Categories: Artikels, WielePublished On: 18th September 2018

2018 Toyota Hilux Dakar: Styl wat pas by die legende se vermoëns

By 7 min read
1300 words
Hilux

Hilux Grille en Logo

Toyota SA het gedurende Julie 2018 die Suid-Afrikaanse mark bederf met ‘n nuwe Hilux Dakar Edition dubbelkajuit 4×4 in handrat en outomaties.  Die vorige model was as ‘n beperkte model bekendgestel en het ‘n wegholsukses met uitstekende herverkoopwaarde geword. Ek voorsien dat die nuwe model selfs nog beter gaan doen.

Die Suid-Afrikaanse bekendstelling was in die Kalahari se rooisandduine  naby Askam  waar die Toyota Gazoo Racing span met Dakar wenner, Giniel de Villiers, die nuwe renbakkie toets wat aan die 2019 Dakar uithouren gaan deelneem.  Ek het die lewensverrykende ervaring gehad om in die navigatorsitplek langs Giniel vasgemaak te sit terwyl hy oopketel en teen nekbreekspoed die V8 aangedrewe Gazoo Hilux oor hindernisse en dik sand looi.

Die openbaring vir my was die ongelooflike aanslag wat die toerusting en meganika moet verduur terwyl Giniel teen volspoed ‘n hindernis tref, die lug invlieg om danksy swaartekrag etlike meters verder  ten die grond neer te pletter. Ek was immer dankbaar dat ek so styf met die renharnas in die sitplek vasgetrek was en het na elke trefslag verwag dat ‘n wiel of twee gaan afval!!

Dit alles terwyl Giniel uitdrukkingloos die Hilux beheer asof dit ‘n babastootwaentjie in ‘n winkelsentrum is! Die minder as 20 km roete was in etlike minute afgeblits, waarna Giniel vinnig aan sy ingeneurs instruksies sou gee om klein verstellings te maak, net om minute daarna dieselde roete met dieselfde ywer en spoed aan te pak. Dit doen hy uur na uur elke weeksdag vir die grootste gedeelte van agt maande as deel van die Toyota Gazoo renspan se voorbereiding om die volgende Dakar Woestynren van meer as 9000 uitmergelende kilometers suksesvol te kan voltooi! Ek glo saam met Glyn Hall en sy Toyota Gazoo Racing renspan dat vanjaar is dit Giniel se beste kans om as wenner  in ‘n Toyota gekroon te word.

Hilux

Meer oor die nuwe Hilux Dakar Edition:

Die nuweling vertoon veel meer modern as die uitgaande model waar veral die nuwe sierrooster en hoofligte met LED dagryriggies geїntegreer, visueel tref. Toyota SA het toestemming gekry om vir die eerste keer die Bedoeien lapbedekte kop wat as die “Dakar ™”- kenteken wȇreld bekend geword het, op die nuwe Dakar Edition te gebruik en dit onderskei die model duidelik van die gewone modelle. Hierdie kenteken pronk ook weerskante op die rolstaaf, agter  op die bakklap en onder op elke voordeur.

Swart aksentuering is deesdae baie gewild en Toyota het dit mildelik buite asook binne die kajuit gebruik met die Dakar Edition. Die nuwe Dakar bakkie is op Toyota se Raider model geskoei, maar is met heelwat stylbybehore binne en buite toegerus om die Dakar Edition visueel spesiaal te maak.

Die nuwe sierrooster is swart, terwyl die breë swart luginlaat met ‘n fyn heuningkoek-roosterontwerp onder die buffer, ook in swart afgewerk is. Die misligte aan weerskante onder in die buffer, die kanttrappe, deurhandvatsels, kantspieëls en agterklapknip is ondermeer ook in swart getooi.

Binne in die kajuit is die Dakar Edition selfs nog meer spesiaal. Anders as in die gewone Raider is die Dakar se dakvoering ‘n praktiese swart materiaal. Die grys materiaal bekleedsel oor die sitplekke van die Raider maak plek vir swart leerbekleedsel met grys stikwerk in die Dakar Edition.

Die voorpaneel in die Dakar vertoon stylvol met blinkswart panele, terwyl die toereteller en spoedmeter nou oranje naalde teen ‘n wit agtergrond vertoon. Die raakskerm info-paneel bied nou satellietnavigasie as standaard.

Terwyl die veranderings bloot kosmeties is, het die meer as 500 km vanaf Upinton tot by die toetsterrein buite Askam en terug sekere “verbeteringe” blootgelê. Die kajuit was verbasend stil met min pad- en windgeraas selfs teen platvoetspoed. Die nuweling het padvas en stuurgetrou gevoel met ‘n algehele verbetering in die paddinamika op die teerpad. Later toe ons die sandduine en sandpaaie van die Kalahari aangedurf het , het die Dakar Edition ook beїndruk.  Aandrywing by die Dakar Edition geskied, soos met die gewone Raider, steeds deur Toyota se jongste 2,8 liter turboaangejaagde dieselenjin wat 130kW lewer. Hierdie krag word deur ‘n 6-gang handratkas (420Nm) of 6-gang outokas (450Nm) pad toe gestuur met ‘n keuse tussen agterwiel- of 4-wielaandrywing.   Die bekende 4.0 V6 petrolenjinmodel met 175kW en 376Nm, is slegs in 4×4 beskikbaar en ook net met ‘n outokas.

Nie lank na die bekendstelling het ons die nuweling ontvang om vir ‘n genotvolle 7 dae te evalueer.

Hilux

Ek het die sleutels vir ons 4×4 ghoeroe Andre de Clerck gegee om die 2018 Toyota Hilux 2.8 GD-6 dubbelkajuit 4×4 handrat Dakar Edition onder meer in die tawwe Weskus sand en veld te gaan toets en hier volg sy indrukke :

“Die eerste en mees opmerklike verskil tussen die nuwe Dakar weergawe en die gewone Raider is die nuwe vooraansig van die bakkie. Dit laat mens dink aan die groter Tundra weergawe wat in die VSA verkoop word. Die nuwe neus skep die indruk dat die voorste oorhang by die uitgaande model nou korter vertoon. Die volgende verskil is die LED hoofligte – wat alreeds in ander lande van die begin af beskikbaar was. Die ligte gee die bakkie so bietjie meer “flair”. Volgens my is die grootste en mees praktiese verskil egter die swart leërbekleedsel wat nou standaard in die Dakar model dien, asook die swart afwerking van die dakvoering en panele in die kajuit. Ek kon nie spesifiek bepaal wat verander is aan die veerstelsel nie, maar kon tog agterkom dat die nuwe Dakar Edition beter hanteer op die teer sowel as grondpad.

Hilux

Ek dink ek moet net noem dat die Dakar Hilux in 4×4 formaat met die volgende as standaard toerusting beskikbaar is:

  • Voertuig stabiliteitsbeheer(VSC)
  • Aktiewe Traksiebeheer (A-Track)
  • Elektroniese  Remkragverspreiding (EBD)
  • Remhulpbeheer (BAS)
  • Anti-sluitremme (ABS)
  • Heuwel aanskakelhulp (HAC)
  • Heuwel-af hulp  (DAC)
  • Treiler swaaibeheer (TSC)
  • Ewenaarslot –slegs agter

Dit het vir my gevoel asof Toyota die Aktiewe traksie beheer (A-track) op laer revolusies laat inskakel by hierdie nuwe weergawe. Die stelsel reageer derhalwe vinniger en teen laer revolusies as met die vorige model. Die Hilux Dakar se ewenaarslot werk ook soos die res van die Hilux reeks wat net in laestrek inskop, en ‘n mens moet steeds die “TRC”- knoppie inhou vir ‘n paar sekondes alvorens die rekenaar die stelsel heeltemal uitskakel.  Die Hilux se wiel-atrikulasie bly ook steeds baie prakties vir veldry, met die gevoel dat die bakkie heeltyd vastrapplek soek. Die standaard bande kan verkieslik ‘n bietjie papper gery word om die ritgehalte te verbeter. Wees maar net versigtig wanneer die druk tot 1BAR verlaag word, want dit mag dalk gebeur dat  te min rubber tussen die grond en die wiel beskikbaar is op harder oppervlaktes wat die band dan makliker kan beskadig.

Die Hilux se veldryvermoë maak dit steeds ‘n relatief “maklike” bakkie om van die pad af moeiteloos te ry. Veldry, sandry, moeilike terrein ingesluit, het die nuweling alles gedoen wat  vereis is en elke uitdaging is sonder enige probleme suksesvol oorkom.  Hierdie “gemaklike” veldryvermoë dra verseker ook by tot die Hilux Raider en nou ook die Dakar Edition se gewildheid en status as topverkoper in sy segment.”

Toyota SA gaan binnekort sy hele reeks opkikker met onder andere die nuwe vooraansig wat verkope ‘n verdere hupstoot gaan gee.

dakar

Pryse van die Dakar Edition modelle:

Xtra Cab:

Hilux XC 2.8 GD6 Raised Body H/R             R470 300

Hilux XC 2.8 GD6 Raised Body Outo          R488 300

Hilux XC 2.8 GD6 Raised Body 4×4 H/R     R535 600

Hilux XC 2.8 GD6 Raised Body 4×4 Outo  R553 800 

Dubbelkajuit:

Hilux DC 2.8 GD6 Raised Body H/R            R535 000

Hilux DC 2.8 GD6 Raised Body Out            R553 400

Hilux DC 2.8 GD6 Raised Body 4×4 H/R    R601 100

Hilux DC 2.8 GD6 Raised Body 4×4 Outo  R621 000

Hilux DC 4.0 V6  4×4 Outomaties                R662 700

Ingesluit by die verkoopprys bied Toyota SA ‘n verbeterde diensplan op die 2.8 GD-6 modelle van 5 jaar/90 000 kilometer tot 9 dienste/90 000 kilometer, terwyl die 4.0 V6 model  verhoogde  6  dienste/90 000 kilometer periode (voorheen 5 jaar).  Die waarborg periode is steeds 3 jaar/100 000 kilometer.

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0