2017 Mercedes GLS 350d 4Matic

Mercedes-Benz-GLS-2017-1024-4f
Mercedes se GLS (voorheen bekend as die GL klas) is ‘n bielie van ‘n wa. Groot ja, soos Pierre Spies en Etsebeth se groot as jy nou die vergelyking met mense wil hê. Die GLS vorm deel van Mercedes se luukse sportsnuts reeks waarvan die GLE (voorheen die ML-Klas) sy kleinboet is. Waar die GLE byvoorbeeld as die Mercedes E-Klas sedan motor se plaasjapie boetie gesien word, is die GLS weer die S-klas sedanmotor se avonturier broer. In die plaaslike sportsnuts wereld is die GLS vergelykbaar met die grootbak Range Rover en Toyota se Land Cruiser 200. Uber-luuks, uiters bekwaam van die pad af en uiteraard peperduur.
Die Mercedes Benz GLS beskik oor permanente vierwielaandrywing en met die spesiale veldry pakket soos op ons toetsmodel 350 d, bied dit ook ‘n laestrek ratkas en ewenaarslotte op beide die voor en agterste aste. In fôr-baai-fôr terme is dit net vir hardebaard klipklimmers en duintrappers beskore.
Die 2017-model is nou ook toegerus met Mercedes se nuwe 9-gang outomatiese ratkas wat die keuse van ses ritmodusse bied. Benewens die gewone “Gemak”, “Sport” en “Individueel” verstellings, is daar ‘n spesiale veldry-modus. Hierdie ritmodusse word met ‘n draaiknop verstel op die middelkonsole tussen die twee voorste sitplekke. Skakel oor na “Veldry of Veldry Plus” en jy kan laestrek kies waar die hoogte van die voertuig met 4 verskillende hoogtes verstel kan word. Die lugvering wat standaard op die GLS is lig dan die groot GLS na gelang van die verstelling. Hierdie modus sal slegs ingeskakel bly tot met ‘n maksimum van 20 kpu wat dit outomaties kanselleer wanneer die spoed oorskry word. Die reuse 20 duim allooiwiele is geskoei met 275/R20 rubber wat behoorlik kan vastrap waar dit nodig is.
Binne is die kajuit bykans oordadig luuks, heel gepas vir die topmodel in Mercedes se luukse SUV reeks. Die heerlik sagte wit leerbekleedsel van ons toetsmodel mag dalk onprakties vir die veld wees, maar dit bring ‘n dekadente ervaring van luukse oordadigheid. Ons toetsmodel se wit bekleding was smaakvol gekomplimenteer met oniks-swart en gepoleerde aluminium afwerking in die voorpaneel en op die deurpanele. As topmodel SUV in die Mercedes stal bied die GLS uiteraard ‘n omvangryke toegeruste kajuit as standaard, met klasleidende veiligheids- en geriefsfunksies soortgelyk aan Mercedes se überluukse S-klas sedanmotor.
Die GLS is een van die weinig ware 7-sitplekkers waar 7 volwassenes in luukse gemak geakkommodeer kan word. Die tweede ry sitplekke vou elektries na voor plat om maklike toegang na die derde ry sitplekke te bied. Beide die tweede en derde ry sitplekke bied afsonderlik beheerde lugversorging, terwyl TV-skerms agter in die voorste kopstutte vir afsonderlike vermaak sorg vir die tweede ry insittendes.
Die GLS350d 4-Matic is die enigste dieselenjin model in die GLS reeks en word aangedryf deur ‘n 2987 cc V6 turbodiesel wat ‘n indrukwekkende 190 kW enjinkrag en 620 Nm trekkrag lewer. Dit is genoeg om die meer as 2 ton wa van 0-100 kpu in slegs 7,8 sekondes te laat versnel. Ry jy egter ligvoets kan die kolos jou beloon met ‘n dieselverbruik van slegs 7,3 l/100 km. Vir diegene onder ons wie dit kan bekostig, is die Mercedes GLS 350d se basisprys van R1 283 900 nie te sleg nie. Dit bied veel meer as sy mededingers uit Japan en is heelwat goedkoper as daai fênsie Engelse wa waarmee die koningin rondgery word. Dit bly steeds ‘n voertuig wat slegs vir ‘n klein minderheid beskore is.
Dit laat my onwillekeurig dink aan ‘n storie van twee ou boere doer uit die Namakwaland se knersvlakte. Hulle was omtrent lewenslank boesemvriende, maar was ook buurmanne en swaers – die twee het met mekaar se susters loop en trou. Beide egpare het net een kind elk gehad en die twee kinders was van skool af gekys en wragtag jare later, na universiteit met mekaar getrou waarna hul toe in die Kaap gaan woon het. Terwyl daar by die profesioneel gekwalifiseerde jong egpaar nie ‘n finansiële tekort was nie, het hulle se ouers geglo dat daar elke maand ‘n slagding van die plaas af gebring moet word (want die Kaapse vleis is duur en smaak pure plank!) So kry die twee boesemvrinne dan ook weer, soos maar elke maand die geval was, vroeg een Saterdagmôre hulle se ry Kaap toe om voorraad en nog wat by die groothandelaars te gaan koop en dan sommer terselfdertyd die kinders se slagding te loop afgee. As die hammel die maand van oom Koos se plaas kom, dan ry die twee met oom Jan se bakkie en volgende maand is dit net annersom.
Die kinders het self vooruitgeboer en intussen in ‘n nuwe huis in ‘n beter woonbuurt in die noordelike voorstede ingetrek. Die twee oues moes sommer gaan kyk of alles darem na smaak is, het die twee ma’s besluit, sodat wanner hulle krismas gaan kuier, hulle alles kan saambring wat dalk sou kort. Tot by Malmesbury verby was dit nog maklik en Klipheuwel oor was ook nog so-so, maar toe oom Koos se vaalgeel ‘85 Toyota bakkie sy neus genadiglik by Durbanville se dorpsgrens oorsteek is daar terstond gestop, koffie uit die fles van die plaas (die Kaapse koffie proe plêstiek volgens oom Koos) geskink en pyp opgesteek terwyl hulle vir die kênners wag om hul teen die pad te kom kry. Kleinjan moet voor ry na die nuwe huis toe, maar “moet om hemelsnaam nie jaag, die ou bakkie kan net sestag”, het oom Koos ernstig vermaan voor hul wegtrek dorp in agter kleinjan se BeeEm aan.
By Kenridge voor die nuwe huis se ingang aangekom, skuif ‘n elektriese hek stadig oop en toe oom Koos sy stofvuil bakkie die boomryke erf binnekreun, sien hul hoe die groot garagedeur stadig, asof deur ‘n onsigbare hand, na bowe opgehys word. Oom Jan het van onder sy baai-foukels na oom Koos geloer en deur sy geel tande gesê: “Koosman, sie jy, dis nou hoe dit lyk as gjeld in die vekeerde hande kom!”
Deur Dirk Gallowitz van Ultimate Drive



