Categories: NewsPublished On: 15th March 2017

LNR-Kleingraan 2017-produksiehandleiding: Nou beskikbaar

By 2 min read
458 words
produksiehandleiding

Somer Afr

Deur Elri Burger, skakelbeampte, LNR-Kleingraan, Bethlehem

Die 2017-handleidings vir die produksie van kleingrane in die winterreënvalstreek is hierdie week by SKOG en Roodebloem se Voorsaai-Inligtingsdae beskikbaar. Daarna kan boere die boekies by hulle naaste Kaap-Agri en Overberg-Agri takke kry.  Die somerreënvalstreek (dit sluit besproeiing in) se boekies sal vanaf die week van 20 Maart versprei word na onder andere VKB, GWK, OVK en Senwes se takke landswyd. Boere kan die jongste resultate reeds op die webwerf kry by www.arc.agric.za/arc-sgi. Die boekies sal ook vanaf 20 Maart by LNR-Kleingraan in Bethlehem beskikbaar wees.

LNR-Kleingraan publiseer jaarliks hierdie kompakte handleidings met die nuutste inligting en resultate in Afrikaans en Engels. Hierdie handleidings gee aan boere baie duidelike riglyne waarbinne aanbevelings en produksiebesluite gemaak behoort te word.  Die aanbevelings sluit slegs dié kultivars in waarvan daar minstens twee jaar se resultate beskikbaar is en bevat die volgende inligting:

  • Kultivars;
  • Die optimum planttyd vir elke kultivar;
  • Die optimum  plantdigtheid  vir  die  spesifieke  plantdatum. Plantdigtheid in kilogram per hektaar word ook beïnvloed deur duisendkorrelmassa en plantdatum;
  • Die aanbevelings geld slegs vir graanproduksie;
  • Die kultivars word nie in volgorde volgens opbrengspotensiaal aangedui nie.

Aanvullend tot die kultivaraanbevelings wat in die boekies bespreek word, word die resultate ook per streek saamgevat. Die riglyne bied ‘n verwysingsraamwerk waarbinne meer spesifieke aanbevelings/keuses behoort te val. Met die opstel van die aanbevelings en samevatting is die volgende faktore in aanmerking geneem:

  • Graanopbrengs;
  • Aanpasbaarheid en opbrengsstabiliteit;
  • Aanvaarbare graankwaliteit;
  • Siekteweerstand;
  • Agronomiese eienskappe soos omval, pitvastheid, uitloop, ensovoorts.

Dit is vir navorsers by LNR-Kleingraan belangrik dat kleingraanprodusente altyd toegang het tot die nuutste onafhanklike koringinligting. Hierdie jaar is ‘n splinternuwe hoofstuk oor onkruidbeheer, die nuutste insekte wat produsente se oeste bedreig en ook inligting oor LNR-Kleingraan se nuwe Aleel-Profieldiens vir Onkruiddoderweerstandbiedendheid, ook ingesluit.

Die riglyne word jaarliks hersien en aangepas vir die volgende seisoen. Die waarde van hierdie inligting is dat die prestasie van individuele kultivars in spesifieke jare, sowel as oor die mediumtermyn, met mekaar vergelyk kan word. Die groot variasie in klimaatstoestande, en die onvoorspelbaarheid daarvan, noodsaak kultivarkeuses wat die risiko sal verlaag. Indien hierdie inligting saam met die ander kultivareienskappe gelees word, kan ingeligte besluite rondom die beste pakket van kultivars makliker gemaak word.

Ander onderwerpe soos algemene koringbestuur, wisselbouriglyne, grondbewerking, plantvoeding, grondsuurheid en onkruid-, plaag- en siektebeheer, word ook volledig hanteer. Vir elke koringboer is die boekie dus ‘n moet!  In ʼn opname wat onder koringprodusente gedoen is, was dit verblydend om te hoor dat koringboere die handleiding as ʼn geweldige belangrike bron van produksie-inligting beskou.

Die handleidings is ook elektronies beskikbaar. Kontak Eveline Mofokeng by 058-307-3400 vir meer inligting. Die handleidings sal ook tydens die NAMPO Oesdag van 16 – 19 Mei by LNR-Kleingraan se stalletjie in die Microbial Solution Saal beskikbaar wees.

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0