Categories: NewsPublished On: 3rd May 2016

2016 Audi A4: Goed genoeg om voor te ry?

By 7 min read
1282 words

10_Audi A4

Jare gelede, hier teen die laat sewentigs en ook tagtigerjare het die stryd om weltergewig boks se wêreldtitel legendariese gevegte opgelewer tussen Sugar Ray Leonard, Thomas Hearns en Roberto Duran. Later toe Sugar Ray as middelgewig baklei het was daar ook Marvelous Marvin Hagler.

In die anale van boks sal dit altyd opgeteken staan as sekerlik van die beste gevegte tussen boks se grootste name met elke geveg ‘n naelbytstryd.

Die stryd om die kroon te dra as die beste luukse B-segment passassiermotor woed ook nou al jare, met die Duitse trio Audi, BMW en Mercedes aan die bokant van die rangorde.

BMW se topverkoper 3-reeks en Mercedes se baie gewilde C-klas  het met hul jongste modelle die oorhand gehad oor Audi wie se opgekikkerde A4-reeks stoom verloor het die afgelope paar jaar terwyl die nuwe model getalm het om te verskyn.

Audi SA het egter einde Februarie hulle lank verwagte 2016 A4 sedan reeks in die pragtige Suid-Kaapse dorp George bekendgestel. Na meer as 300km agter die stuur deur die bergpasse en mooi klowe van die Tuinroete en Klein Karoo, is ons oortuig die nuwe model uit Ingolstadt kan dalk net verras om as gunsteling in die kryt te klim.

 Sedert die A4 in 1994 bekendgestel is, het meer as 110,000 eenhede in Suid-Afrika verkoop, maar moes in die laaste paar jaar die knie buig teen die meer moderne, tegnologies gevorderde en sportiewer 3-reeks en C-klas.     

Met die jongste en negende generasie A4 is  90% van die onderdele nuut en is die nuwe A4 omvattend verbeter met Audi se slagspreuk ‘Vorsprung durch Technik’  duidelik waarneembaar in die nuwe modelreeks se kragtiger (25%) maar suiniger (21%) enjins, uitstekende padgedrag en indrukwekkende elektroniese toerusting vir verbeterde veiligheid en dinamika.

Vir die eerste keer bied Audi Suid-Afrika nou drie afwerkingspesifikasies op al die modelle, naamlik Standaard, Sport of Design met S-Line pakket opsioneel by enige van die drie.

 Buite is die vookoms steeds onmiskenbaar Audi, tog het die stilleerders dit regggekry om die nuwe model nou veel meer modern en elegant te laat vertoon.  Nuut ontwerpte hoofligte en ‘n meer prominente sierrooster het trekke na die aggressiewe en sportiewe  nuwe TT.

Verder  is die bak met  25mm gerek en 16mm breër gemaak wat weer kajuitspasie verhoog het. Afhangend van die enjin is die nuwe A4 egter tot 120kg ligter, terwyl die ontwerpers heelwat subtiele veranderinge buite aangebring het om die lugvloeidinamika te verbeter. So is die nuut ontwerpte kantspieëls byvoorbeeld nou laer en verder  na agter op die voorste deure geplaas wat weer minder windgeraas tot gevolg het.

Binnekant is wat my betref die grootste sigbare verbetering op die uitgaande model. Ek was altyd ‘n groot fên van Audi se kajuite en die nuwe model beïndruk selfs meer. Die kajuit bied nou 11mm meer skouer en kopruimte vir passassiers terwyl beenspasie agter ook met 23mm vergroot is.

Luukse leerbekleedsel, heerlik gemaklike sitplekke en die sportiewe stuurwiel met al die skakelaars is steeds daar. Die voorpaneel, uitleg en ontwerp van die instrumentasie en skakelaars is soortgelyk aan die in die nuwe Q7. Die tablet-tipe 8,3” raakskerm wat hoë definisie LED-tegnologie bied vir die hele spetrum van die omvattende klank-, media- en inligtingstelsels wat die A4 beskikbaar het, is nou staties middel voor op die  “dêshbord” geplaas.  Audi se klasleidende “Virtual Cockpit” is ook opsioneel beskikbaar saam met satelietnavigasie en kombineer ‘n hele reeks stelsels en inligting wat op die instrumentepaneel voor die bestuurder vertoon word. Die stelsel is tans ‘n persoonlike gunsteling.    

Bykans al die toerusting aanboord van die nuwe A4 is verbeter of herontwerp en veiligheidstoerusting sluit onder meer in Audi se “active lane-assist, asook  “Audi pre-sense and side assist”. Audi se “City Assistance package”  sluit ‘n Parkeerhulpstelsel in wat ondermeer ‘n tru-kamera en wat Audi noem: “Audi side assist, rear-cross traffic assist, Audi pre sense and exit warning systems”.

Standaard hulpstelsels sluit in Audi se “ pre-sense city” en “secondary collision brake assist”. 

Tydens die media bekendstelling was slegs twee enjin opsies beskikbaar  – beide petrolenjins met turbokrag. Die 1,4T FSI wat 110kW en 250Nm lewer en die 2,0T FSI met 140kW en 320Nm se oemf. Volgens Audi sal die kragtiger 2,0T FSI quattro model wat 185kW en 370Nm bied eers in April vanjaar hier land terwyl die 140kW/400Nm 2.0 TDI turbodiesel eers later vanjaar plaaslik beskikbaar sal wees.

Ons roete het ons  vanaf  George oor Uniondale en Oudtshoorn via verskillende bergpasse en lekker ooppadry terug na die Oubaai Hotel en Gholflandgoed geneem.

Die A4 het beïndruk met baie lae windgeraas in die kajuit, selfs teen hoë spoed, maar die lae-profiel rubber op groot 18” allooiwiele se gesuis kon egter gehoor word.  Ons het eerste die 2,0T FSI bestuur in S-Line gewaad wat deur ‘n 7-spoed S-tronic dubbelkoppellaar krag na die voorwiele stuur. Die enjin het gesorg vir lewendige verrigting terwyl paddinamika en inlyn-versnelling verras het.

Hantering en greep is veel beter as die uitgaande model met die nuwe A4 wat lig, rats en geplant deur vinnige draaie gevoel het. Die stuurgevoel en terugvoer steek egter af in vergelyking met die Jaguar XE en BMW 3-reeks.  Volgens Audi gebruik die 2,0T FSI slegs 5,4L/100km in ‘n gemengde siklus.

Met die terugtog oor Robertson Pas het ons die 1,4T FSi in Sport S-Tronic afwerking gery en ek was heel beïndruk met die klein oondjie se verrigting. Die A4 se bak is relatief groot en mens sou kon verwag dat die 1,4L enjin se keel  sal toetrek teen die hoogtes en steil bergpas. Daar is 30kW minder krag beskikbaar, maar tot my verbasing  het die enjintjie nooit gekerm of gesteun as ons wou kole gooi nie. Ja verrigting is nou nie so dat ek Sondagmiddag warmgemaakte Golfs in Parow se hoofstraat kan “dice” nie, maar ek twyfel sterk of ek die meer as R100,000 ekstra sal betaal vir die 2,0T in soortgelyke pakket.

Brandstofverbruik vir die 1,4T FSI word amptelik aangegee as 4,9L/100km in ‘n gemengde gebruik van stads- en  ooppadry.

Slotsom

Sugar Ray, Thomas Hearns, Roberto Duran en Marvelous Marvin Hagler was elkeen in staat om op enige gegewe dag die gesogte kroon te vat. Iedereen het wêreldwyd sy eie gevolg van ondersteuners en bewonderaars gehad wie plakkate op kamermure en kasdeure gehang het om hul held in sy glorie te aanbid.

Nie een, so goed soos elkeen in eie reg was, kon werklik uitgestaan het as volslae gunsteling nie – daarvan kan die anale van boks se rekordhouding getuig. Elkeen het soms die knie moes buig voor ‘n beter teenstander.

So ook is dan die  2016 Audi A4 ‘n kragtoer in voorkoms, stilering, paddinamika en toerustingvlakke en is ‘n sterk kandidaat in die luukse passassiermotor B-segment waarin die BMW 3-reeks,  Mercedes-Benz C-klas, Jaguar XE,  Lexus IS,  Volkswagen Passat en selfs Ford Fusion tans om markaandeel baklei.

Elkeen van hierdie karre het hulle eie beuelblasers en pryssangers en volgelinge en bewonderaars en uiteindelik ook kopers wie bereid gaan wees om die prys te betaal vir die kar wat hul graag wil hê en bygesê, kan bekostig.

Vir baie behoort die nuwe Audi A4 daai kar te wees.

Pryse vir die Audi A4  in Suid-Afrika sluit standaard in ‘n 5jaar/100 000km Audi F
reeway
plan.

Modelle

Prys

Turbopetrol enjines

 

1.4T FSI handrat (110 kW/250 Nm) 

R441 000

1.4T FSI S Tronic (110 kW/250 Nm)

R459 000

1.4T TSI Design S Tronic (110 kW/250 Nm)

R488 000

1.4T FSI Sport S Tronic (110 kW/250 Nm)

R492 000

2.0T FSI S Tronic (140 kW/320 Nm)

R496 000

2.0T FSI Design S Tronic (140 kW/320 Nm)

R513 000

2.0T FSI Sport S Tronic (140 kW/320 Nm)

R517 000

2.0T FSI Quattro S Tronic (185 kW/370 Nm)

R616 000

Turbodiesel enjines

 

2.0 TDI S Tronic (140 kW/400 Nm)

R517 000

2.0 TDI Sport S Tronic (140 kW/400 Nm)

R538 000

2.0 TDI Design S Tronic (140 kW/400 Nm)

R534 000

 Ultimate-Drive

Artikel geskryf deur Dirk Gallowitz

 11_Audi A4

20_Audi A4

26_Audi A4

 

0
Tags:

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0