Categories: Artikels, Vee en WildPublished On: 23rd February 2024

Wildsvleisbedryf word met nuwe oë bekyk

By 6 min read

biltong 5

Nuwe, begerige oë kyk na die wildbedryf in die land vir werkskepping en voedselsekerheid vir agtergeblewe gemeenskappe, veral in landelike gebiede. Barbara Creecy, minister van Bosbou, Visserye en Omgewingsake, se Wildsvleisstrategie is op 8 November 2013 in die Staatskoerant gepubliseer nadat dit op 27 September deur die kabinet goedgekeur is.

Die doel van die strategie is om die wildsvleisbedryf formele status te gee en te transformeer ter wille van voedselsekerheid en werksgeleenthede, inklusiewe sosio-ekonomiese groei, asook die volhoubare benutting van die biodiversiteit terwyl omgewingsrisiko’s beperk word.

Suid-Afrika gee die pas aan met die produksie van wildsvleis en die minister wil die ekonomiese geleenthede wat die bedryf bied benut om teen die einde van 2030 minstens 202 666 volhoubare werksgeleenthede in die bedryf te skep.

Die strategie sal die samewerking van al drie regeringsvlakke, gemeenskappe, nie-regeringsorganisasies en die private sektor, plaaslike en internasionale beleggers, asook akademiese en navorsingsinstansies betrek.

Sy glo deur hierdie vennootskappe kan die wildsvleisstrategie-aspekte soos armoede, soönotiese siektes en klimaatverandering tot voordeel van al die land se inwoners aanspreek.

Die formalisering van die bedryf sal daartoe lei dat meer wildsvleis as die huidige 10% op winkelrakke te koop aangebied word. Dit sal ’n bykomende bron van proteïen bied naas byvoorbeeld ingevoerde hoenderprodukte.

Dit sal ook geleenthede skep vir klein- en mediumgroot sakeondernemings en ’n bykomende inkomste-stroom vir bestaande wildsboere bied.

Volgens die minister word die potensiaal van die wildsvleisbedryf nie naastenby ten volle benut nie omdat daar nie ’n formele stelsel in plek is vir die produksie, slag en verwerking, verspreiding en bemarking daarvan nie.

Volgens die konsepdokument wat vir die publiek se kommentaar beskikbaar gestel is, is die wildsvleisbedryf tans hoofsaaklik ’n byproduk van die jagbedryf wat op ’n informele en gefragmenteerde wyse bedryf word. Daar is baie min voorheen benadeelde persone betrokke.

Die minister meen daar is baie gemeenskapsgrond wat geskik is vir vlaktewild wat gebruik kan word.

Barbara Creecy, minister van Bosbou, Visserye en Omgewingsake, se Wildsvleisstrategie is op 8 November 2023 in die Staatskoerant gepubliseer waarin sy uiteensit hoe sy die wildsvleisbedryf wil formaliseer en transformeer. (Bron: Verskaf)

Sewe stappe

Richard York, uitvoerende hoof van Wildlife Ranching South Africa (WRSA), het die wildsvleisstrategie in 2022 verwelkom toe die publiek die geleentheid gekry het om daarop kommentaar te lewer.

Hy meen die sewe stappe om die strategie te verwesenlik is ’n tree in die regte rigting om die bedryf meer mededingend en aantrekliker vir beleggers te maak. Hy meen die belangrikste aspek is die wildsraad wat in die vooruitsig gestel word en wat hopelik ook die probleme wat die wildbedryf ervaar kan aanspreek.

Die sewe doelwitte wat teen 2030 verwesenlik moet wees sluit in:

•Die uitbreiding van wildsvleisproduksie van 59 184 ton per jaar in 2022 tot 100 000 ton per jaar;

•’n Toename van 10% tot 85% in die nakoming van regulasies wat wildsvleis vir menslike gebruik geskik maak;

•’n Toename in die aantal voorheen benadeelde persone, insluitend vroue en jeugdige wildboere en ander rolspelers in die wildsvleisbedryf van 4% tot 25%;

•Die skep van 10% per jaar meer werksgeleenthede in die bedryf;

•Die verskuiwing van die informele wildsvleisbedryf as byproduk van jag tot kommersiële wildsvleisproduksie, verwerking en bemarking deur dertig groot produksie-eenhede, vyf groot ondernemings wat vir die oes verantwoordelik kan wees, en nog tien ondernemings wat by die verwerking betrokke is;

•Een miljoen hektaar grond in die besit van gemeenskappe wat toegespits is op wildsvleisproduksie en die gepaardgaande waardekettings; en

•’n Wildsvleisbedryf wat deur verbruikersbehoeftes gedryf word.

Hy meen mentorskap en opleiding vir jong wildboere sal die deurslag gee om verandering te weeg te bring. Maar om die nodige kennis oor te dra gebeur nie oornag nie en dit duur tussen drie en vyf jaar om ’n wildsplaas behoorlik aan die gang te kry.

Wildsvleis kan help om die proteïenbehoefte aan te vul wat nou in ’n mate deur ingevoerde hoendervleis gedoen word. (Bron: Pixabay)

Ander kwessies

Wilddiefstal en onwettige jag is een van die kwessies wat aangespreek sal moet word. Gemeenskappe sal moet verstaan dat die gebruik van strikke om wild mee te vang en jag met honde onwettig is en dat die praktyke die bedryf skade aanrig.

Dieresiektes, en veral bek-en-klou-seer, lê die uitvoer van wildsvleis na talle lande aan bande en slegs volstruis-, sebra- en krokodilvleis word tans na die Europese Unie, Sjina en die Verenigde Arabiese Emirate uitgevoer.

Befondsing kan ’n probleem wees omdat finansiële instansies lugtig is om vir nuwe ondernemings geld te leen.

Toegang tot geskikte grond, gebrek aan infrastruktuur, leemtes in die wetgewing en ’n gebrek aan akkurate inligting oor die mark vir wildsvleis kan ook die proses bemoeilik.

Die wildsvleisbedryf is tans ’n byproduk van die jagbedryf. (Bron: Pixabay

Te min wild

Die grootste probleem is dat daar tans nie genoeg bosveldwild is om eers aan die jagbedryf se behoeftes te voldoen nie. Die tekort jaag die pryse op.

Johan du Toit, direkteur van African Wildlife Auctions (AWA) wat die meeste wild in die land verkoop, meen wildgetalle het nog nie weer gegroei tot die vlak voor Covid-19 nie. AWA verkoop tussen 1 500 en 2 000 stuks wild uit hulle veilingsbomas by Vaalwater in Limpopo.

As gevolg van die tekort raak dit al duurder vir biltongjagters: ’n rooibokooi wat in 2023 R1 200 gekos het, gaan vanjaar R2 200 kos – en dit vir ’n dier wat maar 25 kilogram vleis uitslag.

Hy meen die vraag na wildsvleis dryf ook die pryse op namate al hoe meer vleisverwerkers wildboere nader vir diere soos sebras, kameelperde en swartwildebeeste en waarvoor hulle bereid is om tot R30 per kilogram te betaal. Volgens hom het ’n sebra se prys wat die afgelope twee dekades tussen R3 500 en R4 000 gewissel het, in 2023 gestyg na tot R7 000.

’n Kameelperd kan vir sowat R18 000op ’n veiling gekoop word, waarvan sowat 25% aan vangkoste en kommissie betaal word, wat die boer met R12 000 wins laat. Dit is meer lonend om die kameelperd aan ’n vleisverwerkingsaanleg te verkoop wat hom sowat R24 000 in die sak sal bring.

Volgens Johan du Toit bestaan daar reeds ’n goed gevestigde wildsvleiswaardeketting wat deur die gesondheidsdepartement gereguleer word deur inspeksies van die vleis en die slag- en verwerkingsaanlegte.

Tans word net sebra-, volstruis- en krokodilvleis uitgevoer. (Bron: Pixabay)

Bronverwysings

Creecy publishes Game Meat Strategy for SA(2023) Bizcommunity https://www.bizcommunity.com/Article/196/650/243698.html#:~:text=Creecy%20pub-lishes%20Game%20Meat%20Strat-egy%20for%20SA%2013,was%20ap-proved%20by%20Cabinet%20on%2027%20September%202023.

Consultation on the draft game meat strategy for South Africa (2022) Gazette Number: 47024 https://www.wrsa.co.za/wp-content/uploads/2022/08/Game-Meat-Strate-gy-Comments_Final.pdf

Forestry, Fisheries and the Environment publishes draft Game Meat Strategy for public comment 18 Jul 2022 https://www.gov.za/news/media-statements/forestry-fisheries-and-en-vironment-publishes-draft-game-meat-strategy-public

Growing the game meat industry https://www.dffe.gov.za/sites/default/files/docs/gamemeatstrategyofsouth-africa_crr.section2growingtheindustry.pdf

Karombo, T. (2023) Game meat to transform SA supermarkets: Is that a buffalo, ostrich, impala or crocodile on the menu?IOL https://www.iol.co.za/business-report/economy/game-meat-to-transform-sa-supermarkets-is-that-a-buf-falo-ostrich-impala-or-crocodile-on-the-menu-f156e40c-e0fc-4b17-98ec-6689e680b099

Manoko, T. (2022) SA’s game meat strategy is a real crowd-pleaser. Food for Mzansi https://www.foodformzansi.co.za/sas-game-meat-strategy-is-a-real-crowd-pleaser/

Raats, J. (2024) Wildpryse galop op vraag na jagdiere. Landbou.com https://www.landbou.com/landbou/bedrywe/wild/wildpryse-galop-op-vraag-na-jagdiere-20240115

Publication of the game meat stragegy for South Africa for implementation https://www.dffe.gov.za/.

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment