Categories: Artikels, Vee en rassePublished On: 27th May 2022

Winsgewende skaapboerdery Deel 9:Voorbereiding van teelramme vir ’n suksesvolle dekseisoen

By 9 min read
1814 words

dormer-gallery-30-1

(Bron: dormersa.com)

Teelramme moet voor die aanvang van die dekseisoen ՚n volledige teelgeskiktheidstoets ondergaan om seker te maak hulle is vrugbaar, vry van geslagsiektes, dekbehendig en het ՚n hoë geslagsdrang. Daarbenewens moet hulle optimale voeding ontvang om te verseker dat hulle in ՚n uitstekende kondisie is, maar nie oorvet nie, om testesgroei en spermproduksie te maksimeer, want ongeveer 125- tot 500-miljoen sperms is nodig vir elke suksesvolle bevrugting.

Aangesien die produksiesiklus van sperms sewe tot agt weke duur, moet die voorbereiding van teelramme minstens twee maande voor die paarseisoen begin (Henderson, 1990).

Grootmaak van jongramme

Afhangend van die ras, begin ramlammers reeds vanaf ouderdom twee tot drie maande om sperms te produseer. Gewoonlik kan hulle nie die ooie bestyg en ejakuleer voor ongeveer ouderdom vier tot vyf maande nie. Teen die tyd wat hulle ongeveer 67% van die volwasse ramme se massa bereik (op ongeveer ses maande), behoort hulle voldoende hoeveelhede volwasse sperms te produseer om ooie te kan bevrug. Ramlammers moet dus voor hierdie ouderdom of gewig gespeen word om ongewenste dragtigheid te voorkom.

Waar ramlammers na speen gedurende hulle vroeë seksuele ontwikkeling in aparte troppe, sonder enige kontak met ooie, grootgemaak word, kan van hulle homoseksuele neigings ontwikkel.

Om homoseksualiteit te voorkom, moet ՚n aantal gesonde (siektevrye) volwasse ooie (20 tot 25 ooie per 100 rammetjies) tussen die ramlammers geplaas word vir die grootste deel van hulle eerste jaar (Henderson , 1990).

Om homoseksualiteit te voorkom, moet ՚n aantal gesonde volwasse ooie tussen die ramlammers geplaas word. (Bron: dormersa.com)

Teen die ouderdom van ongeveer twaalf maande behoort die seksuele voorkeure van die jongramme permanent gevestig te wees. Hierdie ooie moet gereeld met ‘vars’ ooie omgeruil word, omdat die rammetjies die ooie geweldig uitput deur hulle voortdurend rond te jaag en te dek. Voordat die ou ooie by die speenramlammers geplaas word, moet die ramlammers se testes almal gevoel word om enige sigbare probleme (byvoorbeeld bybalontsteking) op te spoor voordat dit versprei en ander ramme dalk besmet word.

“Voorkeur moet ook gegee word aan ramme met ‘n ‘wakker’, lewendige en aggressiewe voorkoms. Die oë moet veral helder, wakker en lewendig wees.”

Voorbereiding van teelramme

Twaalf weke voor die paarseisoen

Teelramme moet minstens drie maande voor die paarseisoen aangekoop word sodat hulle voldoende tyd het om by die nuwe omgewing aan te pas.

Teelramme moet van telers met dieselfde teeldoetwitte as die koper gekoop word.

Gee voorkeur aan ramme gebore uit moeders wat meer lammers gespeen het as wat hulle lamkanse gehad het, en wat verkieslik al hulle lammers suksesvol grootgemaak het.

Gee ook voorkeur aan tweelinggebore ramme met ՚n hoë libido (pers lieste) asook dié met groot testes. Testesgrootte bepaal nie net die ram se eie vrugbaarheid nie, maar ook dié van sy vroulike nageslag.

Gee voorkeur aan tweelinggebore ramme met ՚n hoë libido, asook dié met groot testes. (Bron: Elandsnek Boerdery)Gee voorkeur aan tweelinggebore ramme met ՚n hoë libido, asook dié met groot testes. (Bron: Elandsnek Boerdery)

Testesomtrek stem ooreen met spermproduksie en manlike hormoonproduksie, asook met die ovulasietempo (aantal eierselle afgeskei), meerlinggeboortes en geslagsrypheidsouderdom van hulle vroulike nageslag.

Voorkeur moet ook gegee word aan ramme met ՚n ‘wakker’, lewendige en aggressiewe voorkoms. Die oë moet veral helder, wakker en lewendig wees. Sulke ramme, en veral aggressiewe ramme, is geneig om ՚n sterker geslagsdrang (libido) te hê en meer vrugbaar te wees as dié wat skugter en ‘slaperig’ vertoon.

Ramme moet minstens twee maal per jaar geskeer word om probleme met hittespanning en brommeraanvalle te beperk.

Ramme met ՚n langer wol is ook meer vatbaar vir brommeraanvalle, terwyl ramme met kort wol meer aktief en beweeglik is. Selfs klein brommeraanvalle soos die grootte van ՚n R5-muntstuk by die basis van die horings, kan ՚n ram tydelik onvrugbaar maak of die libido verlaag.

Teelramme moet verkieslik nie korter as agt weke voor paring geskeer word nie, omdat dit ՚n negatiewe invloed op hulle vrugbaarheid kan hê. Skeer tydens warm maande verkieslik langer as drie maande voor die paarseisoen.

Teelramme behoort ook drie maande voor die aanvang van die dekseisoen met Multimin® (bevat sink, mangaan en seleen) gespuit, asook met vitamien A en E gedoseer te word om sowel vrugbaarheid as weerstand teen siektes te verhoog. Die spoorelemente sink, mangaan en koper is noodsaaklik vir die produksie van goeie gehalte semen, asook vir ՚n hoë geslagsdrang.

Die laaste bloutonginspuiting (bloutong C) moet verkieslik nie korter as twaalf weke voor die paarseisoen toegedien word nie. Indien dit nie moontlik is nie, moet die reeks (bloutong A, B en C) na die paarseisoen, minstens drie weke uitmekaar, gespuit word.

Om die moontlike verspreiding van wurmweerstand via aangekoopte teelramme te voorkom, moet hierdie ramme aanvanklik in kwarantyn gehou en gedoseer word.

Agt weke voor die paarseisoen

Dit is egter nie net die plasing van die semen in die geslagskanaal van die ooi wat belangrik is nie; die gehalte en hoeveelheid van die semen is ook van kardinale belang. Sommige boere plaas hulle potensiële teelramme op ՚n ‘oorlewingskursus’ (baie lae voedingspeil) en glo dat dié wat wel die mas opkom, gehard en aangepas is. Hierdie ramme, asook sommige wat net op veld grootgemaak word, is dikwels skraal en hoewel meeste van vrugbaar is, het hulle testes dikwels nie optimaal ontwikkel vir maksimum spermproduksie (spermatogenese) nie.

Spermproduksie vind deur die jaar plaas, maar die volume en digtheid daarvan, asook die ramme se geslagsdrang, bereik ՚n laagtepunt in die nie-aktiewe geslagseisoen (rondom Julie tot Desember). Dit is daarom veral gedurende hierdie tyd, maar ook gedurende die aktiewe geslagseisoen (sowat Januarie tot Junie), noodsaaklik dat ramme betyds prikkelvoeding ontvang en geoefen word voor die begin van die dekseisoen.

Proewe toon dat goeie voeding vir ՚n tydperk van twee maande spermproduksie kan verdubbel. Die voer van hoë vlakke van graan (byvoorbeeld mielies, kleingraansoorte of sjokoladegraan) moet vermy word omdat dit vrugbaarheid nadelig kan beïnvloed weens oormatige vetneerlegging in die skrotum, veral in die nek van die skrotum, wat hitte-uitruiling beperk.

Om testesgroei en spermproduksie te maksimeer, moet teelramme ekstra energie, maar veral ՚n baie hoë vlak van deurvloeiproteïen, gevoer word, want dit bevorder die groei van die testes en die spermproduksie.

Testesomtrek is positief gekorreleer met spermproduksie en manlike hormoonproduksie. (Bron: agriland.ie)

Teelramme moet gevolglik vanaf minstens twee maande voor paring ՚n hoëdeurvloeiproteïengebaseerde prikkellek of volledige ramprikkelrantsoen teen ՚n beperkte peil (500 tot 1 500 g/ram/dag), met vreetspasie vir elke ram, gevoer word. Indien weiding skaars is, moet hoë-gehalte lusernhooi ad lib bygevoer word.

Die semengehalte van teelramme kan verbeter word deur hulle vanaf agt weke voor die paarseisoen twee tot drie keer per week met koringkiemolie (ongeveer 25 ml/ram) te doseer. Enige spanning van watter aard ook al, veral wanneer meer as een vorm van spanning gelyktydig ondervind word, kan die gehalte van die semen verlaag. Selfs geringe stygings in liggaamstemperatuur vir kort tydperke, kan die vorming van lewensvatbare semen ontwrig.

Vermy alle spanningsvolle bedrywighede soos skeer, dip, oormatige hantering en dies meer minder as agt weke voor paring. Knip die kloue indien hulle lank is. Indien daar tekens van vrotpootjie is, jaag hulle deur ՚n voetbad met ՚n 10% sinksulfaatoplossing.

Voldoende koel en skoon drinkwater moet te alle tye beskikbaar en so na as moontlik aan die skaduwee wees.

Hoe meer kere ՚n ooi gedek word, hoe beter die kans om haar beset te kry. Tweelinggeboortes verhoog ook dramaties met meer dekkings. Om te verseker dat teelramme die ooie soveel kere as moontlik gedurende hul hittetydperk dek, moet die ramme dus oor ՚n baie hoë libido (geslagsdrang) beskik en topfiks wees.

Teelramme moet dus vanaf minstens twee maande voor die aanvang van die paarseisoen fiks gemaak word deur hulle vroegoggend en laatmiddag vir minstens ՚n halfuur vinnig te laat stap.

Ses weke voor die paarseisoen

Ramme moet ongeveer ses tot tien weke voor die paarseisoen aan ՚n volledige teelgeskiktheidstoets deur ՚n ervare veearts onderwerp word. Dit sluit ՚n volledige fisiese ondersoek van die ram en sy geslagsorgane, ՚n evaluering van ՚n semenmonster, die meet van die skrotumomtrek asook ՚n dekbehendigheidtoets in. Die skrotumomtrek van ramme in goeie kondisie moet minstens 30 cm, maar verkieslik 35 cm en meer, op ouderdom 15 maande wees.

Die sperms word in die onderste deel of die stert van die bybal (epididimis) geberg. Wanneer ramme goed voorberei en gereed is vir die paarseisoen, moet die bybal die grootte van ՚n tafeltennisbal (2 tot 3 cm deursnit) hê — dit is ՚n aanduiding dat daar voldoende sperms vir die dekseisoen is.

Dit is noodsaaklik dat ramme betyds prikkelvoeding ontvang en geoefen word voor die aanvang van die paarseisoen. (Bron: Vinco Feedermax)

Geslagsdrang of libido behels die ram se drang om te dek. Die eerste tekens daarvan val saam met die aanvang van puberteit (geslagsrypheid) en die begin van spermproduksie. Libido word deur die vrystelling van testosteroon beheer. Voeding kan ook ՚n merkbare effek hê op die ram se drang om te dek, terwyl ondervoeding spermproduksie benadeel én die libido verlaag.

Die normale aanbeveling vir die toets van dekkapasiteit is om drie tot vier ooie elk in ՚n ooikrat te plaas en dan een tot twee ramme vir twaalf tot 20 minute by hulle te plaas. ՚n Dekbehendige ram met ՚n hoë geslagsdrang behoort drie tot vier suksesvolle dekkings gedurende hierdie tydperk uit te voer. Ramme met ՚n lae geslagsdrang toon min belangstelling en die kanse is goed dat dit die res van hulle lewe so sal bly.

՚n Ram met ՚n hoë dekvermoë is in staat om 50 dekkings in een week uit te voer, terwyl sommige ramme tot 40 ooie per dag kan bestyg. Die beste ramme is in staat om elke slag of elke tweede keer as hulle ՚n ooi bestyg, te ejakuleer. Gemiddelde ramme ejakuleer eers nadat hulle ՚n ooi drie of vier keer bestyg het, terwyl ՚n swakker ram die ooie aanhoudend bestyg en baie besig vertoon, maar selde of ooit ejakuleer.

Samevatting

Om reproduksietempo te verhoog, konsentreer boere grootliks op die ooi deur dié wat gereeld ՚n lam speen te selekteer en ooie goed voor te berei vir paring, (byvoorbeeld met prikkelvoeding). Die bydrae van teelramme tot ՚n hoë reproduksietempo kan egter nie agterweë gelaat word nie. Teelramme moet daarom voorkeur en spesiale behandeling ontvang. Die fokus moet op maksimale testesgroei en spermproduksie, asook goeie gesondheid en ՚n hoë fiksheidspeil wees.

Om volgehoue teelvordering te verseker, moet minstens een derde tot die helfte van die ramme jaarliks met nuwe ramme, wat verkieslik geneties beter is, vervang word.

Daarbenewens moet ՚n doeltreffende gesondheidsbeheerprogram, wat sowel dosering as die noodsaaklike inentings insluit, gevolg word.

Dit is belangrik om daarop te let dat nie alle vet en onfiks teelramme onvrugbaar is nie. Wees egter bedag daarop dat vet en onfiksheid hoërisikofaktore is.

ProAgri bedank ՚n legende in die landboubedryf, dr Jasper Coetzee, wat sy Handleiding vir Winsgewende Skaapboerdery aan die lesers van ProAgri beskikbaar gestel het.

Indien jy meer inligting oor winsgewende skaapboerdery wil bekom, bestel jou Handleiding vir Winsgewende Skaapboerdery vandag nog deur ՚n e-pos te stuur na: mvs@meadowcape.co.za.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0