Categories: NuusPublished On: 1st September 2025

2026 DOHNE-MERINO WÊRELDKONGRES INTERNASIONALE REGISTRASIES OOP

By 2 min read
452 words

dohne merino

Wetenskap, passie, uitnemendheid, Dohne! Dit is die tema wat die Dohne-Merino-wêreldkongres van 18 tot 24 Oktober 2026 gaan lei. Dit is ‘n groot geleentheid vir Suid-Afrika en vir die Dohne Merino-telersgenootskap wat sy 60ste verjaarsdag in 2026 sal vier. Die kongres is dus ‘n geskiedkundige geleentheid, nie net vir die genootskap nie, maar vir al sy telers, kommersiële produsente en rolspelers wat ‘n bydrae gemaak het tot hierdie uitsonderlike ras se vordering.

Met meer as 87 jaar se vordering agter die blad, is die Dohne Merino verseker ‘n ras waarby ander moet kers vashou. Hierdie skaap bied aan sy telers en kommersiële produsente die beste van twee wêrelde – uitstekende vleis en uitstekende wol. Dubbeldoel sonder gelyke! En dan natuurlik: aanpasbaarheid, hoë vrugbaarheid, en goeie groeivermoë. Die ras is een van die snelsgroeiende skaaprasse in die wêreld en beslis een van Suid-Afrika se groot suksesverhale.

Die wêreldkongresprogram sal hulde bring aan die uitsonderlike kenmerke van die Dohne asook die produsente en ander rolspelers wat hierdie trotse tradisie van wetenskaplike, passievolle teling voortsit.

Ons verwelkom graag ons oorsese Dohne-eweknieë wat na Suid-Afrika sal reis om hierdie mylpaal saam met ons te vier.

Die kongres skop af met die verwelkoming van ons oorsese besoekers en daaropvolgende besoeke aan voorloper Dohne-produsente in die Moorreesburg-omgewing, waarna die afvaardiging sal vertrek na ons tuiste vir die duur van die kongres, die Arabella Hotel naby Hermanus in die Suid-Kaap.

Die eerste dag van die konferensie behels ‘n verskeidenheid van aanbiedings deur kenners – van genetici en dieregesondheidspraktisyns, tot telers en bestuurspesialiste – asook netwerkgeleenthede en tegniese besprekings. ‘n Algemene vergadering sal tussen al die internasionale Dohne Merino-genootskappe gehou word en natuurlik is daar goeie kos om na uit te sien, want wat is ‘n Suid-Afrikaanse ondervinding sonder ‘n braai!

Die tweede dag van die kongres behels die voortsetting van die kongresprogram, asook ‘n spoggerige galafunksie waartydens die genootskap en die ras se uitmuntende prestasie oor bykans nege dekades gevier sal word.

Van 22 tot 25 Oktober kan veral ons oorsese gaste die verlengde program meemaak, met besoeke aan Dohne-plase in die Overberg-omgewing, die landboulandskap in Bredasdorp en Kaap Agulhas, en ‘n ware toeriste-ervaring in Hermanus en Kaapstad.

Hierdie is ’n trotse geleentheid vir Suid-Afrika en ons kan nie wag om die res van die wêreld se Dohne-liefhebbers hier te verwelkom nie. Met trots aan jou gebring deur die Dohne Merino Telersgenootskap van Suid-Afrika en sy hoofborg, BKB, met mediaborg, Plaas Media.

Maak 18 tot 24 Oktober 2026 vas in jou dagboek en registreer om jou sitplek te verseker. Spesiale konferensiepakkette beskikbaar vir oorsese besoekers en die eerste 25 registrasies geniet afslag. Vir meer inligting en om te bespreek, besoek www.conference.dohnemerino.com

Hou die pers dop vir verdere inligting.

PERSVERKLARING UITGEREIK DEUR PLAAS MEDIA

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0