nuus, die nuwe Mercedes A-Klas is geensins meer beskikbaar met ‘n handratkas opsie nie.
Die A 200 se 1.33 liter lewer 120 kW en 250 Nm wringkrag en stuur die krag na die voorwiele met behulp van ‘n 7G DCT dubbel-koppelaar ratkas. Amptelike brandstofvebruik word aangegee as 5,2 liter per 100 km.
Die A 250 Sport 2.0 liter petroloond skop 165 kW en 350 Nm se piek verrigting uit en is ook toegerus met dieselfde 7-G-DCT ratkas. Brandstofverbruik word aangegee as 6,2 liter per 100 km. Verbeterde brandstofekonomie is ook danksy die laer sleur, maar die nuwe enjins bied ondermeer “CAMTRONIC” vir die inlaat-nokasse asook ‘n verfynde partikel filter as standaard om kleiner teugies te drink.
Op die pad bied die nuwe A-Klas verskillende onderste- en veringopsies afhangend van die enjingrootte en bestuurdervoorkeur. “DYNAMIC SELECT” is deel van die standaardtoerusting en met die druk van ‘n knoppie kan gekies word tussen “Comfort” en “Eco” modusse. Die veerstelsel beheerstelsel (Active Damping Control) is egter ‘n opsionele ekstra. Soos met sy voorgangers gebruik die nuwe A-Klas ook ‘n McPherson stelsel voor en veelskakel bering agter. Die A250 Sport model kom egter met aanpasbare vering, groter wiele en ‘n beter vierskakel agtervering wat op ‘n subraam gemonteer is en met rubber van die bak geїsoleer is, ten einde vibrasie na die kajuit te minimaliseer.
Ons kon tydens die bekendstelling slegs met die A200 ry en ek was verstom hoe gemaklik die 1.3 liter enjin die A-Klas se gesofistikeerde en weelderige bak rondsleep. Verbasend het die enjintjie nooit aan krag mank gaan nie, selfs nie as ek effe haastig geraak het nie. Versnelling was goed met die ritgehalte, hantering en paddinamika veel beter as die uitgaande model. Teen hoë toere was die klein enjin effe raserig, maar met min wind- en padgeraas was dit dalk net beter hoorbaar.
Ek persoonlik is gaande oor die 2019 A-Klas se ontwerp en moderne kajuit en is oortuig die verkope gaan dit bevestig.

A-Klas modelle, spesifikasies en pryse:
| Model | A 200 | A 250 Sport |
| Ratkas | 7G-DCT | 7G-DCT |
| Enjingrootte (cc) | 1332 | 1991 |
| Kraglewering (kW) | 120 | 165 |
| @ rpm | 5500 | 5500 |
| Piek wringkrag (Nm) | 250 | 350 |
| @ rpm | 1620 | 1800 |
| Verbruik, gekombineerde siklus (l/100km) | 5.6 -5.2 | 6.5 -6.2 |
| CO2 emissies,gekombineerd (g/km) | 128-120 | 149-141 |
| Versnelling: 0-100 km/h (s) | 8.0 | 6.2 |
| Topspoed (km/h) | 225 | 250 |
| Aanbevole verkoopprys | R499 000 | R593 300 |