Wolmark hoër gesluit

Wol
Volgens Cape Wools se weeklikse wolmarkverslag het die wolmark teen 0,4% hoër gesluit en die Cape Wools Merino-aanwyser versterk met 54 punte om te sluit teen ‘n waarde van R155,94/kg. In Australië was die aanwyser 1,2% op en die Cape Wools Alle Wol-aanwyser het met 1,2% gestyg.
Goeie vraag vir goeie gehalte lang kamwol dryf die wolmark en die kleiner aanbieding sorg vir sterk kompetisie op die mark. Die sterker rand het ‘n demper geplaas op opbrengste wat tans naby rekordvlakke verhandel.
Die rand teen R15,75 was sowat 0,9% sterker teenoor die Amerikaanse dollar vergeleke met die vorige veiling. Teen R17,56 was die Rand 2,0% sterker teen die Euro. Altesaam 96,9% van die 7 349 bale wat op die veiling aangebied is, is verkoop. Die grootste kopers op die veiling was Standard Wool SA (2 203), Lempriere SA (1 685), G Modiano SA (1 484), en Stucken & Co (1 021).
Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende mikron kategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was soos volg: 18,0 mikron styg 0,4% en sluit teen R173,65/kg; 18,5 mikron daal 2,9% en sluit teen R170,23/kg; 19,0 mikron neem toe met 3,1% en sluit teen R167,77/kg; 19,5 mikron neem toe met 1,9% en sluit op R161,44/kg; 20 mikron versterk met 1,2% tot R156,86/kg; 20,5 mikron styg 1,2% en sluit op R154,86/kg; 21,0 mikron neem af met 1,3% en sluit op R153,68/kg; 21,5 mikron styg met 0,7% tot R155,33/kg en 22,0 neem toe met 0,6% en sluit op R150,01/kg.
Die volgende veiling is geskeduleer vir 24 Februarie 2016 wanneer sowat 6 620 bale aangebied sal word.
Bron: Cape Wools