Genome Game Breeders veil leeus vir rekordbedrae op

rambo leeu
’n Eerste veiling is altyd ’n groot risiko en verg mooi dink en baie deursettingsvermoë om dit ’n sukses te maak, maar dan is daar altyd die onbekende faktor wat op die ou end ’n veiling maak of breek. Genome Game Breeders het die kans gevat en met vlieënde vaandels geslaag met ’n hele paar rekords wat gespat het.
Boonop is alle oë op die wildbedryf gerig danksy die suksesse van die laaste paar jaar en daarom was dit vir die agt verkopers van die Genome Game Breeders-groep van uiterste belang om slegs die top genetika van hulle verskeie kuddes op die heel eerste Genome Game Breeders- wildveiling wat op Vrydag 24 Julie by die Sun Carousel plaasgevind het, aan te bied.
Genome beteken “the complete set of genes”, en dis presies dit wat die 271 geregistreerde kopers op die veiling kon koop.
’n Eerste veiling met ’n omset van by die R41 miljoen en vyf nuwe rekordpryse is beslis nie te versmaai nie. Die eerste rekordprys was die R500 000 wat vir die pragtige maanhaar leeumannetjie “Rambo” behaal is. Die vorige hoogste prys op ’n veiling vir ’n leeumannetjie was R300 000 wat in 2003 behaal is. Die R100 000 wat hierna vir ’n dragtig wyfie behaal is, is ook ’n rekordbedrag.
Kleurvariasies het vir die res van die rekords gesorg. ‘n Koper hartwaterspringbokram is vir R85 000 verkoop, terwyl ’n wit hartwaterspringbokram R51 000 behaal het. ’n Gouewildebeeskoei met ’n bulkalf wat R625 000 behaal het, was nog ’n rekord.
Verskeie ander uitstekende pryse is behaal, soos byvoorbeeld R1,1 miljoen vir ’n buffelbul, R375 000 vir ’n njalabul, R20 000 vir waterbokkoei dragtig van ’n 34” bul, asook R40 000 vir gemsbokkoeie dragtig van ’n gouegemsbokbul.
Volgens Niel Swart, afslaer van Vleissentraal Bosveld wat die veiling aangebied het was dit ‘n uiters suksesvolle veiling. Volgens hom is die hele opset baie gunstig gewees. Die ligging waar die veiling plaasvind, hoe dit aangebied is en die bereidwilligheid van die verkopers om te verkoop gaan hierdie veiling nog een van die groot veilings in die bedryf maak.