Wolmark doen nog beter

Wol
Die wolmark het weer verstewig en het hierdie week 2,2% hoër gesluit. Volgens die Cape Wools se Weeklikse Wolmarkkommentaar versterk die Cape Wools Merino-aanwyser met 337 punte om te sluit teen ‘n waarde van R154,29/kg (skoon).
Op die Australiese mark was die aanwyser 0,7% af, terwyl die Cape Wools Alle Wol-aanwyser met 2,9% gestyg het.
Na ses agterteenvolgende dalings tel die mark vandag kop op en sluit positief. Handelaars was tevrede met die goeie aanbieding en het tegelykertyd die voordeel van die swakker rand geniet.
Die Rand teen R15,67 was sowat 2,8% swakker teenoor die Amerikaanse dollar in vergelyking met die vorige veiling. Teen R17,03 was die Rand 1,6% sterker teen die Euro. Altesaam 97,1% van die 12 917 bale wat op die veiling aangebied is, is verkoop. Die grootste kopers op die veiling was Standard Wool SA (3 736), G Modiano SA (2 970), Lempriere SA (2 619), en Stucken & Co (1 570).
Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende mikron kategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was soos volg: 18,0 mikron neem toe met 4,8% en sluit teen R172,76/kg; 18,5 mikron neem 4,6% toe en sluit teen R169,56/kg; 19,0 mikron neem af met 1,1% en sluit teen R160,50/kg; 19,5 mikron styg met 1,1% en sluit op R159,40/kg; 20 mikron versterk met 3,8% tot R156,59/kg; 20,5 mikron styg 3,4% en sluit op R156,45/kg; 21,0 mikron neem toe met 3,3% en sluit op R155,57/kg; 21,5 mikron styg met 2,0% tot R154,48/kg en 22,0 neem toe met 4,3% en sluit op R157,43/kg.
Die volgende veiling is geskeduleer vir 09 Maart 2016 wanneer sowat 7 237 bale aangebied sal word.
Bron: Cape Wools