Categories: Artikels, Vee en rassePublished On: 5th October 2022

Winsgewende skaapboerdery Deel 12: Doeltreffende paringstelsels verseker hoë lampersentasie

By 7 min read
1425 words

Ram kop

Die moderne skaapboer kan te midde van stygende insetkoste en wisselvallige produkpryse nie bekostig om sy ramme elke jaar op ՚n sekere datum by sy ooie te plaas en te hoop alles werk saam om ՚n hoë lampersentasie te verseker nie.

Deeglike voorafbeplanning, die toepassing van die nuutste wetenskaplike kennis en moderne tegnologie, goeie bestuur en optimum voeding is nodig om hoë besetting en ՚n hoë persentasie meerlinggeboortes te verseker.

Verskeie paringstelsels kan vir skape oorweeg word, naamlik kudde- of massaparing; groepparing; handdekking; kunsmatige inseminasie; laparaskopiese inseminasie en embrio-oorplanting.

Die belangrikste vereistes waaraan enige paringstelsel moet voldoen, is dat dit by die bestaande bestuurspraktyke op die plaas moet inpas en dat dit sonder ernstige ontwrigting toegepas kan word. Dit moet verder ՚n hoë besetting en lampersentasie verseker en ramme moet so doeltreffend moontlik benut word om ramkoste per lam so laag as moontlik te hou.

Kudde- of massaparing

Dit is die paringstelsel waar die kudde as geheel, maar verkieslik in troppe nie groter nie as 200 tot 250 ooie met ՚n groep ramme gepaar word. Kleiner troppe is makliker om te beheer en die neiging tot groepvorming en die oneweredige verdeling van ramme is ook baie minder.

Foto: Suidplaas Dohnes

Minstens twee, maar verkieslik drie of meer ramme moet per 100 ooie gebruik word. ՚n Hoër lampersentasie kan verwag word as paring in kleiner kampe geskied. Paring in te groot kampe (> 200 ha) en ruwe bergveld moet liefs vermy word. In groter kampe moet die skape gereeld bymekaargemaak word om vrye uitruiling tussen ramme en ooie te verseker.

Paringskampe moet liefs net een waterpunt hê om te verhoed dat ՚n subgroep ooie sonder ՚n ram van die hooftrop afsplinter waardeur besetting verlaag kan word. Indien daar meer as een waterpunt is, moet die ander toegemaak word. ՚n Hoër besettingsyfer kan verwag word indien jongooie, wat vir die eerste keer gepaar word, apart van volwasse ooie en met ervare ramme gepaar word. Ervare ramme is beter as jongramme om jongooie beset te kry.

Groepparing

Met groepparing word ramme elk met ՚n aparte groepie ooie in ՚n aparte kamp gepaar. Hierdie paringstelsel word veral deur stoetboere gebruik en het die voordeel dat die nageslag van elke ram bekend is. ՚n Ram se teelwaarde in vergelyking met die ander teelramme wat gebruik is, kan gevolglik bepaal word. Die ram wat die beste teel, kan so geïdentifiseer word en kan dus meer intensief gebruik word, wat vinniger genetiese vordering verseker.

Groepparing kan ook deur kuddeboere toegepas word, mits voldoende en verkieslik kleiner paringskampe beskikbaar is. Die grootte van die ooigroepe (die aantal ooie per ram) word deur verskeie faktore soos kampgrootte, topografie, seisoen en ras bepaal. Die aanbevole riglyn is 30 tot maksimum 50 ooie per ram. Die nadeel met groepparing is dat indien daar geen of min lammers sal aankom ՚n ram onvrugbaar is of raak tydens paring.

Handdekking

Handdekking is sekerlik die mees doeltreffende paringsmetode waar nog van die natuurlike dekkingsproses gebruik gemaak word, maar op ՚n beheerde wyse. Hoewel handdekking uitsluitlik deur stoetboere gebruik word, kan kuddeboere dit met groot vrug gebruik.

Foto: Suidplaas Dohnes

՚n Baie belangrike voorvereiste vir sukses met handdekking is dat die ramme vooraf deeglik afgerig en gewoond gemaak word aan die hantering, die roetine en die teenwoordigheid van mense.

Handdekking verg geen spesiale geriewe nie en bestaande krale kan met geringe wysigings gebruik word. In die geval van handdekking word die bronstige ooie uitgesoek en na die ramme gebring vir dekking.

Om bronstige ooie te identifiseer, word koggelramme se borse met ՚n merkstof (soos ՚n mengsel van okerkleurstof en margarien) gesmeer of koggelramme met merkblokke word tussen die ooie geplaas. Die ooie se reaksie word dan dopgehou en bronstige ooie word uitgekeer.

Handdekking is ՚n doeltreffende paringstelsel met meer voordele as kuddeparing en dit kan ՚n belangrike bydrae kan lewer om die reproduksietempo van ՚n kudde te verhoog.

Die voordele van handdekking is dat:

  • Minder ramme benodig word en gevolglik kan beter gehalte ramme aangekoop word. Die genetiese vordering in die kudde behoort dus vinniger as met kuddeparing te wees.
  • Indien ramme van dieselfde prysklas as vir kuddeparing aangekoop word, sal die ramkoste per lam laer wees, wat ՚n aansienlike besparing teweegbring.
  • Dit moontlik is om die dekkapasiteit van indiwiduele ramme te bepaal en dié met lae geslagsdrang (libido) en/of swak dekbehendigheid uit te skakel.
  • Permanente of tydelik • steriele ramme opgespoor kan word aangesien die ooie wat hulle dek nie beset raak nie en 16 tot 17 dae later weer op hitte kom. Sulke ramme kan met ander vervang word en sodoende kan voorkom word dat ՚n groot aantal ooie oorslaan.
  • Die kanse dat ramme mekaar sal beseer, skraal is.
  • Die nageslag van indiwiduele ramme met mekaar vergelyk kan word en dié met die beste teelprestasie meer intensief gebruik kan word.
  • Alle ooie wat nie dragtig word nie, geprul kan word, aangesien elke ooi onder toesig gedek word.

Die nadele van handdekking is dat:

  • Indien ՚n ram oor swak en verborge eienskappe beskik, kan ՚n groot aantal minderwaardige lammers gebore word en daarom is dit hoogs aan te beveel om slegs beproefde ramme wat goed teel vir handdekking te gebruik;
  • Dit persoonlike aandag van ՚n verantwoordelike persoon vereis, sowel as ekstra arbeid; en
  • Indien ՚n ram vir ՚n lang tyd gebruik word, kan inteling toeneem omdat meer ooie met een ram gepaar word.

Kunsmatige inseminasie (KI)

Die voor- en nadele asook die bestuursriglyne wat by handdekking van toepassing is, geld ook grootliks by KI. Een van die grootste voordele van KI is dat ՚n baie groot getal lammers van een ram verkry kan word en dit is dus een van die vinnigste maniere om genetiese vordering te maak, mits ՚n geneties meerderwaardige ram gebruik word.

Die sukses van KI word grotendeels deur die tegniek asook die tyd van inseminering bepaal. Inseminering moet so na as moontlik aan ovulasie geskied.

Die beste tyd vir inseminering is ongeveer 12 tot 18 uur na die eerste waarneming van bronstigheid en daarna met 12 uur tussenposes tot aan die einde van bronstigheid.

Ooie kan egter kunsmatig gesinkroniseer word deur die insit van intravaginale sponse. Sponse word gewoonlik 12 tot 14 dae later onttrek. Met sponsonttrekking word die ooie met DMSG (dragtige merrieserum-gonadotropien) gespuit wat verseker dat ՚n groter persentasie ooie bronstigheid toon, die bronstigheid oor ՚n korter tyd voorkom en meervuldige ovulasies voorkom.

Laparoskopiese inseminasie en embrio-oorplasing

Laparoskopie is die metode om semen direk in die baarmoederhorings te plaas.

Die gebruik van bevrore ramsemen het die volgende voordele:

Die laparoskopie-proses uitgevoer deur ‘n veearts
  • Bevrore semen kan as ՚n baie goeie versekering beskou word in geval die ram beseer word of vrek;
  • Beproefde ramme met hoë genetiese waarde kan baie meer intensief gebruik word;
  • ՚n Groot getal ooie kan in ՚n kort tyd met dieselfde ram se saad geïnsemineer word; en
  • Nadat die ram verkoop of dood is, kan sy semen nog steeds gebruik word.

Van die grootste nadele van hierdie tegnieke is dat dit hoë tegnologie vereis, baie duur is en dat hoë besetting nie altyd gewaarborg kan word nie.

Die afgelope jare is betekenisvolle vooruitgang gemaak in die manipulasie van reproduksie en in die ontwikkeling van tegnieke van genetiese ingenieurswese.

Embrio-oorplasing bied die moontlikheid vir vinniger genetiese vordering deur ՚n toename in die aantal nageslag gebore van geneties meerwaardige ouers. Beproefde ooie se nageslag kan vinniger vermeerder word deur die gebruikmaking van superovulasie en deur die in- en uitvoer van skaapembrio’s.

Met behulp van embriosplitsing en kloning van embrio’s kan die tempo van genetiese vordering verdubbel teenoor met normale reproduksie en seleksie. Navorsing op die gebied van geslagsbepaling is ook gestimuleer deur embrio-manipulasie en -oorplasing.

Samevatting

Foto: Suidplaas Dohnes

Watter paringstelsel ook al gebruik word, dit moet ՚n hoë lampersentasie verseker om ramkoste per lam te verlaag waardeur die winsgewendheid van skaapboerdery verhoog word. Een onvrugbare ooi het ՚n geringe invloed op die reproduksietempo van ՚n kudde, daarteenoor kan ՚n onvrugbare ram, veral met groepparing, ՚n groot invloed op die reproduksietempo van die kudde hê.

Alles moontlik moet dus gedoen word om te verseker dat die ram geskik is vir die belangrike taak wat hy moet verrig. Met die keuse van paringskampe moet voorkeur gegee word aan kampe met ՚n oop tipe veld, gelyk oppervlakte en bome of skure wat voldoende skaduwee voorsien wanneer paring gedurende die warm maande geskied.

ProAgri bedank ՚n legende in die landboubedryf, dr Jasper Coetzee, wat sy Handleiding vir Winsgewende Skaapboerdery aan die lesers van ProAgri beskikbaar gestel het.

Indien jy meer inligting oor winsgewende skaapboerdery wil bekom, bestel jou Handleiding vir Winsgewende Skaapboerdery vandag nog deur ՚n e-pos te stuur na: mvs@meadowcape.co.za.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0