Categories: Artikels, Vee en rassePublished On: 18th November 2022

Winsgewende skaapboerdery deel 14: Kritieke voedingbestuursriglyne in die eerste 90 dae van dragtigheid

By 5 min read
949 words

Screenshot 2022-11-18 125616

Die dragtigheidtydperk van ooie is vir elke skaapboer die belangrikste tydperk van die jaar. Die voedingspeil en bestuurspeil gedurende hierdie periode beïnvloed die winsgewendheid van die onderneming regstreeks.

Om die belangrikheid daarvan te beklemtoon kan hier net kortliks genoem word watter funksies die ooi in hierdie tyd vervul:

• Sy is besig om haar eie liggaam te onderhou
• Sy is besig om wol te produseer
• Sy is besig om liggaamsreserwes op te bou vir die strawwe laktasieperiode wat voorlê
• Sy sorg dat die uier ontwikkel sodat genoeg melk geproduseer kan word
• Sy verskaf voedingstowwe sodat die ongebore lam voldoende kan ontwikkel om lewensvatbaar te wees by geboorte

Die duur van dragtigheid is ongeveer 150 dae. Dit kan ten opsigte van voedingsbehoeftes in twee tydperke verdeel word, naamlik die eerste 90 dae en die laaste 60 dae.

Die ontwikkeling en grootte van die plasenta word tussen dag 30 en dag 90 van dragtigheid bepaal. Die plasenta skei die hormoon, estradiool, af wat die uier voorberei op melkklierontwikkeling. Die ontwikkeling van die uier gedurende laatdragtigheid sal die melkproduksiekapasiteit van die ooi bepaal. Die negatiewe gevolg van swak voeding tydens middragtigheid op die ontwikkeling van die plasenta kan nie enige tyd daarna opgehef word nie.

Foto: Crux Dohnes.

Optimale plasenta-ontwikkeling is baie belangrik vir ՚n hoë reproduksie en lamgroeitempo. Geboortemassa is een van die belangrikste faktore wat lamoorlewing beïnvloed en hou verband met die onvermoë van te klein lammers (minder as 2,5 tot 3 kg met geboorte) om genoeg melk te drink.

Maksimum oorlewing van lammers is gevind wanneer die geboortemassa tussen 3,5 en 5,5 kg is, terwyl lam-vrektes met tot 15% toegeneem het wanneer die geboortemassa laer as 3,5 kg of hoër as 5,5 kg is.

Die finale grootte van die plasenta (nageboorte) bepaal hoofsaaklik die geboortemassa van die lammers. Onvoldoende plasenta-ontwikkeling gedurende middragtigheid (tweede en derde maand van dragtigheid) lei tot:

• ՚n Toename in fetale vrektes
• Lae geboortemassa
• Swak lewensvatbaarheid met geboorte
• Afname in die energiereserwes van die lam
• Swak moedereienskappe van die ooi
• Laer melkproduksie
• Toename in lamvrektes

՚n Hoë voedingspeil gedurende laatdragtigheid kan nooit ten volle vergoed vir swak plasenta-ontwikkeling in middragtigheid nie. Die belangrikste faktore wat die grootte van die plasenta beïnvloed, is:

Foto: Klippieskop dorpers.

• Voeding
• Temperatuur
• Aantal fetusse in die baarmoeder
• Ouderdom
• Kondisie en liggaamsmassa van die ooi

Wanneer enkelinge klein met geboorte is, is ooie onwillig om hulle te laat suip. Wanneer ooie traag is om melk vry te stel, is ondervoeding van dragtige ooie die waarskynlikste oorsaak. Om sterk en lewenskragtige lammers met ՚n gewenste geboortemassa (3,5 tot 5,5 kg) asook voldoende melk te produseer, moet die voedingspeil die eerste drie maande van dragtigheid sodanig wees dat ooie minstens hulle massa handhaaf om maksimum groei van die plasenta te verseker.

Die kritieke stadium in die groei van die plasenta is tussen dag 30 en 90 van dragtigheid, wanneer dit vanaf 10 tot 100% van sy finale massa, groei.
Goeie voeding gedurende laatdragtigheid is ՚n vermorsing indien voldoende plasenta-ontwikkeling nie gedurende middragtigheid plaasgevind het nie.

Ondervoeding voor dag 100 van dragtigheid kan ook melkproduksie beïnvloed weens die betrokkenheid van die plasenta by melkklierontwikkeling. Die grootte van die plasenta bepaal grootliks die grootte van die uier en gevolglik ook melkproduksie.

՚n Afname van tot 25% in melkproduksie is by ooie waargeneem wat voor dag 100 van dragtigheid ondervoed is, ten spyte daarvan dat hulle goeie voeding gedurende die laaste ses weke van dragtigheid ontvang het. Die plasenta produseer hormone wat noodsaaklik is vir die ontwikkeling van die uier en gevolglik die hoeveelheid melk beskikbaar met lam.

Die hoeveelheid hormone wat afgeskei word, hang van die grootte van die plasenta af. Plasentale hormone speel ՚n baie belangrike rol in moedereienskappe, omdat dit verantwoordelik is vir die vorming van die band tussen die ooi en die lam onmiddellik na lam. Onvoldoende plasentaontwikkeling kan veroorsaak dat meer ooie hulle lammers weggooi, wat weer ՚n groot invloed op lamvrektes en gevolglik speenpersentasie het.

Hoë omgewingstemperatuur is een van die belangrikste faktore wat die grootte van die plasenta bepaal. Dit blyk dat hoë temperatuur die vloei van die bloed en dus voedingstowwe na die baarmoeder van die ooi beperk. Hittespanning kan plasentaen fetusmassa met geboorte met tot 50% verminder. Waar ooie gedurende middragtigheid by onderskeidelik 27 en 42 °C gehou is, het die lammers met geboorte onderskeidelik 2,9 en 3,9 kg geweeg.

Indien hoë omgewingstemperatuur (> 28 °C) voorkom, kan geboortemassa en lamoorlewing verbeter word deur die voorsiening van skaduwee in kampe gedurende die eerste drie maande van dragtigheid asook lamtyd.

Meerlingfetusse het dikwels klein plasentas as gevolg van oorbevolking in die baarmoeder wat tot kleiner lammers met geboorte lei.

Somtyds produseer ooie wat in ՚n goeie kondisie is en voldoende voeding gedurende laatdragtigheid ontvang het, klein en ondergewig lammers. Fetale afsterwing kan die oorsaak wees van klein lammers met geboorte. Die rede is omdat die oppervlakte van die uterus en die kotiledons wat deur die dooie fetus in beslag geneem word, nie beskikbaar is vir die oorblywende lewende fetusse nie.

Die ouderdom van die ooi beïnvloed ook die grootte van die plasenta. Jong ooie het ՚n kleiner plasenta hoofsaaklik omdat hulle ՚n kleiner uterus as volwasse ooie het. Kondisie, veral met paring, blyk saam met ouderdom ՚n belangrike rol in die ontwikkeling van die plasenta te speel.

Meer aandag behoort gedurende middragtigheid aan skraal, maar veral jong vervangingsooitjies gegee word, veral omdat hulle self nog in ՚n laat stadium van groei verkeer. Hulle behoort in ՚n aparte kamp met beter weiding gehou te word of bykomende lekaanvulling moet verskaf word.

ProAgri bedank ՚n legende in die landboubedryf, dr Jasper Coetzee, wat sy Handleiding vir Winsgewende Skaapboerdery aan die lesers van ProAgri beskikbaar gestel het.

Indien jy meer inligting oor winsgewende skaapboerdery wil bekom, bestel jou Handleiding vir Winsgewende Skaapboerdery vandag nog deur ՚n e-pos te stuur na: mvs@meadowcape.co.za.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0