Categories: NewsPublished On: 18th April 2016

Gholfdag gehou om geld vir Veiligheidslessenaar in te samel

By 2 min read
417 words

VKB-Landbou-BPK

Die landboumaatskappy, VKB, het ‘n gholfdag aangebied om geld vir veiligheid in die Vrystaat in te samel. Altesaam is ’n bedrag van R320 000 vir die VKB/VL se Veiligheidslessenaar ingevorder. Die ondersteuning van VKB aan die Veiligheidslessenaar is baie waardevol, sê Vrystaat Landbou (VL).  

“Sonder hierdie befondsing sou die VKB/VL Veiligheidslessenaar nie in staat wees om hulle rol ten volle te vervul nie. Ons is baie dankbaar vir VKB asook alle deelnemende spanne se ondersteuning,” sê Henk Vermeulen, hoofuitvoerende beampte van Vrystaat Landbou. 

Die VKB-groep word deur landbouprodusente besit. Jan van der Walt, bemarkingsbestuurder van die VKB-groep, sê: “Ons erken die onmiskenbare rol wat die produsente in die welvaart van die maatskappy speel. Ons voel dit is juis belangrik om met die borgskap erkenning te gee aan die rol wat boere, as primêre voedselprodusente, elke dag in mense se lewens speel. 

’n Jaar en ’n half na die skep van die VKB/VL Veiligheidslessenaar, word die lessenaar se rol in veiligheid deur verskeie rolspelers in die bedryf as onmisbaar beskryf. Dit word beskryf as ’n bron wat waardevolle inligting verskaf.

Die lessenaar teken volledig statistiek aan oor al die voorvalle wat die provinsie se boerderygemeenskappe raak, van veediefstal tot plaasaanvalle. Vir elke plaasmoord, ernstige geweldsmisdaad en plaasaanval wat op die lessenaar se databasis verskyn, bestaan ’n saaknommer wat met die polisie se databasis gekorreleer word. 

Die lessenaar was ook die eerste instansie in die land wat begin het om statistiek aan te teken oor hoe plaasaanvalle plaaswerkers raak. Hierdie statistiek is opgeneem in ’n mosie wat die Demokratiese Alliansie (DA) verlede jaar by die provinsiale Wetgewer ingehandig het om te vra dat plaasaanvalle en -moorde tot prioriteitsmisdaad verklaar word. Die mosie is later na die parlement verwys, en vroeër die jaar het die polisie aangekondig dat plaasaanvalle nou ‘n prioriteit geword het. 

Henk sê: “Ons hoop dat die lessenaar se pogings en diens ’n daadwerlike verskil sal maak in die misdaadsituasie in die Vrystaat se boerderygemeenskappe.” Die lessenaar het onlangs met Nathi Nhleko, minister van die polisie, vergader om verskeie kwessies rakende die inwerkingstelling van die Landelike Beveiligingsstrategie te bespreek.

Volgens die lessenaar se statistiek is 14 plaasaanvalle en een -moord tot dusver die jaar in die provinsie aangemeld. Die meeste voorvalle vind plaas op ‘n Donderdag en Vrydag. In die oorgrote meerderheid van insidente is twee slagoffers aangeval en/of aangerand deur oortreders wat in groepe van twee tot drie gewerk het, terwyl in twee gevalle groepe van vier tot ses oortreders aangemeld is.    

0
Tags: ,

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0