Categories: Harvesters, MechanisationPublished On: 16th February 2015

Word ‘n boonstroop-spesialis met Vitamech

By 3 min read
520 words
’n Boontjie is ’n sensitiewe saad wat sommer in twee sal kloof as jy hom skeef aankyk. Vir ’n boer om ’n bonetafel aan sy stroper te haak mag dalk soos ’n goedkoop en gerieflike uitkoms lyk, maar die skade wat hy hom op die hals kan haal aan gesplete bone wat die mark maklik afkeur of afgradeer gaan hom oor ’n paar hektaar en ’n paar jaar duur te staan kom.
Vir boere wat ernstig is oor bonestroop, voer Vitamech die Pickett bone-uithaler en -stroper uit Amerika in. Fourie Scheepers, wat in die Bethlehem- streek boer, het vanjaar meer as 750 hektaar soos blits met hierdie uithalerkombinasie skoongestroop. Die geheim is om die Pickett bone-uithaler saam met die stroper te gebruik vir uitmuntende resultate.
“Die Pickett trustoot bone-uithaler is lekker breed en vang ses rye ommooi by ons planter aan te pas,” sê Louis Scheepers, Fourie se seun. Die twee rollers, opteller en vervoerband werk met die presisie van ’n horlosie saam om die windrye mooi netjies langs die trekker te gooi sodat daar nie oor die materiaal gery hoef te word nie. Met die terugkomslag word ’n tweede windry reg langs die eerste een gegooi om dan maklik met die stroper opgetel te word.
“Jy moet onthou dat daar vanaf agtuur die aand tot die volgende oggend gewerk word om die dou wat die bone sag hou te benut om splitsing te voorkom. ’n Man wil nie in die nag sukkel nie en omdat die venstertydperk van die boonstroopseisoen maar klein is om ook klowing te voorkom, begin jy met nat stammetjies sodra die peule reg is. Dit is ’n taai proses,” sê hy.
Nadat die bone ’n dag of wat gelê het, kan die bonestroper verbykom om die bone te dors. “Die stroper is ’n baie gevorderde werktuig en uitsluitlik ontwerp vir bone. Die vloer van die stroper is met ’n sif uitgevoer om die sand te laat uitval voordat die material verder hanteer word. Daar is ook net een skroef wat die bone vervoer; verder word die hantering met bakkieshysers en swaartekrag gedoen om boonklowing te voorkom. Die stroper se disselboom skuif ook na die kant uit sodat die trekker nie oor die windrye hoef te ry nie. Dit vergemaklik ook die draaiproses.
’n Konvensionele stroper stotter en proes aan die taai bone as die rye nie eweredig lê nie en kan ook nie maklik twee windrye op ’n slag baasraak nie, wat beteken dat die Pickett dubbel die werk van ’n gewone stroper doen. “Met die bonetafel aan ons konvensionele stroper kon ek nie onder 4% klowing wegkom nie, maar met die Pickett kry ek minder as 0,5%,” sê Louis.
Die stroper het ’n elektroniese kontrolestelsel met ’n raakskerm-monitor in die trekker se kajuit. Daar is ook kameras op al die strategiese plekke in die stroper se ingewande om die produkvloei dop te hou.
“Die eienaar van die Pickettfabriek, Steve Pickett, het spesiaal uit Amerika vir my kom kuier om die stroper gereed te kry vir my lande. Ek is baie beïndruk met hulle diens en die handelaar vir Vitamech se Picketttoerusting in die streek,” sê Fourie.
0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0