2022 ISUZU MU-X ONYX

Onyx – 30_1800x1800
Deur DIRK GALLOWITZ van Ultimate Drive
Uit die koek van die D-SUV segmentverkope, vat die Toyota Fortuner elke maand die grootste sny. Die meeste ander mededingers kry eintlik maar net krummels, met Isuzu wat met die 2022 MU-X nou mik vir ‘n groter hap.
Die uitgaande Isuzu MU-X was al effe aan die gryskant met die lankverwagte aankoms van die nuweling. Tog, ten spyte van sy ouderdom was verkope relatief goed, maar dan weer verkoop selfs die stokou D-Max wat al lankal vervang moes wees, vêr bo verwagting danksy die goedgeprysde X-Rider modelle wat self beter as die Ranger verkoop het in Januarie 2022. Dit is duidelik dat Suid-Afrikaanse aanhangers van Isuzu lojale kliente is.
Voorkoms en Ontwerp
Die 2022 Isuzu MU-X in topmodel Onyx-afwerking maak ‘n indrukwekkende prentjie in die robynrooi bakkleur van ons toetsmodel. Met mooi tweekleur 20” allooiwiele en groot veldry rubber staan die nuweling lekker hoog en intimiderend. Van voor gesien vertoon die nuwe groot sierrooster imponerend met die LED belaaide hoofligte wat bydra tot ‘n sportiewe beeld. Van agter gesien tref veral die skerp punte van die nuutontwerpte agterligte met ‘n moderne voorkoms. Die nuweling bied nou 7-sitplekke, maar tog is die proporsies van die kant gesien netjies simmetries met ‘n goeie verhouding tussen metaal en glas.
Kajuit en Toerusting
Die binneruim van die nuweling is volgens ons die grootste verbetering teenoor die uitgaande model.
Die materiale voel en vertoon beter, sagter, mooier en luukser. Die ambiaans is bykans Europees met ‘n sagter moderne gevoel terwyl dit ook gehalte uitstraal. Sagte leerbekleedsel, selfs oor die voorpaneel, asook sagte plastiekoppervlaktes in swart getooi skakeer stylvol met gepoleerde aluminium en onikswart invoegsels. Die groot 9” infotainmentskerm middel bo-in die voorpaneel domineer, maar pas tog netjies in die geheelbeeld. Die resultaat is die van ‘n luukse gesinswa eerder as ‘n veldry-werkesel cum karweier soos die geval was met die uitgaande model.
Toerustingvlakke is relatief hoog met onder meer elektriese sitlekke wat kan verhit vir die voorste sitplekke. Dubbelsone klimaatbeheer wat ook die waaierspoed beheer, ‘n multifunksie stuurwiel wat hoogte en teleskopies verstelbaar is asook bekleedsel wat na egte leer voel. Die agtervensters is donkerder getint om meer privaatheid te bied, terwyl die bagasiedeur elektries oop- en toemaak. Ons toetsvoertuig was ook met ‘n sleepstang toegerus.
Die hoë definisie inligtingskerm bied toegang tot die klank- en telefoonstelsels, navigasie asook voertuig- en ritinligting. Ook die tru-kamera en 360˚ kameras se beelde word daarop vertoon. Met Apple CarPlay en Android Auto is koordlose koppeling maklik, maar ‘n laaiblad vir slimfone sou handig gewees het, veral gegewe die prys van die Onyx, maar daar is wel ‘n baie handige 2-punt 12V kragpunt beskikbaar.

Engine en Verrigting
Die 2022 Isuzu MU-X modelle is toegerus met Isuzu se nuwe generasie 4JJ3 3.0-liter 4-silinder turbodiesel enjin. Kraglewering teenoor die uitgaande enjin is met 10kW verhoog tot 140 kW, met maksimun wringkrag wat nou as 450 Nm aangegee word.
Die dieselenjin klink steeds effe raserig, maar volgens ISUZU is betroubaarheid bo verdenking na meer as 4 miljoen kilometers se strawwe toetse sonder probleme gedoen is.
Volgens Isuzu kan die MU-X ook nou 3500 kg sleep wat in hierdie segment die beste is. Maksimum kraglewering is egter steeds minder as wat die kompetisie van Toyota en Ford byvoorbeeld bied, maar die MU-X is heel gewillig wanneer die regtervloet geplant word en het geensins gesukkel met ‘n kragtekort tydens ons sleepsessies of toe ons die dik los sandpaaie van die Sandveld in die Weskus getakel het nie. Verbysteek teen hoofwegspoed was ook moeiteloos.
Krag na die wiele gaan deur ‘n 6-gang Aisin ratkas wat gemaklik oorskakel en self met ratspane agter die stuur gewissel kan word.
Amptelik word Isuzu se brandstofverbruik aangegee as 7,6L/100 km, maar ons gemiddelde verbuik was 10,1L/100 km na meer as 1400 km.
Veiligheid
Die 2022 MU-X is defnitief aan die voorpunt wanneer dit oor die nuutste aktiewe en passiewe veiligheid gaan. Met ondermeer 7 lugsakke, ABS met EBD en BAS, heuwelaansit en wegtrek hulp, heuwel-af beheer, blindekol waarskuwing, parkeergonsers voor en agter plus ‘n goeie tru-kamera vir parkeerhulp. Daar is ook ‘n stelsel wat die voertuig in die baan probeer hou wanneer die bestuurder onbewus uit die baan “gly” of dalk van baan wil verwissel sonder om die flikkerligte te gebruik. Isofix hegpunte vir kinderstoeltjies is ook ‘n waardetoevoeging vir die gesin.
Ons Onyx model het boonop ook aanpasbare spoedbeheer, noodremming wanneer ‘n botsing onafwendbaar blyk nadat die stelsel die bestuurder gewaarsku het asook talle ander bestuurderhulpstelsels.
Die 2022 MU-X het gevolglik ‘n 5-stêr ANCAP gradering in die uiters strawwe Australiese botsingtoetse behaal.

Opsomming
Die pryskaartjie van die Onyx model mag dalk op die oog af effe hoog lyk, maar met die hoë vlakke van standaard toerusting by die prys ingesluit, sowel as goeie kwaliteit afwerking in die kajuit, kan die prys geregverdig word. Verder het die MU-X soos getoets beïndruk met ritgehalte en paddinamika. Tydens ons veldry toets het die MU-X homself as uiters bekwaam bewys in die veld en ook as sleepvoertuig verbaas toe ons die 1,6ton sleepwa met ‘n 2 ton vrag gehak het.
Dan ook het die mooi ontwerp en sportiewe voorkoms van die nuwe MU-X menige koppe laat draai. Volgens ons is dit tans een van die mooiste voertuie in die D-SUV segment.
Die Isuzu MU-X 3.0TD Onyx verkoop vir R860 500 en sluit in ‘n 5 jaar/120 000 km waarborg asook ‘n 5jaar/90 000 km diensplan. Diensintervalle is een maal elke 12 maande of 15 000 km watter een ook eerste kom.
Kern feite:
Model: Isuzu MU-X 3.0TD Onyx 4×4
Prys: R860 500
Kragbron: 3.0-liter 4-silinder turbo diesel
Krag/Wringkrag: 140 kW/450 Nm
Ratkas: 6-gang outomatiies
Brandstofverbruik:7.6 L/100 km (amptelik)
Sleepvermoë: 3 500 kg